Hy weet wat jy nodig het

222
Liesel Krause-Wiid

Ons lewe teen ’n ongesonde pas. Ons is moeg, “op” gewerk, bekommerd, angstig en gestres. Ons dink ons pogings bepaal die uitkoms van ons lewe …

Ons dink ons is ons eie voorsieners! Dat ons in beheer is en self moet sorg. Dit lei tot angstigheid, bekommernis en vrees vir môre.

Nadat jy jou deel gedoen het, vertrou die Herder

Toe ek onlangs vir ’n vriendin vertel dat ek oorwerk en oormoeg voel, antwoord sy my: “Liesel, dit klink vir my jy dink jy is jou eie voorsiener. Dit is God se werk!” Haar woorde het my diep laat nadink oor die pas waarteen ek leef.

In Bybelse tye was ’n herder dag en nag by sy skape. Hy moes die skape na plekke met water en grasvelde lei. Herders moes ook weerlose skape teen wilde diere beskerm sodat hulle nie verskeur word nie. ’n Goeie herder sou sy lewe vir sy skape op die spel plaas. Dit is wat die Goeie Herder ook vir ons doen. Hy sorg en versorg sy kinders elke dag.

Natuurlik is ons medewerkers hier op aarde, en moet ons ons gawes en talente uitleef en goeie rentmeesters wees. Maar nadat jy jou bes gedoen het, kan jy asemhaal, ontspan en weet God bepaal die uitkoms!

Ons kan nie lewe skep of groei bewerkstellig nie

Jy hoef jou nie katswink te werk of gedurig bekommerd oor môre te wees nie. Doen jou bes, maar jy hoef nie jou beste te vertrou nie. Jy kan die Vader vertrou wat die toekoms reeds ken! Jy kan die leisels oorgee en soos ’n kind vertrou. Dit is bevrydend.

Daar is ’n pittige staaltjie wat vertel van ’n jong monnik wat in ’n klooster se tuin gewerk het. Hy het die tuin pragtig onderhou. Dit was ’n lushof. Op ’n dag het die priester die klooster besoek en terwyl hy deur die tuin gestap het, gesê: “Is God se tuin nie pragtig nie!” Die jong monnik het mismoedig begin voel, want hy het tog ’n aandeel in die mooi tuin gehad. Hy het dit immers onderhou. Die monnik sê toe ewe droog vir die priester: “Jy moes gesien het hoe dit gelyk het toe dit net God se tuin was.”

Die storie het wel ’n duidelike boodskap – mense kan onderhou en goeie rentmeesters wees, maar ons kan nie lewe skep of groei bewerkstellig nie. Ons kan nie reën uit die hemel laat val nie.

Leef afhanklik en raak ontslae van jou angs

Ek hoef nie in beheer te probeer wees nie, ek kan oorgee. Ek kan in afhanklikheid van ons Voorsiener leef. Ons wil tog so graag die pad ken, en weet wat die toekoms inhou. Maar wanneer ons die Herder ken, kan ons ontspan, want die pad is reeds bekend.

Lees Psalm 23 en ervaar hoe jy met liefde en troos toegevou word terwyl jy dit lees. Ironies genoeg sukkel ons om “skapies” te wees. Ons wil eerder leeus of renosters wees wat in beheer en onafhanklik is.

Tog, op ’n vreemde manier, troos dit ’n mens om te weet dat ons skape is wat aan Iemand behoort. Dit bevry jou wanneer jy besef jy is nie verantwoordelik vir die uitkoms van jou lewe nie. Daar is Een wat sorg, en jou optel wanneer jy val.

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer artikels van Liesel.