Hy sal altyd ons eersteling bly …

0
23
regte-pic.jpg

Wiets en Rita Botes het agt jaar lank vir Wiehan gewag. Nege maande lank na hom uitgesien. En hom vyf maande lank geniet. Toe is alles verby …

Yskoue kloue het in my hart ingeslaan … hoekom staan die hekkie oop? Iets is fout. Met elke tree nader aan die huis het paniek in my keel opgekruip. Die deur was gesluit. Het Margrietha iets oorgekom? Binne kon ek ’n kind hoor huil. Dis die dogtertjie na wie ons babaseun se dagmoeder ook kyk. Hy was stil. Gelukkig, het ek gedink.

Ek en Wiets was hoërskool sweethearts. As jy jonk is, pak jy alles met soveel waagmoed aan. Naïef glo jy in die normale verloop van die lewe. Trou, ’n baba, nog ’n baba … Maar dinge het vir ons anders uitgewerk. Agt jaar lank het ons probeer. Na agt kunsmatige bevrugtings en een onsuksesvolle in vitro-bevrugting, was my hart en ons beursie pynlik leeg. Bar. Droog. En toe begin Wiehan in my lyf groei!

Hy was die perfekte klein engel, sy pa se ewebeeld. Sy bulletjie. En ek was tot oor my ore verlief. Dit was beslis die wag werd – die min slaap ook! Net nou die aand skrik ek weer in die middel van die nag wakker, en druk dom-dom my slaperige hand in die rigting van sy wiegie langs ons bed. Maar daar is niks. Net ’n koue, donker, groot niks. En soos elke ander keer, ruk die slaap uit my lyf uit en begin ek saggies huil. Ek probeer dit altyd stil doen. Bang om my man langs my te pla. Maar eintlik weet ek hy sukkel ook om te slaap. Het alles regtig gebeur? Met ons? Met Wiehan?

Het ek ’n voorgevoel gehad? Nee. Is daar dinge wat by my spook? Ja. Die aand voor … dít gebeur het, het ek ’n video van Wiehan gemaak. Hy het uit sy magie gelag. Ek sou ook uit my werk bedank om self na Wiehan om te sien. Wat as dit ’n maand vroeër was? Sy dagmoeder het ’n paar keer gesê sy is bang vir die man wat in haar tuin werk … Hy word nou gesoek in verband met die voorval. Dit is dinge wat soos ’n rillerfliek in my kop vashaak. Dít, en daardie dag.

Ek het uiteindelik ’n venster uitgebreek om in die huis te kom … Gewoonlik het ek elke dag elfuur gebel om te hoor hoe dit gaan. Margrietha het nie geantwoord nie. Eenuur het ek weer gebel. Weer niks. Toe het ek gaan kyk. Die deurklokkie ’n paar keer gedruk en die dogtertjie hoor huil. Binne was net sy. Ek het oral na Wiehan gesoek. In elke kas, onder elke bed. Doodseker dat hy iewers lê en slaap. Eers later, toe die polisie opdaag, het hulle hom gekry. Onder die een bed waar ek nie gekyk het nie. Vermoor.

[pagebreak]

Vermoor … wie vermoor ’n baba? Hy was net vyf maande oud. Hoe? Wat …? Die polisie het Margrietha in ’n mat opgerol in die motorhuis gekry. Ook vermoor. ’n Vrou van 66. Hoe moes sy haarself verweer?

Terug by die huis het die babapoeierreuk nog dik in sy kamer gehang. Agter elke kasdeur was kleertjies, bottels, babakos. Ongeëet. Die doeksak staan reg vir gryp en ry. Waarheen?

En eenkant wag ’n loopring vergeefs vir vet beentjies om lewe daaraan te gee … Ons baba is dood.

In Mei vanjaar het ons lewe in een dag só verander dat ek soms vir ’n vreemdeling in die spieël kyk. Daar is tye waarvan ek niks kan onthou nie, en ander gebeure word wreed uitgerek. Op die begrafnis was ek en Wiets in ’n dwaal. Daarna is ons Stilbaai toe. Dalk sou dit help. Om weg te kom … stil te word … maar dit het alles erger gemaak. Dit het die eensaamheid in my hart onder ’n vergrootglas geplaas.

Daardie dag het ek in die dagmoeder se huis in ’n bondeltjie neergesak. Huil is die verkeerde woord. Breek klink ook te sag. Vermorsel. Ek was vermorsel. My lyf het opgestaan en beweeg. Maar my hart het daar bly lê. Moontlik sal ’n stukkie altyd daar wees …

Maar ek en Wiets kon amper onmiddellik ervaar hoe ander se gebede ons dra. Wanneer jy in so ’n donker lugleegte beland, is God jou enigste werklikheid. Juis dan is Hy daar. Innig. In ’n oomblik kon ons ervaar hoe sleg een mens kan wees, maar ook hoe goed duisende ander kan wees.

Ons vind berusting daarin dat God nie ’n haar van Wiehan se hoof sou laat afval sonder dat dit Sy wil sou wees nie. Wiehan het nie verniet gesterf nie. Selfs daarin moes daar ’n doel gewees het. Hy is nou in die hemel. En hy was nie alleen in daardie laaste oomblikke nie. Dit kan nie anders wees nie.

[pagebreak]

Wiehan is al twee maande lank weg. Maar die onwerklikheid daarvan sleep soos ’n giftige vrag agter my aan. Dis dodelik om daaraan te dink. Dis dodelik om dit te probeer vergeet. Dis dodelik om daarmee saam te leef … Sonder God sou nie ek of Wiets die krag gehad het om aan te gaan nie. Dit is ’n wonderwerk dat ons nog hier is. Ons het albei ’n maand se spesiale verlof by die werk gekry. Dit was ’n wonderlike gebaar. Maar hoe word jy heel in ’n maand? In ’n jaar? In ’n leeftyd. En nou gaan die lewe aan. Sonder Wiehan.

Selfs met al die ondersteuning en liefde bly hierdie ’n bitter pad om te stap. Kort na die moord het ons die privaat speurder Mike Bolhuis gevra hom te help. Hy het dadelik ingestem, op voorwaarde hy doen dit verniet. Miskien kry ons ’n bietjie troos in geregtigheid. Miskien nie. Dis so vreemd … al is dit hoe swaar, is my geloof sterker as ooit. Ek was nog nooit so naby aan my Skepper nie.

Sal ons weer ʼn baba hê? Beslis. So gou moontlik. Sommer vyf! Nie een van hulle sal ooit Wiehan wees nie. Hy sal altyd ons eersteling bly. Ons rustige engelkind. Maar ek en Wiets het nog soveel liefde om te gee. Mike het ook daarop aangedring om vir ons volgende in vitro-behandeling te betaal. Hy wil ons so graag help om weer ’n baba te hê. Daar is nog baie goedheid in die wêreld oor.

Daar is nie ’n handleiding wat jy kan volg om so iets te hanteer nie. Maar elke mens kry genoeg genade om dit wel te kan doen. Ons sal weer vreugde ervaar. Die blydskap sal weer kom. Ek moet dit eenvoudig glo. Dit help nie om bekommerd oor môre te wees of om in vrees en verbittering te lewe nie. “Wat as?” en “sê nou maar …” gaan niks verander nie. Ons mense se begrip is heeltemal te min om die kosbare, groter plan te sien. En ek wil ophou probeer. Ek weet die pyn sal mettertyd ’n lagie oor kry, want ek dien ’n getroue, genadige God.