Is die groot kans van God af?

0
205
keuses.jpg

Dis die kans van ’n leeftyd, maar jy bly onseker. Hoe weet jy of dit spesiaal vir jou bedoel is?

Die regte geleentheid sal nie minder gehoorsaamheid vra nie

Dis die ideale pos. Die voordele lyk ongelooflik en die salaris is baie meer as wat jy ooit sou kon dink. Dit sal jou finansies darem ’n lekker hupstoot gee!

Al probleem is: Jy sal Sondae moet werk. Dit laat jou ’n klein bietjie ongemaklik voel, maar dit sal seker oukei wees? Anders sou hierdie deur mos nie vir jou oopgegaan het nie…

Dis egter nie waar nie. As jy minder gehoorsaam aan Hom sal moet wees, as jy enigsins jou waardes moet “aanpas”, is hierdie kans beslis nie vir jou nie. Knyp jou oë toe en laat dit verbygaan.

Die beste manier hoe jy dit kan toets, is om heel eerste te kyk wat die Woord sê. As daar dinge van jou verwag word wat nie daarmee strook nie, hou eerder verby. Jy kan amper sê dat so iets wat op jou pad kom, eerder ’n versoeking as ’n geleentheid is!

Jy sal wel op ’n manier bevestiging kry

Jy sien dalk ’n goeie geleentheid raak. Omdat jy onseker is, bid jy vir die een of ander “teken”. Dis nie regtig so vergesog nie. Ons kry wel “tekens”, maar ons sien dit nie altyd raak nie. God wil graag vir jou wys wat om te doen, want Hy beplan mos mooi dinge vir jou. Die doel is glad nie om jou lewe te kompliseer en jou aan die raai te hou nie.

Een manier is om dieselfde geleentheid ’n paar keer op jou pad te stuur. Dan kan jy maar aanneem dis vir jou – mits jy nie jou waardes moet prysgee nie.

Jy kan ’n boodskap op ander maniere ook kry. Jy hoor dalk ’n preek of jy lees ’n sekere vers in die Bybel. Dalk vra jy raad by ’n betroubare vriendin en sy sê uit die bloute iets wat bevestig dat jy die kans moet waag.

Jy besef jy kan dit nie alleen doen nie

God sal nie vir jou iets beplan as Hy weet dit sal jou van Hom vervreem nie. Daarom, as jy dink jy het Hom nie eintlik nodig nie, moet jy weer besin of dit regtig nóú jou beurt is. As jy vol bravade is en net op jou eie kennis en insig staatmaak, gaan al jou plannetjies misluk.

Aan die ander kant, as jy voel dat jy die projek nie alleen sal kan aanpak nie, kan jy redelik seker wees dis die ware Jakob. Jy word dalk soontoe “getrek” omdat dit ’n tyd van persoonlike én geestelike groei kan wees. Hoe meer jy jou afhanklikheid besef, hoe sterker sal jou geloof uiteindelik wees.

As jy jou volgende keer in so ’n situasie bevind, bid dat jy sal weet wat God vir jou wil sê. Hou dan jou oë en ore wawyd oop. Dit kan die opwindendste tyd van jou lewe wees.

Verwerk uit 3 Ways to Know if an “Open Door” is from God.

Lees meer: Ontdek jou gawes en leef Sy droom