Inspirasie vrou 2013

0
57
Finesse_inspirasie_vrou.png

Elke vrou is soos ’n storieboek. Die verhaal een van liefde, passie en inspirasie. Ons wil inspirerende vroue eer vir die werk wat hulle doen en die lewens wat hulle aanraak. Wie inspireer jou?

Wie maak jou dag?

FINESSE wys elke jaar ’n Inspirasievrou aan. Dis daardie vrou wat jou die moed gee om vas te byt en aan te gaan. Die vrou wat almal se dag met haar glimlag verhelder.

Wie inspireer jou?

Hierdie jaar maak ons weer so, maar in plaas van een Inspirasievrou, soek ons twee! Hier is jou kans om seker te maak daardie niggie, ma of vriendin wat so besonders is, kry die erkenning wat sy verdien. Saam met die bekende persoon, wil ons vir ’n gewone vrou ook ’n platform gee om haar storie te vertel.

Wat moet jy doen?

Gaan maak vir jou ’n koppie tee, en dink lank en diep oor vroue wat ’n verskil maak. Trek dan jou rekenaar nader en nomineer een bekende persoon en een gewone vrou. Vertel vir ons in 100 woorde oor elkeen hoekom jy daardie vroue nomineer. Niks meer as 100 woorde nie! (Anders tel jou nominasie nie. Jy kan wel minder woorde gebruik.)
Jy kan ook meer as een vrou in elke kategorie nomineer (bekende en gewone vrou). Onthou om by elke nominasie te verduidelik (in 100 of minder woorde) hoekom jy haar nomineer. Stuur asseblief ook ’n foto saam van elke gewone vrou wat jy nomineer. Geen nominasie sonder ’n foto of beskrywing sal oorweeg word nie.

Kliek hier om jou nominasie te stuur voor 13 Mei 2013.
Ons kan nie wag om van jou te hoor nie! Laat die nominasies instroom!

FINESSE-vroue is fantasties!

Uit julle nominasies gaan daar vyf bekende en vyf gewone vroue as finaliste gekies word. Tydens die Inspirasievrou-funksie op 8 Junie 2013 gaan ’n wenner in elke kategorie aangewys word. Ons sal jou op hoogte hou – dit is ’n geleentheid wat jy nie moet misloop nie.

Wie is in 2012 gekies?

Lindie Strydom was verlede jaar se wenner en sy het almal tot in trane geïnspireer! Sy was die plattelandse rabbedoe wat ’n rol in Egoli losgeslaan het. En toe word Lindie Strydom ’n inspirasie vir soveel mense landwyd wat vergeet het hoe om te droom. Vandag leef sy haar roeping uit as projekbestuurder by Solidariteit se Helpende Hand-beweging waar sy dien, doen en geniet!

“Ek glo ’n mens móét groot droom. Ouens soos Abraham inspireer my,” het Lindie vertel. “Sy eerste uitdaging was nie om sy seun te offer nie, maar die Here het vir hom gesê: ‘Trek noord.’
Dit laat my wonder oor wat ék sou doen as daar vir my gesê sou word om noord te trek! Maar soms moet jy gehoorsaam wees en daardeur gaan – só strek die Here jou geloof en jou vermoë om groter dinge te doen. Ek glo dat hoop en drome ’n nalatenskap vir jou kinders is. ’n Baie kosbare nalatenskap.

“Sodra jy oor iets begin droom, word jy uitgedaag om dit in ’n realiteit te omskep, om dit waar te maak. Drome is soms so verwarrend, dit beteken ook verskillende dinge vir verskillende mense. Maar jy moet groot droom, moenie jou droom in ’n boksie sit nie (al is dit ’n reusekartonboks!).

Doen dit!

Ons wil weet wie inspireer jou! Deel daardie wonderlike vrou se storie met ons sodat meer mense deur haar lewe aangeraak kan word. Laat die inspirasie vlam vat!