In God se skoonheidsalon

Nina Smit skryf in een van haar boeke hoe sy tydens ‘n besoek aan Namibië ‘n groep vroue op Vrouedag toegespreek het.

Elke vrou het daardie dag ‘n gratis make over in God se skoonheidsalon gewen, en vandag wen jy ook een!

Welkom by God se skoonheidsalon

  1. Kom sit by die wasbak. Laat sak jou kop in die water van God se genade en laat Hom toe om die ongelukkigheid uit jou kop te masseer met sy liefde. Laat Hy jou hare sny sodat jy ontslae kan raak van dinge wat jy onnodig met jou saamdra: skuldgevoelens, selfverwyt, bitterheid en onvergewensgesindheid.
  2. Vir ‘n manikuur moet jy God toelaat om die ou, stuk-stuk afgedopte naellak van afskeep en nalaat om die regte dinge te doen van jou naels af te haal, sodat jou hande weer mooi en bruikbaar kan word in sy koninkryk. Laat Hom toe om die growwigheidjies van besigwees met allerhande onbelangrike dinge wat nie noodwendig sy goedkeuring wegdra nie, af te skuur, en jou hande te doop in die helende balsem van sy bloed sodat jy Jesus se hande op aarde kan word.
  3. Vir ‘n gesigbehandeling moet jy God toelaat om die onderlae van hardnekkige sonde laag vir laag af te stoom met die water van die Heilige Gees sodat jy gesuiwer voor Hom kan staan. Laat Hom toe om jou verstopte porieë oop te stoom en met Homself te vul sodat Hy jou kan gebruik.
  4. God wil jou ook ‘n ontrimpelingsbehandeling gee deur jou fronsplooie met lagplooie te vervang. Hy wil hê dat jy sal jubel omdat hý die bron van jou vreugde is, en nie jou omstandighede nie.
  5. Verder wil Hy die vet van die eie-ek eens en vir altyd uit jou suig, sodat jy slank en gesuiwer, net met die volheid van die Heilige Gees in jou kan leef.

Mag jy vandag hierdie make over geniet en verfris nie nuwe dag van more aanpak.

Seënwense,

Stephanie