Illse Roos: my jaar van dapperheid

0
346
Illse Roos

Dit was nie net ’n verhuising nie, maar ’n skeiding tussen Illse Roos en haar man. Hulle grootste avontuur nog.

Dit waaroor jy nog droom, is skielik binne bereik

As ek ’n boek sou skryf oor ons gesin se belewenis van 2013, sal ek dit Dankbaarheid noem, met die subtitel MBSIF (Mountain Behind Sea In Front). Die afgelope paar jaar was epies, maar ons het nou genoeg stories om eendag ons kleinkinders mee te vermaak.

Elke avontuur begin by ’n droom. My en Gary se droom was om eendag by die see te bly. Ja, ek weet Koos Kombuis sing “almal wil ’n huisie by die see hê”, maar ek dink vir ons was dit meer as net ’n wens. Dit was vir ons ’n terugkeer na ons wortels. Gary is ’n surfer boy van Oos-Londen en vir my het water, berge en die Kaap nog altyd ’n onbeskryflike bekoring ingehou.

Omdat ons kinders in Gauteng gebore en getoë is, wou ons hulle nie ontwrig nie. Die Kaapse skuif was nog altyd rondom hulle skoolloopbane beplan. Eers as die oudste matriek geskryf het, sou ons kon gaan. Natuurlik is die meeste werk in my bedryf in Gauteng en met my rol destyds in 7de Laan het ek ’n gerieflike vaste inkomste gehad.

Toe beland daar ’n meevallertjie in ons skoot. Gary is in bemarking en ook ’n life coach. Hy het ’n vriend in Lagos oor die foon en met Skype gecoach. Toe dié na ’n ander maatskappy skuif, het hy Gary vir sy pos voorgestel. Hy sou verantwoordelik wees vir die bemarking van ’n maatskappy wat koeldrank maak en bottel. Die uitdaging: Die maatskappy is in Lagos, Nigerië. Ek en die kinders sou hom lang tye nie sien nie. Die werksaanbod was onverwags, maar indien hy dit sou aanvaar, sou ons twee jaar vroeër Kaap toe kon verhuis.

Ek dink ons hele gesin het die begeerte gehad om eenvoudiger te leef, minder gejaagd. Ons wou minder, maar meer, hê. As Gary in Nigerië gaan werk, sou dit ons nader aan ons droom bring, maar ook baie ontwrigting veroorsaak en opoffering van almal verg.

Ek en Gary kon nie alleen hierdie besluit neem nie. Die seuns moes hulle ook heelhartig by die MBSIF-benadering skaar.

Ons het Simonstad toe gegaan en vir die kinders gewys waar ons hoop om huis te kan koop as Gary die aanbod aanvaar. Daardie dag het ons vier reënboë gesien – een om elke draai. Dit was darem net te veel gewees om te ignoreer. Ons het dit as tekens beskou.

[pagebreak] Daar was nie kans vir doekies omdraai nie. Die gesprek was baie eerlik. ’n Huis in die Kaap was die einddoel, maar almal sou bereid moes wees om vas te byt. Dit sou vir seker nie maklik wees nie. Om gouer in die Kaap te kom het gewen!

En toe beland daar ’n stok in ons wiel! Ons kon nie in die middel van die jaar vir die kinders plek kry in skole nie. Dis nie soos in die ou tyd toe die skool net ’n ekstra bank ingedra het nie. Dis ’n hele proses. Ons moes alles uitstel: die verkoop van ons huis in Johannesburg, die koop van ons huis in die Kaap. Nadat alle partye ’n maand grasie gegee het, het plan B in werking gekom.

Tydens die September-skoolvakansie trek ek en die seuns met ons honde en al Kaap toe. Ons kry iemand om na ons nuwe huis en die honde in die Kaap te kyk terwyl ek en die seuns in vriende se tuinwoonstel in Johannesburg intrek sodat die kinders hulle skooljaar daar kon klaarmaak. Gary bly tot Desember in Lagos. Die feit dat alles so goed uitgewerk het, wys jou dit was so bestem.

Om van jou man geskei te wees, al is dit tydelik

Gary se aanvanklike ses maande in Lagos het uiteindelik 18 geword. ’n Jaar en ’n half is verskriklik lank, maar ek dink ons kon dit hanteer omdat die einde met elke ses maande altyd in sig was.

Dit was vir die kinders baie swaar om vir die eerste keer in hulle lewe hulle pa nie elke dag fisies te sien nie. Om elke keer totsiens te sê was moeilik. Om Gary elke keer alleen by die Gautrein te gaan aflaai, was moeiliker. Op pad terug het ek gewoonlik my oë uitgehuil en gehoop al die traanmerke is weg teen die tyd dat ek by die huis kom.

Sulke tye was MBSIF ons redding, ’n konstante fokus oor hoekom ons dit doen. Hou die groter prentjie in gedagte, jou oog op die bal. Genadiglik het ek die gawe om te doen wat gedoen moet word. My totale doel was om die bus op die pad te hou. Visueel was ons lewe by die see net so sterk voor my geestesoog dat niks dit kon afskaal nie.

Nog ’n definitiewe redding was dat almal deel was van die besluit. Daar was nooit verwyte nie.

Tegnologie het beslis baie gehelp. Oproepe van Lagos af is goedkoop en Gary en die kinders was pal aan die gesels op BBM. Op ’n vreemde manier was ons meer connected as ooit tevore.

Al was ons nie fisies in mekaar se ruimte nie, het ek my en Gary in hierdie tyd nie regtig as “weg van mekaar” beskou nie. Ons het eerder gedistilleerde, meer intense, kontak gehad. Jy deel amper meer, waardeer die tye saam, elke oomblik tel.

[pagebreak] Die trek met die kinders, honde, motor, bakkie en waentjie in September was soos ’n regte road trip. Die gevoel om weg te ry van waar jy 17 jaar gewoon het, die enigste huis wat my kinders geken het, het baie emosies losgewoel.

Daardie aand het ons oorgeslaap op ’n plaas buite Richmond met sterre so groot en naby jy kon hulle pluk. “Nou’s ons eintlik huisloos. Ons huis in Johannesburg is iemand anders s’n, die een in die Kaap nog nie regtig ons s’n nie,” het Matthew nog opgemerk.

Daardie gevoel van vryheid, tussen stasies, met die grootsheid van die Karoo om my, sal my altyd bybly. By my kinders ook.

Ons het daardie aand met vrede in ons hart gaan slaap. Wat ons doen, is reg. Hoe dit nou is, is hoe dit moet wees.

Uiteindelik is ons wérklik tuis, as ’n gesin

Dit is nie dat ons ongelukkig was in Gauteng nie. Ek mis al klaar die donderstorms en ons het wonderlike vriende daar. Dit was maar net ons tyd om die pad te vat.

Om gelukkig te wees is om te doen wat jy weet reg is. Maar vrede en geluk loop vir my hand aan hand: As jy vrede in jou hart het daardie paar oomblikke net voor jy aan die slaap raak, is jy gelukkig.

Ek is oneindig trots op Luke (17) en Matthew (13). Dit is nie vir tieners maklik om as nuwe kinders in ’n vreemde skool aan te pas nie, maar hulle het letterlik soos visse in die see aangepas. Hulle het alles so goed hanteer en hulle punte het nooit gedaal nie. Saam met ons het hulle die wa deur die drif getrek. Ek dink hulle het beslis sterker en meer volwasse anderkant uitgekom. My kinders weet nou wat beteken “what you put in is what you get out”.

Ek is ook baie trots op myself. Nou weet ek ek is ’n baie tawwe koekie. As ek nou terugkyk, kan ek nie glo ek het dit gedoen nie. Dis eers wanneer jy uit jou gemaksone kom dat jy jouself werklik leer ken.

[pagebreak] Selfs op my en Gary se verhouding is ek baie trots. In Oktober was ons 20 jaar getroud. Sonder dat jy dit besef, raak jy gewoond aan mekaar, aanvaar mekaar as vanselfsprekend.

Vir my was hierdie tyd bemagtigend. Ek het besef dat ek op my eie kan oorleef, maar dat dit my keuse is om saam met Gary te wees. Ons kyk weer met nuwe oë na mekaar, waardeer mekaar, het mekaar se goeie en slegte punte weer herken. Ons moes diep gaan grawe, omtrent daar by Dawid se wortels, maar met ons rug teen ’n berg, ons voete in die see en met die engele om ons, is ons daardeur.

Soms moet ’n mens baklei vir ’n droom. Die verwesenliking van daardie droom is uiteindelik soveel kosbaarder. Ek besef elke dag hoe bevoorreg ons is. Die sonsopkoms oor Stellenbosch se berge is magies as ons so kuslangs kronkel skool toe. Die pas is stadiger, maar my siel het hier vlerke gekry.

Kersfees gaan ons op Mooiplaas deurbring. Almal moet daar wees. Dis tradisie. Ons dek ’n lang tafel en maak beurte met die kosmaak. Dis ’n aand van familie, omgee, heerlike kos, wyn en dankbaarheid.

En terwyl ek daardie aand aantrek, sal ek weer my grys hare raaksien. Ek nie tyd of energie gehad vir henna nie. En toe ek myself weer behoorlik bekyk, sien ek platinum streaks! Maar ek het besluit dis funky! Ek beplan om met lang, silwer hare kaalvoet in my Levi’s die pad verder te loop, want soms moet jy net vertrou... en spring!