Hy kry 20 jaar tronkstraf!

0
107
AWB.jpg

In 20 jaar verander die hele wêreld. Wat kan Oscar te wagte wees as hy tronkstraf kry? Voormalige AWB-brigadier Phil Kloppers (61) vertel.

Dis die Sondag voor my vrylating. My vrou en dogter kom kuier vir oulaas by my in die gevangenis. “Volgende Saterdagoggend gaan ék vir Pappa koffie maak vir die eerste keer!” sê my dogter, Chantélle, trots. Al is sy 24, is sy kinderlik opgewonde. Sy was drie jaar oud toe ek tronk toe is. Nou gaan haar pa uiteindelik by die huis wees. Nes sy al die jare haar vriendinne hulle saamwees met hulle pa’s beny het. Dan frons sy. “Maar ek weet nie eers hoe Pappie Pappa se koffie drink nie?”

“Swart en soet,” antwoord ek, nes ek dit oor twee dekades in die tronk leer drink het. My koffievoorkeur sal dalk nooit verander nie, maar as ek hier uitstap, wéét ek: Ek is anders. ’n Nuwe mens. Vandag kan ek getuig dat geen tronk jou kan rehabiliteer nie. Net jou eie keuses kan. Dít het ek op die harde manier geleer.

Dis 1994. Die hoofregter se stem dreun deur die hofsaal. “Philippus Cornelius Kloppers, jy word skuldig bevind aan die moord op so-en-so. Jy sal aan jou nek hang tot jy dood, dood, dood is.” Die koue sweet slaan oor my uit. My ore tuit. Twaalf keer word dieselfde woorde oor my uitgespreek, elke keer met die naam van een van die vier ANC-lede wat deur ons groepie AWB’s by die Rodora-kruising doodgeskiet is. Dit was kort voor die verkiesing en ons was vas oortuig daarvan dat die rewolusie in Suid-Afrika begin het. Ons generaal se opdrag was dat hy “lyke wou sien”. Ons het die opdrag getrou uitgevoer.

Maar dit was geen begin nie. Dit was die einde van die lewe soos ek dit geken het. Ek was ’n 40-jarige man met ’n vrou en kinders. Maar ook wild en wreed as dit by volk en vaderland kom. Nie die ‘lammetjie’ wat jy vandag voor jou sien nie.

Die harde werklikheid het my al daardie eerste dag tot my sinne geruk. Die groepie polisiemanne wat my in hegtenis geneem het, het vir my ’n keuse gegee. “Sê wat julle gedoen het of loop die harde pad.” Ek was geen verraaier nie en het die sogenaamde ‘harde pad’ gekies. Min het ek geweet wat dit sou behels: ’n marteling met elektrisiteit en later ’n binneband waarmee hulle my probeer versmoor het. Ek is vandag ’n parapleeg as gevolg daarvan.

[Pagebreak] “Wie? Wat? Hoe?” het hulle aanhoudend gevra. En tussendeur het die skoppe teen my ribbes en kop geklap. Die pyn was so erg dat ek myself natgemaak het.

Toe die elektriese skokke nie ’n bekentenis oor my lippe kon dwing nie, het iemand op my rug gaan sit, sy knie in my nek gedruk en die binneband om my gesig begin styftrek.

“Here, help my!” het ek geroep, maar daar was geen hulp nie. Duisende gedagtes het deur my kop geskiet. Wat van my vrou? My kinders? Is dit die einde?

In my ore het dit bly hamer: “Waar was jy toe Ek jou geroep het?” Ek het die stem herken. Dit was God s’n, die Een wat ek jare lank aanbid het. Maar êrens het ek die pad byster geraak en gegly tot in ’n modderpoel van sonde.

Die marteling het voortgeduur en ek het drie keer my bewussyn verloor. Ek sou dit nie ’n vierde keer maak nie. “Ek het k***s geskiet!” het ek die woorde uitgespoeg, nog vol van my ‘ou self’ se haat en bitterheid. Hulle was tevrede en het die toue om my lyf losgemaak. Dit was die einde van die marteling.

Ook van my bravade.

Daardie nag het ek op ’n sementblok met twee velle koerantpapier deurgebring. Ek kon nie slaap nie. Alles het onwerklik gevoel, amper asof dit met iemand anders gebeur. Ek was in soveel pyn dat ek kon skree. Maar toe begin ek aan Jesus dink en hoeveel Hy vir mý moes ly. My hele lyf het begin ontspan en snikke het diep uit my borskas geruk. Die trane het vrylik oor my wange gerol. Ek was besig om van binne af ‘gewas’ te word. Die skuldgevoel, mislukking en teleurstelling het uit my geborrel, tot ek uitgeroep het: “Here, vergewe my!” Ek het van die sementblok afgegly tot op my knieë en my sondes bely.

Geestelik was ek nou aan die begin van ’n nuwe pad, maar fisies het daar nog ’n lang opdraande vir my en my gesin voorgelê.

Die dag van my vonnisoplegging is ek na die selle onder die hooggeregshof geneem om my familie te groet. Toe ek en my vrou, Trudie, alleen was, het ek die woorde uitgedwing: “Maatjie, ons is skaars ses jaar getroud. Ek gaan hang, maar julle hele lewe lê nog voor. Los my en gaan aan met jou lewe.”

[Pagebreak] Trudie het my net stil aangekyk: “Is jy simpel? Die Woord sê wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Ek gaan by jou staan.”

En sy het. Twee dekades lank.

My vrylating het nou uiteindelik aangebreek. Die oomblik is gróót. Ek sit klein en doodstil in my nuwe tuiste: ons huis in Rustenburg waar Trudie en Chantélle elke dag sonder my moes klaarkom. Ek voel soos ’n foksterriër wat jare lank ’n motor gejaag het, maar noudat hy hom gevang het, weet hy nie wat om daarmee te doen nie.

Dis ’n benoude gevoel. Ek het gewoond geraak aan die tronkkultuur. Om stil te bly en ’n ‘niks’ te wees. Om met een oog oop te slaap. Nou het ek vryheid, en dis swaar.

Hier in ons sitkamer voel alles vreemd en anders. Al wat ek herken, is Kat, die weggooikat wat ek in die tronk vertroetel het; die staanhorlosie wat ek met ’n lemmetjie en handgemaakte saag gemaak het; en my BIC T-hemp – die naam van my tronkgemeente, Broeders in Christus, wat oor die jare van drie lidmate tot bykans 120 gegroei het.

Die huis is tien keer groter as die enkelsel waaraan ek gewoond was. Daar kon ek met een beweging op die bed, die toilet of voor die lessenaar wees. Nou is alles dóér ver. Selfs die mense, paaie en karre is anders. Alles en almal jaag verby. Die tegnologie maak my bang. Ek skrik nog elke keer as my selfoon lui.

Wanneer ek een keer per week winkels toe mag gaan – ek is in huisarres en op lewenslange parool – raak ek gou verbouereerd omdat dit so besig is. Toe ek Trudie vir ’n hamburger uitneem, verstik ek amper in die kos. Het alles só duur geword?

Daar is oneindig baie om aan gewoond te raak, maar daar is ook die groot lekkerte om my vrou se hand enige tyd te mag vashou. Om ure lank om die eetkamertafel te kan gesels. Om te voel hoe my dogter haar arms om my skouers gooi en styf vasdruk. Wat ’n voorreg!

Dis my eerste Saterdagoggend by die huis en my Bokkie-kind gee trots haar eerste koppie koffie vir Pa aan. Ek vat dit dankbaar uit haar hande. Sluk behaaglik. Dis swart en soet, nes in die tronk.

Maar dit smaak báie lekkerder.

Dis gemaak met onvoorwaardelike liefde.