Introvert, jy is spesiaal

Hou jy daarvan om omring te wees met mense of kry jy jou energie uit alleen-wees met ‘n boek en mooi musiek?

In die 1920s, het die bekende sielkundige Carl Jung die term “introvert” en “ekstrovert” ‘n naam gegee in sy model, Psychologische Typen. Die belangrikste verskil, het Jung verduidelik, is in die manier waarop die twee persoonlikheidstipes hulle energie herlaai. Ekstroverte put energie uit saamwees met ander mense terwyl mense introverte moeg maak.

Ekstroverte word gesien as die praters, die leiers wat maklik hul menings lug. Introverte dink voor hulle praat en het ook nie altyd nodig om hul menings te laat hoor nie. Hulle is meer gefokus op ‘n eie binne-wêreld.

Selfs Jung het geglo dat niemand net die een of die ander is nie en dat daar iets soos ‘n “ambivert” bestaan – iemand wat op die kontinuum tussen die twee ‘n gebalanseerde lewe leef. Die hartseer is dat die wêreld se diskoers mense wysmaak dat ekstroverte sterker persoonlikhede het en dat hulle manier van doen die regte manier is.

Navorsing het egter bewys dat introverte ‘n reuse-bydrae maak tot sinvolle en dikwels rigtinggewende sake-besluite. Hulle is goeie luisteraars, dink voor hulle praat, kan oor die algemeen beter fokus en vir lang periodes konsentreer. Hulle is ook minder afhanklik van erkenning as ekstorverte. Hulle kommunikeer hul diepste gedagtes en gevoelens wanneer hulle veilig voel en die ander persoon ken en vertrou. Hulle maak nie baie vriende nie maar maak wel diep vriendskappe.

Daar is ‘n ou gesegde wat lui: “Ons is almal dieselfde maar anders.” Dit impliseer dat ons almal uniek is, al is daar ooreenkomste in gedagtes, gevoelens en hoe ons lyk. Dis uiters belangrik dat introverte hulself moet aanvaar en hulle eie sterkpunte moet raaksien. Weet dat jy uniek gemaak is en dat jou bydrae net so waardevol is – indien nie meer as jou grootmond-ekstrovert kollega s’n nie.

Vorige artikelSielsixpack
Volgende artikelMy wil en God se wil?
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.