Integriteit is waarna ek kyk

3836

Sangeres Jennifer Zamudio het al vroeg en uit dure ondervinding geleer dat as jy mense nie respekteer nie, dit meer van jou sê as van hulle.

Mense het al dikwels op sosiale media goed vir my gesê het wat my bloeddruk opgejaag het. Dan moes ek eers mooi dink eerder as om sommer dadelik kommentaar daarop te lewer. As kunstenaar is dit altyd ’n uitdaging. Ons kan nie beheer wat ander mense sê of doen nie, net hoe ons daarop reageer.

Om sommer op jou perdjie te spring is geen manier om respek te wen nie. Dit is net integriteit wat dit verdien. Een teken daarvan is om te weet waar om die streep te trek tussen eerlik en reguit wees, maar ook om nie “te reguit” te wees nie.

Niemand gaan jou regtig respekteer net vir jou posisie of titel nie. Dit gaan oor jou karakter. Mense kan dit sien in hoe jy hulle behandel, in jou liggaamstaal en stemtoon. Die eienskap wat ek die meeste respekteer, is integriteit, wat weerspieël word in alles wat hulle doen of sê, of dit nou op ’n persoonlike of besigheidsvlak is.

Behalwe vir my ouers, is Anneli van Rooyen een van ’n handjievol mense na wie ek regtig opsien. Dis die manier hoe sy met mense praat en hoe sy hulle behandel, ongeag wie hulle is. Sy het soveel insig en takt, maar tog kan sy baie ferm wees. Daar was so ongelooflik baie om by haar te kon leer.

Daar was ’n tyd in my loopbaan dat my vorige platemaatskappy my net as ’n kunstenaar gesien het. Met ander woorde, jy kan sing en niks meer nie. My insette het nooit gewig gedra nie, en hulle het my nie as mens erken nie. Dit was baie frustrerend, veral as dit by die besigheidskant van my loopbaan gekom het. Die enigste raad was om uit daardie situasie uit te kom.

Dit het my net gewys dat mense maklik heeltemal te veel waarde koppel aan iemand se aansien of status. Dit beteken nie noodwendig dat hulle goeie karaktereienskappe het nie. Dikwels laat daardie bietjie mag hulle perspektief verloor, en ander mense word dan as minderwaardig beskou.

Om ’n professionele kunstenaar te wees is ’n loopbaankeuse net soos enige ander beroep. Omdat ons heeltyd in die publieke oog beweeg, kyk mense op na jou en verwag jy moet altyd ’n goeie voorbeeld stel. Hopelik sal mense my respekteer omdat ek hulle as mense erken, maak nie saak waar hulle in die lewe inpas nie. Dit is een eienskap wat geld nie kan koop nie.

Daarom is die eerste en belangrikste stap om hulle te behandel soos ek graag behandel wil word. As almal mekaar so hanteer, sal ons wêreld in ’n utopie verander. Dit is belangrik om na mense se standpunte te luister en dit te erken. Maak oogkontak met hulle – dit stel hulle op hulle gemak, en kan ’n moeilike situasie red.

Die eerste indruk is die een waarvoor jy gaan onthou word, en daarom moet dit tel. Een om nie te maak nie, is om koud of onbereikbaar voor te kom. Daarom hou ek byvoorbeeld nie daarvan om heeltyd voor ’n vertoning backstage te wees nie.

Dis partykeer vir my net lekker om met die mense te gesels. Dit is in my aard om maklik te gesels, maar dit is nog steeds beter om twee keer te dink voor jy praat. Woorde kan nie teruggevat word as dit eers gesê is nie.

’n Mens moet altyd dieper as die oppervlak kyk. Dit is een les wat jy uit ’n militêre agtergrond leer. Ná sewe jaar in die weermag het ek as luitenant uitgetree om ’n sangloopbaan te begin. Ongelukkig is dit ’n feit dat om op aandag te staan en te sing nie eintlik hand aan hand loop nie. My uniform was nie die sleutel tot selftrots net omdat dit ’n uniform was nie, maar omdat dit die dissipline en organisasie daaragter weerspieël het.

Daardie fase van my lewe is nie net deel van my geskiedenis nie, maar het uiteindelik ’n baie groot rol gespeel in my benadering tot dinge. Dit het my geleer om ’n positiewe ingesteldheid te behou. Om alles wat ek doen, deeglik en na die beste van my vermoë te doen. Om dit te doen sodat dit iets is om op trots te kan wees.