“In ’n wolk dwarsdeur ’n ongeluk”

Monte en Cathy Jordaan

Daar is tye wanneer ons eie planne geen effek op ’n situasie het nie, slegs Sy almag. Dit het Monte Jordaan een reënerige dag besef.

’n Man kom na ons toe aangehardloop en hy skreeu: “Julle is so gelukkig. Só gelukkig!” Totaal oorbluf kyk ek om my rond en sien net motorwrakke.

’n Vragmotor het ’n ander motor probeer verbysteek en trompop met ’n paar voertuie gebots. Ons s’n moes een van daardie motors gewees het, maar dit was nie.

Dit was ’n reënerige wintersdag. Ek en my vrou, Cathy, was in Worcester vir ’n vriend se begrafnis. Ek was hartseer en tegelykertyd vol vrede, want ek het geweet dat hy op ’n beter plek was. Dat hy tuisgekom het.

Op pad terug huis toe het ons hewige verkeer op die N1 teëgekom. Dit was druk besig in albei rigtings.

Maar toe, ’n entjie buite die dorp, op ’n reguit stuk pad, gebeur dit. In ’n oogwink (wat na minute voel) raak alles skielik spierwit – soos ’n miswolk rondom ons motor!

Nie een van ons twee het ’n benul wat aangaan nie. Die volgende oomblik vlieg stukke metaal en ander materiaal deur die lug, terwyl daar absolute stilte binne-in die motor is.

“Wat gaan aan?” vra Cathy geskok. Ek sien hoe die stukke in stadige aksie na ons toe aangevlieg kom, net soos in ’n fliek. Dan hoor ek iets soos ’n sterk wind aan die buitekant.

Ek hoor die getik van metaal wat op ons voertuig se bakwerk en ruite val, maar dit val saggies en onwerklik, asof in ’n droom. Die volgende oomblik is die wolk weg en is dit weer helder buite.

Ons skrik toe ons uitkyk. Daar is ’n motorwrak links voor sonder ’n dak, deure en enjin. ’n Jong man hang leweloos by die kar uit. Cathy gil. “Hier was ’n ongeluk!” roep sy uit.

Die wit bakkie wat agter ons gery het, is ook trompop getref. Hoe die vragmotor, wat nou aan dieselfde kant van die pad is, by ons verbygekom het, is onverklaarbaar.

“Julle is so, só gelukkig,” sê die man wat na ons toe aangehardloop kom, weer ’n keer. Geluk? Nee wat. Ek weet dit het niks met geluk te doen nie, en daarom antwoord ek: “Nee, die Here het ons beskerm.”

Ons is daardie dag op ’n ondenkbare, bonatuurlike manier gered. Ek loof en prys die lewende God wat ons toegevou het en deur die ongeluk geneem het.

Ons voertuig het byna geen skade opgedoen nie. Nie een van ons twee het eens ’n skrapie opgedoen nie. Dit wys ’n mens net, as Hy iets wil doen, kan niks in Sy pad staan nie.

Daardie dag het ek by ’n oop graf gestaan en ’n vriend begrawe. Ek het die dood gesien en ook self ternouernood ontkom. Maar wat ek veral ervaar het, was die krag van die lewende God. Daardie ervaring van absolute vrede te midde van absolute chaos sal ek nooit vergeet nie.

BID SÓ VIR ’N WONDERWERK

Ons kan soms nie verstaan hoekom slegte dinge met goeie mense gebeur nie. Beteken dit dat God beheer verloor?

Nee, Hy is almagtig. Dit beteken egter nie dat dit so beplan is dat Adam moes sondig omdat alles wat op die aarde gebeur,

Sy wil is nie. Anders kan ons redeneer dat allerhande lelike dinge ook deel van die groter plan is. Soos dat die vliegtuie in die Wêreldhandelsentrum in New York ingevlieg het. Of dat daar soveel geweld en hartseer en oorloë is.

Elkeen het ’n keuse gekry. Ons kan besluit om ons eie wil te laat geld. En die gevolge daarvan dra. Of ons eie plannetjies laat vaar en eerder help om die wêreld ’n beter plek te maak.

Dis belangrik om die hele prentjie te probeer sien. Of eintlik net te vertrou dat daar ’n ander realiteit is as joune. Dan is jy besig om jouself, jou keuses en jou liefde totaal ondergeskik te stel aan jou geloof.

Jy moet besef dat jy deel kan wees van die wonderwerke wat vandag nog steeds gebeur. Want die Een wat in beheer is, het alles haarfyn uitgewerk.

Lodewyk Spies