In die wêreld saam met God

Dit is November. Elke tweede pasiënt is moeg. Dis die tyd van die jaar.

Die ekonomie druk swaar. Die politiek is steeds onbestendig.

Mense is moeg, bekommerd en moedeloos.

Net die vorige aand word ons van ver af betower deur oranje strepe teen die berg. Dit sou mooi kon wees as dit nie was dat dit eintlik vuurvlamme was van ‘n weghol veldbrand nie. Vier huise word verwoes en die noodkrete kom in. Hulp vir die dapper brandstryders en klere vir mense wat alles verloor het.

Ons sug, want dit hou net nie op nie. Die een slegte berig na die ander. Ons pleit soos die digters in die psalms.

In my stiltetyd die volgende oggend val my oog op die opskrif in Johannes 17:

Jesus bid vir sy dissipels.

Dis nogals ‘n lekker gedagte wat my hart laat warm klop. Dat Jesus regtig ook iets verstaan van die vreemde wêreld waarin ons leef.

Tog verras Sy gebed ons op ‘n manier. Hy bid eintlik nie vir die wêreld nie, maar vir ons.

“ Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie maar dat U hulle van die Bose moet bewaar.”

Ek blaai na die stukkie in Efesiërs oor die wapenrusting. Dis die gereedskap wat die Here vir ons gegee het om staande te kan bly. Die waarheid, God se vryspraak, die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig, geloof, verlossing en die woord van God.

Die Here maak ons nie passief in die wêreld nie. Hy vat ons ook nie uit hierdie wereld nie. Ons is dalk nie ván hier nie, maar dit is waar ons nóú is. Hy maak ons ook nie lafhartig nie. Wanneer ons moedeloos word kom Sy bemoediging: Onthou, Ek het die wereld reeds oorwin.

“Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind.
Soos n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die
Here, Israel, nou en vir altyd.” Die skaapwagter se woorde in psalm 131 maak my ook rustig.