Is dit tyd om aan te beweeg?

0
49
enkelloppend.jpg

As ʼn verhouding meer pyn as vreugde bring, meer storms as sonskyn – haal diep asem, laat gaan en beweeg aan!

In die fliek Titanic sluk almal krokodiltrane af wanneer Rose haar geliefde laat gaan. Hoe kan sy Jack laat gaan?! Hy is dan die groot liefde van haar lewe! Hoe kon sy? wil jy weet. Sy moes. Dit was al manier hoe sy haar eie lewe kon red en die paadjie stap wat vir haar beplan is.

Dis dalk fiktiewe karakters in ʼn tranetrekker-fliek. Maar dit werk baie so in ons eie lewens. As Rose vir lewe of dood desperaat aan Jack bly klou het, sou haar eie storie ook daar geëindig het. Sy’t dalk nie presies die gelukkige einde gekry wat sy in gedagte gehad het nie – maar dalk het iets beters vir haar gewag.

Hoe laat jy ʼn slegte verhouding gaan?

Letting go is nie vir sissies nie! Maar soms is dit die heel beste ding wat jy vir jouself kan doen. Gewoonlik is jy ook baie sterker as wat jy dink. Jy sal heelwat verder op jou eie kom as wanneer jy vasgevang is in ʼn verhouding wat jou inperk.

Laat jou slegte verhouding op ʼn fisiese manier gaan – net om die boodskap baie duidelik vir jouself te maak. Daar is baie maniere. Kry byvoorbeeld ʼn helium ballon waarin jy alles laat wegsweef. Of vou ʼn papierbootjie wat jy in ʼn stroom sit om weg te vloei. Begrawe dit as jy wil – hoewel dit dalk té dramaties is!

Die geheim is om nie te wag dat “iets gebeur nie”. Soms moet jy ʼn besluit neem. Afsluiting is dikwels ʼn keuse, nie ʼn gebeurtenis nie. Net jy kan besluit wanneer genoeg nou genoeg is. Wanneer dit beter is om weg te stap en die deur toe te trek. Partykeer moet jy ʼn deur oopmaak om by ʼn nuwe plek uit te kom, ander kere moet jy een toemaak … Stewig. Gesluit. Gooi sommer die sleutel weg!

Net jy kan jou eie lewe beter maak – en red!

Geen rede is ooit goed genoeg om aan ʼn verhouding vas te klou wat sleg is vir jou nie. O, ja, dis angswekkende om die beskermde “bekende” agter te laat. Dis moontlik die moeilikste ding vir enige mens om te doen … maar wat sou gebeur as die skoenlapper geweier het om ooit haar kokon te verlaat? Sy sou nooit gegroei het nie, nooit verander het nie, nooit haar vlerke gekry het nie! En om die waarheid te sê – dis veel beter om onseker te wees oor moontlike geluk, as om seker te wees van besliste ongeluk!

Hierdie is ook nie iets wat net eenkeer in jou lewe gaan gebeur nie. Jy gaan dikwels moet kies: Klou jy aan iets wat jou gaan laat verdrink en staar ʼn besliste ramp in die oë? Of laat jy gaan, beweeg aan na ʼn toekoms sónder daardie persoon om wie jy jou lewe (verkeerdelik) gebou het? Die keuse is joune.

Dink sexy, single, nuut en gelukkig!

Die gevaar van enige ongesonde verhouding, is dat jy dit “reg” probeer dink. Maar maak hierdie waarhede deel van jou denke, en gooi die ou gemors uit – saam met wat en wie jou ook al probeer verdrink:

Sommige mense is net vir ʼn seisoen deel van jou lewe om jou iets te leer. En jy gaan nooit hierdie les leer as hulle deel van jou lewe bly nie. As iemand nie veronderstel is om in jou lewe te wees nie, gaan hulle ʼn manier kry om te verdwyn. Jy mors baie tyd en energie deur die onvermydelike uit te stel.

As iemand vir jou bedoel is, hoef jy nie te klou nie. Jy kan laat gaan, en hulle sal bly! Dink jy regtig as jy hom genoeg “oorreed” sal hy bly … want “jy’t soveel moeite gedoen”? Nee, nee, nee!

Niemand kan vat wat regtig joune is nie … so as iemand anders dit gevat het, was dit nie joune nie. Iemand beter is op pad! Of … wil jy liewer tweede, derde, of vierde beste hê?
Hoekom op aarde?!

As hy in jou lewe wil wees, sal hy ʼn manier vind. Indien nie, sal hy ʼn verskoning uitdink. Wreed maar waar.

Onthou, terwyl jy aan die verkeerde persoon klou, laat jy die regte persoon dalk deur jou vingers glip! En dís dom.