In Daniël, en koning Darius, se skoene  

My tweejarige seuntjie se kinderstorieboeke het my weer van ‘n hele paar Bybelstories kom herinner, stories waarvan ek eintlik al lankal vergeet het. Een so storie is Daniël se storie.

Ek begin toe weer Daniël te lees, hoe die Here sy vriende uit ‘n vuuroond gered het, waar hy die skrif teen die muur moes verduidelik het en ook weer die storie van die leeukuil. En dit was toe die leeukuil storie wat my sommer weer diep kom tref.

Daniël het presies geweet wat met hom kon gebeur as hy aanhou om God te dien, en as iemand sou uitvind kon dit drastiese gevolge vir hom inhou, maar hy het geweet wie die God is wat hy dien, en dat sy God groter is as enige gevolge. Nodeloos om te sê, is hy betrap waar hy God aanbid, hy is in die leeukuil gegooi om deur leeus verskeur te word. Maar God het hom beskerm.

Ek plaas myself toe in Daniël se skoen, en wonder of ek ook so vas in geloof sal staan wanneer my lewe daarvan afhang. Sal ek, wanneer tye regtig baie swaar is, of wanneer ek voor groot besluite staan, aanhou om God te aanbid? Ek hoop so, ek bid baie daaroor.

Soos ek die storie ook met dames by die werk deel, sê my een kollega hoe sy eerder haarself in koning Darius se skoene plaas. Hy het ‘n sagte plek vir Daniël gehad, en toe hy hoor dat hy Daniël in die leeukuil moet laat gooi het hy planne begin maak om Daniël se lewe te red. Uiteindelik het die koning opdrag gegee en daardie aand ‘n slapelose nag gehad omdat hy so bekommerd oor Daniël was. Dit alles net omdat hy sy ore uitgeleen het aan mense se slimpraatjies en blindelings voortgegaan het.

My kollega deel met my hoe sy ervaar dit is dieselfde met ons land se regerig. Hulle val baie gou onder die invloed van mense wat verskuilde agendas het en maak dan oningeligte besluite wat baie drastiese nagevolge vir ons land inhou, en veroorsaak dat baie mense slapelose nagte ervaar.

Ons kan hierdie as ‘n geleentheid gebruik om aan te hou om God te dien en te aanbid, om aan te hou om vir ons land en regering te bid omdat ons weet die God wat ons dien is groter as enige gevolge. God gebruik Sy dienaars as instrumente om enige iemand aan te raak, selfs iemand in ‘n hoë posisie, net soos Daniël ‘n invloed op koning Darius gehad het.

Koning Darius het op die einde mense aangemoedig om die God van Daniël te aanbid:

“Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig;
sy koninkryk sal nie vernietig word nie,
sy heerskappy sal nooit eindig nie.
Hy red en bevry,
Hy doen tekens en wonders
in die hemel en op die aarde;
Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.” ~ Daniël 6:27

Mag jy vandag jouself in Daniël, en koning Darius, se skoene plaas en besef dat God groter as enige situasie of nagevolg is. Hou aan om God te aanbid.

Seënwense,

Stephanie