In-beheer joernalis gee beheer oor aan God

0
113
sunette_visser.jpg

Sunette Visser (Groepsredakteur: Capital Media) was baie opgewonde oor haar eersteling se koms, maar haar vreugde is gou oorskadu deur ’n magtelose vrees oor wat vir haar baba voorlê…

Ek slaak ’n sug van verligting. Ons seuntjie, Luan, is so pas gebore. Hy word haastig deur die suster toegedraai en onmiddellik van my af weggeneem. Ek vermoed geen onraad nie.
Dis seker normale prosedure. Wat kan in elk geval skeefloop? Die voorgeboortelike sonars het nie een keer iets ongewoons gewys nie.

Toe ek egter sekondes later my man, Ludvich, se gesigsuitdrukking sien, voel dit of my hart in ys verander. Daar was groot fout. Luan is met klompvoetjies gebore – ’n toestand wat veroorsaak dat die voetjies so erg na binne gedraai is dat die sool nie plat op die grond kan rus nie.

Ek was alreeds senuweeagtig oor die geboorte van my eersteling, maar in die ure daarna beleef ek ’n warboel emosies. ’n Oorweldigende angs lê my skielik lam, en die onsekerheid oor wat die toekoms inhou, dryf my tot raserny. As joernalis leef ek op feite en antwoorde, maar niemand kan vir my sê wat hierdie toestand veroorsaak het of hoe ons dit gaan regmaak nie. Skaars ’n week later kom die tweede skok. Luan word in die neonatale intensiewesorgeenheid opgeneem met dubbele longontsteking.

Nie lank daarna nie is my pa in ’n ernstige motorongeluk betrokke en daar word ook vir sý lewe geveg. Boonop moes Luan verskeie groot operasies ondergaan om sy voetjies reg te maak.
Dit was ’n verskriklike tyd waar ek dikwels tussen hospitale moes jaag. Weens al die pyn en ongemak het Luan ook baie min geslaap, en as hy wakker was, het hy byna onophoudelik gehuil. Gou was ek totaal en al uitgebrand en oorweldig.

Baie dae het ek nie kans gesien om uit die bed uit op te staan nie. Gelukkig was daar die wonderlike ondersteuning van my man, my ouers en my lieflike ousus… en God se hand was duidelik sigbaar. Vandag is my mooi, goedhartige seun ’n sesjarige huppelkind wat elke aspek van die lewe geniet. Al wat hy oorgehou het, is ’n lang litteken aan elke voet, wat sy maatjies tans baie beïndruk.goeie_nuus.jpg

Ek het waardevolle geestelike lesse hieruit geleer. Vir iemand wat geneig is om te veel te beplan en in beheer van alles wil wees, het ek geleer om te aanvaar dat God aan die stuur is. Hy het reeds my pad uitgelê – ongeag my planne.

Ons onderskat ook soms die innerlike krag waarmee Hy ons seën. In my uur van nood het ek die versekering gekry dat Hy by ons, om ons en in ons is. Dit is vir my goed genoeg.

Besoek www.rekordeast.co.za