Is jou geld veilig in die bank?

238

Jou geld is uiters kosbaar – niemand anders het enige reg op ’n sent daarvan nie. Kies daarom baie versigtig waar jy jou rande belê.

Maak seker jou rande is veilig deur op die heel eenvoudigste vlak nie jou handsak op sommer enige plek neer te sit nie, of om nie te veel te betaal vir artikels en dienste nie. Dit kan ook beteken om soveel moontlik uit te vind oor ’n belegging wat aan jou voorgehou word as “die kans van ’n leeftyd”.

Moenie traag wees om jou rekeninge te skuif nie

As jy geld in ’n bankrekening spaar, kry jy rente. Dis dalk nie baie nie, maar jy is verseker daarvan. Onthou net, jy sal nie beloon word vir jou lojaliteit nie. Jy is dalk omgekoop met ’n fantastiese bekendstellingsaanbod, maar twaalf maande later kry jy moontlik slegs ’n klein deeltjie van die rente waarmee jy oorspronklik begin het.

Die meeste spaarrekeninge hou nie tred met die inflasiekoers nie, so, al is jou geld veilig, sal dit mettertyd tog waarde verloor. Wees dus baie versigtig – banke maak ’n fortuin uit mense se traagheid om hulle rekeninge te skuif.

Jy kan nie noodwendig die banke vertrou nie. Die bankkrisis aan die begin van die 21ste eeu het baie mense se vertroue geskend. Mense het begin wonder hoe banke so lank met bedrog op so ’n groot skaal kon wegkom. Nou is daar baie minder sekuriteit as wat daar toe was. Regerings moes die groot banke, wat kastig te groot was om te misluk, van staatsgeld voorsien om die mas op te kom. Dit het die verbruiker miljoene gekos.

Weet wat jy met jou spaarvarkie gaan doen

Jy het dalk ’n plan om ’n groter inkomste te verdien – jy wil verder studeer. As jy in ’n nuwe kwalifikasie wil belê, vind eers presies uit hoe dit jou gaan help om meer te verdien.

Gestel jy wil ’n prokureur word. Vind dan uit wat dit jou gaan kos om te kwalifiseer en presies wat prokureurs verdien.

’n Jong man het eenkeer ’n boer besoek en probeer om ’n rekenaarprogram aan hom af te smeer. Hy het vir die boer gesê hy hoef nooit weer te werk nie, hy kan net elke dag voor die rekenaar sit en die aandele dophou. Die wyse ou boer het toe vir die man gevra hoekom hy dit dan nie self doen nie, in plaas van om die program aan ander mense te probeer verkoop.

Jy kan geld verloor, maar jy sal iets leer

Dalk wil jy eiendom koop. Dit is ’n uitstekende idee. Jy kan baie wins maak deur ’n huis goedkoop te koop, dit te verbeter en weer te verkoop. Jy kan ongelukkig ook verloor, maar dit is ’n goeie manier om te leer. Doen maar net altyd eers jou huiswerk.

’n Eiendomsagent sal gewoonlik vir jou enigiets vertel net om die eiendom verkoop te kry. Dink mooi voor jy jou eiendom verkoop; dis soms beter om dit eerder te verhuur.

Doen navorsing om jou belegging so veilig moontlik te hou en maak seker jy verstaan die risiko’s. Onthou, risikovrye beleggings sal jou nie vinnig ryk maak nie! C.J. Langenhoven het gesê: “Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou, met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.”

Wouter Snyman – Finansies, besigheid en entrepreneurskap

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.

Volgende jaar jonger Gebruik die afslagkode WOUTER om die boek VOLGENDE JAAR JONGER aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 30% afslag.
R139 R199