Is dit sonde om kwaad te word?

0
119
kwaad.jpg

Jou kinders baklei alweer en die rekenaar wil net nie wérk nie! Mag jy kwaad word, of moet jy kalm bly?

“Om kwaad te word, is normaal. Hoe jy daarop reageer is wat tel”

vrou.jpgLuani Old is ’n kliniese sielkundige in Waverley, Johannesburg

Ek dink dat kwaad word, soos enige ander emosie wat jy beleef, vir jou ’n teken moet wees dat daar iets is wat aandag nodig het. Daar is egter ’n verskil tussen beheersde en onbeheersde woede. Dit is nooit vanpas om gewelddadig, beledigend of afbrekend te reageer nie.

Maar woede is ook ’n opinie – jou idee dat dit wat met of om jou gebeur het, nie vir jou aanvaarbaar is nie. Dit is belangrik om te besef dat wat die ander persoon gedoen het, nie noodwendig bedoel was om jou te na te kom nie; daarom moet jy die konteks waarbinne jy kwaad word, in ag neem. Om by jou werk kwaad te word is byvoorbeeld nie noodwendig goed nie, maar as jou kollega jou gedurig sleg behandel en keer op keer daarmee wegkom, sal jy kwaad word. As jy jou emosie onderdruk, gaan jy ’n drukkoker word en as jy dan die dag ontplof, kan jy jouself en moontlik jou loopbaan skade berokken. Praat liewer met jou kollega of ’n senior persoon oor hoe dit jou laat voel en soek ’n oplossing vir die probleem.

In meer persoonlike verhoudings dien kwaad word dikwels ’n dieper doel. In die huwelik veral kan woede aandui dat jou man dalk (onwetend) iets aangeraak het wat kleintyd met jou gebeur en jou seergemaak het. Of andersom: As hy kwaad word, is dit omdat jy hom dalk aan iets slegs herinner het.

In so ’n geval hoef woede nie as ’n vyand beskou te word nie. Dis eerder ’n teken dat jy of hy hulp nodig het om daardie gevoelens in terapie te verken. Eers dan kan die snellers vir kwaad word geïdentifiseer word en dus vorentoe beter hanteer word. So help woede om ’n proses van herstel te begin. Julle kan byvoorbeeld die voorval uitpraat, vergifnis vra waar nodig, terapie ondergaan en veranderings aanbring. Kwaad word kan interpersoonlike verhoudings meer intiem maak as dit reg hanteer word.

Om kwaad te word is nie ’n skande nie. Dit beteken nie noodwendig dat jy ’n swakkeling is wat nie jou emosies kan hanteer en net in jou eie belang optree nie; dit is dikwels ’n teken dat daar iets is wat aandag nodig het, maar die konteks waarbinne jy kwaad word, is van kardinale belang. Kwaad word is ’n onmisbare komponent van ons verhouding met onsself en ons medemens.

“Kalm bly gee jou ’n voorsprong. Dit help jou vinniger aan beter oplossings dink”

man.jpgCornel Verwey is ’n kliniese sielkundige in Brackenfell, Kaapstad

As jy kwaad word, ervaar jy basies die veg-of-vlug-reaksie. Die oorsprong van hierdie outomatiese reaksie in ’n krisis kom uit die tydperk toe bedreigings dikwels fisies van aard was, soos om onverwags op ’n leeu af te kom. Om te oorleef, het ons lywe gereageer deur dadelik chemikalieë soos adrenalien in groot hoeveelhede af te skei. Omdat die ledemate meer bloed met vars suurstof nodig gehad het, het die hartklop, asemhaling en bloeddruk ook gestyg.

Kom ons fast forward: Vandag se “leeus” waarin jy vasloop, kan byvoorbeeld ’n onderonsie met jou baas wees. Hierdie situasie word as ’n gevaar beleef, want jy het jou werk nodig om te oorleef. Die situasie verg nie fisiese krag nie, maar ons lywe het nog nie aangepas by die moderne lewe nie en die veg-of-vlug-reaksie tree outomaties in. As die slegte situasie met jou baas voortduur, bly jy lank in hierdie toestand. En om met ’n verhoogde hartklop en bloeddruk te leef, plaas geweldige druk op jou lyf.

Jy sal dikwels hoor dat iemand sê: “Ek was so kwaad, ek kon nie dink nie.” Dis presies wat gebeur. Wanneer jy onverwags in ’n leeu vasloop, het jy onmiddellike optrede nodig en nie weldeurdagte besluite nie (daar is nie tyd daarvoor nie!). Daarom verlaat redelikheid jou wanneer jy kwaad word.

In vandag se wêreld is die kalm persoon gewoonlik een tree voor die res, bloot omdat hulle beter kan dink. Jy sal vinniger aan beter oplossings kan dink. Dis onwaar dat jy kwaad moet word om sterk te wees. Jy kan jouself baie beter laat geld deur kalm te bly as om in woede met iemand te baklei. Dit is ook baie beter vir jou verstand en jou lyf. Lang tye van woede kan baie probleme, soos hartsiektes en ’n verswakte immuunstelsel, tot gevolg hê. Daar is selfs navorsers wat glo dat kwaad word meer skade as rook of vetsug aanrig en ook ’n vroeë dood kan veroorsaak.

Raak bewus van wat en wie jou kwaad maak asook die subtiele tekens dat ’n woedeuitbarsting op pad is. So kan jy daardie “buite beheer”-gevoel keer voor dit begin. Wanneer jy agterkom dat woede besig is om op te bou, pas ’n kalmerende tegniek toe. Rustige asemhaling werk baie goed, veral as jy dit vooraf gereeld oefen. En drink ook genoeg water vir jou brein.

Blaas jy gereeld stoom af of kan jy kalm bly? Kliek hier en gesels saam.