Is geluk ʼn hartsding?

1929

Die sangeres Leah borrel oor van positiewe energie, want sy ken die ander kant. Haar lewensvreugde is gebore uit ’n tyd toe sy moes kies teen hartseer.

“Dis duidelik dat jy te veel van jouself dink.” Die woorde het uit die kuberruim op haar foonskerm geval. Dit was nie die eerste keer nie. Jaloers gluur die woorde haar aan; ’n weerspieëling van hoe die skrywer, ’n totale vreemdeling, moes gevoel het voor sy die “stuur”-knoppie gedruk het.

Leah is al gewoond daaraan. “Dis maar tipies van die era waarin ons leef. Onder die mooi kommentaar op sosiale media is daar altyd ook iemand wat ’n afbrekende aanmerking maak, en dit opdis as ’n feit. So asof hulle die mens op wie die aanval gemik is, persoonlik ken.”

Iemand anders sou dalk dae lank daaroor getob het, maar nie Leah nie.

“Nee wat, ek sou net wou antwoord: ‘As jy so iets oor my kwytraak, ken jy my duidelik nie.’ Dit maak tog ’n bietjie seer, maar as ek weet dis nie die waarheid nie, gaan ek my nie te veel daaroor ontstel nie. Ek weet wie ek is.”

Positief, vriendelik, plat op die aarde. Iemand wat ander ’n plekkie in die son gun en vra dat hulle dieselfde vir haar sal doen.

“Ek wonder net altyd oor die goed wat mense so maklik kwytraak – gaan jy dit ook in my gesig kom sê? Tien teen een nie. So, dis eintlik maar lafhartig. As jy ’n probleem het, kom praat met my. Kom ons hoor mekaar se harte. Gun mekaar ruimte.”

Sy hou daarvan om te weet waar sy met iemand staan. En hulle moet weet waar hulle met haar staan. Oop, eerlik en reguit. Dis Leah.

“Al baie vroeg in my lewe moes ek die besluit neem om positief en gelukkig te wees, ongeag wat na my kant toe gegooi word. Happy is ’n keuse.

Toe ek sewe jaar oud was, is my pa skielik oorlede. Dit het ons gesin swaar getref. Ma moes uitspring en die brood begin verdien. Sy het haar uiterste bes gedoen om vir my en my jonger tweelingboeties te gee wat ons nodig het, maar dit was rof. Ons moes letterlik net opstaan en aangaan. Daar was nie tyd vir rondsit en huil nie. My lekkerste onthou van my pa was hoe hy my in ’n groot blou handdoek toegevou en in die rondte gedraai het. Skielik was dit ook weg.

Ek het dit nie toe besef nie, maar sy dood het my hele uitkyk op die lewe beïnvloed. Die trauma, die trane… van kleins af al is dit in my ingeweef om positief te wees. Dit was aaklig om my ma hartseer te sien.

Tot vandag toe sal ek enigiets doen om te sorg dat die mense om my lag en gelukkig is. My missie is om te bepaal: Wat kan ek doen om jou te laat goed voel?

Negatiwiteit is iets wat ek tot elke prys probeer vermy. Dis nie altyd ’n goeie ding nie, want soms moet ’n mens ook die slegte goed hanteer. Nogtans sal ek uit my pad gaan om eerder ’n simpel grap te vertel en ’n ongemaklike atmosfeer te verlig, as wat almal dikbek sit. As iemand nie lekker voel nie, is ek die een wat hulle probeer opbeur.

Die verlange na my pa gaan nooit weg nie. Dis maar altyd deel van my. Selfs noudat ek volwasse en getroud is, wens ek steeds hy kon dit saam met my geniet. Hy en my man, Hennie, sou so goed oor die weg gekom het. Hennie het ook albei sy ouers verloor nog voor ons getroud is. Dit was baie sleg om weer so iets deur te maak – hulle was lieflike mense – maar omdat ek weet hoe dit voel, kon ons mekaar ondersteun. Pyn kweek begrip.

Vreugde. Happiness. Dis so ’n gelaaide woord, maar eintlik is dit heel eenvoudig. Vir my beteken dit om vrede in en met my omstandighede te hê. Om te kan lag en gesels in my huwelik. Om te kan kuier en ontspan saam met my familie – mense wat almal met mekaar oor die weg kom. En om eg en openhartig te wees tussen ware vriende wat my hart werklik ken en daarvoor omgee.

Dit het my ’n ruk gevat om nou, op 31, uiteindelik tevredenheid in my lewe te kan hê.

Ek was van altyd af ambisieus, ek wóú suksesvol wees. As ’n mens so daarna smag, is jy geneig om te wil hê almal moet van jou hou. Ek was ook al daar.

Loopbaangewys het ek eers ’n heel ander rigting ingeslaan: BCom Regte. Maar my kop het altyd vermaaklikheid toe gestaan. Kleintyd al was ek die dogtertjie wat op die tafel klim en sing, met my twee boeties as die onwillige agtergronddansers en -sangers. Vyf sent om ons Kerskonsert te mag bywoon. En as Pa die videokamera te lank op my boetas rig, kom die neulstemmetjie: “Pappaaaaa, neem my nou af. Dis my beurt!”

Toe ek ná my studies uiteindelik – danksy my man (toe universiteitskêrel) se aanmoediging – die groot stap neem om ’n lewe in die sangbedryf te probeer uitkerf, het ek besef hoe ’n groot uitdaging dit was. Om so groot skuif te maak raak jou hele menswees. Dit het gevoel of ek in alle rigtings getrek word. Moet ek sus of só wees? Gaan dit dalk beter werk as ek eerder só lyk of só optree?

Dit maak ’n mens mal. Tot jy op ’n dag besef: Ek is wie ek is. As jy nie daarvan hou nie, is daar absoluut niks wat ek daaromtrent kan doen nie.

Op daardie dag vind jy vrede in jouself, en dan kan jy begin blom.

Dis ’n ongelooflik bevrydende gedagte om te weet: Ek wil hê almal moet van my hou, dis menslik. Maar nie almal kan van my hou nie, en dis goed so. As ’n deel van my persoonlikheid bots met jou voorkeure, hou verby. Ek sal dieselfde doen.

Die een ding wat negatiwiteit my geleer het, is dat ek doelbewus net die “lekker” mense in my lewe wil behou. Die res het ek nie nodig nie, behalwe om my aan te spoor om te wys waartoe ek in staat is. Vir al daardie mense – vriende wat jou in die rug steek, kêrels wat nie in jou glo nie en mense wat jou niks goeds gun nie – moet jy eintlik dankie sê. Dis danksy hulle dat ek passievol wil werk om te bewys: Ek kán dit doen. Ek is goed genoeg.

Op skool het ek seker nie verniet die matriekprys gekry vir Miss Goody-two-shoes nie. Die toekenning vir most likely to have a stalker one day was ook myne. My ambisie het seker toe al deurgeskemer – die meisie wat alles wou doen en aan alles wou deelneem.

Gelukkig spoor dit my ook aan om die beste in ander te probeer raaksien. Al staan jy dwars teen my, sal ek steeds die positiewe in jou gaan soek. Vir jou die voordeel van die twyfel gee.

Die vriendin op skool wat gesê het ek lyk anoreksies… eina, maar dis ook oukei. My ma se gene, wat my so brandmaer laat lyk het (al verorber ek ’n hele pizza op my eie na aandete), is een van die dinge wat my toe al mý gemaak het. En vir die mens wat my wil slegsê met die druk van ’n foonknoppie, ek vergewe jou ook, want ek besef jy sê sulke goed uit pyn en frustrasie. En omdat jy my nie ken nie.

In plaas van te tob oor die dinge wat krap, stort ek eerder doelbewus my aandag en energie in die goed wat my gelukkig maak.

Soos my man. Hy inspireer my om vreugdevol te lewe. Ek kan amper sê ek het my sukses aan hom te danke. Dit is hy wat, toe ek wou tou opgooi, gesê het: “Byt vas, fokus, ek glo in jou. En as dinge nie uitwerk nie, maak ons ’n ander plan.”

Sukses maak my gelukkig, maar dit verg baie geduld. As kind het ek eindeloos aan sangkompetisies deelgeneem. My ma het die ure saam met my by winkelsentrums omgesit en wag vir my beurt. Dan wag jy só lank, sing uiteindelik, en wen steeds nie. Dit was van die grootste teleurstellings en grootste lesse in my lewe.

Dis nie altyd jou beurt nie en jy hoef nie altyd te wen nie. Daar is gewoonlik iemand beter, slimmer of mooier as jy. Ek moes net die beste doen met wat vir my gegee is. My kant bring, die harde werk doen en dan vertrou.

’n Mens wen wanneer dit jou tyd is, nie ’n oomblik vroeër nie.

Hulle sê kitssukses vat tien jaar. Dis waar. Ek is nou tien jaar in die bedryf – en dit voel nou eers of ek dit “gemaak” het. Na my eerste fliek het ek maande lank sonder werk gesit. Dis maar deel van mense se persepsies. Hulle dink jy gaan te duur wees of jy is te besig. En dit terwyl ek letterlik by die huis gesit het, angstig besig om CV’s uit te stuur en benoud rond te bel.

Mense dink jy is sommer dadelik “bo”. Glad nie. Dit vat járe se harde werk en op jou tande kners. Vir my was dit lang stofpaaie na baie vreemde plekke. Piepklein, sweterige spasies waar ek moes aantrek, oefen en versigtig wees om nie die drankbottels wat daar gestoor word, om te skop nie. Mense wat dronk raak by ’n konsert en my onveilig laat voel. Oorslaap op plekke waar ek gewonder het wanneer laas die beddegoed gewas is. Dinge wat absolute waardering kweek as jy die dag jou deurbraak kry en op ’n groot verhoog kan staan.

Dit dra alles daartoe by dat ek kinderlik gelukkig voel oor die lewe, dankbaar oor elke wonderwerk.

Musiek maak my gelukkig, enige tipe musiek. Op ’n stadium het ek selfs barok geluister op skool. As ’n liedjie my vang en ek voel dit in my lyf, dan hou ek daarvan.

En die Weskus. Hierdie girl was nooit ’n Weskus-mens nie. Maar nou is dit my plek, by ons huisie by die see op St. Helenabaai. Dis die lekkerste lekker om in stilte vir die see te sit en kyk, dit maak my siel skoon. Dis waar ek herlaai, veral as ek saam met my hartsmense daar kan kuier.

Maar moenie geflous wees nie. Ek is nie elke dag die gelukkigste mens op aarde nie. Af dae is daar ook. Deel van my donker kant is dat ek vinnig gefrustreerd en kwaad kan raak, veral vir myself, en veral oor tydsbestuur. “As ek maar net vyf minute vroeër klaar was, ’n bietjie vroeër gery het, gouer begin het.” Ek kan myself omtrent daaroor kasty. Lysies, lysies, lysies – en dan pla die vergeetagtigheid soms steeds.

Ook as ek moeg is, is ek baie moeg. Uitgeput en ooremosioneel. As ek my man min sien, voel ek ook so, net in die oortreffende trap. Party dae kry dit my nogal onder.

’n Mens sal dink hoe ouer jy word, hoe makliker is dit om weg van die huis af te wees. Toe nie. Dit word al hoe moeiliker, want ek wil by my mense en my goed wees. As ek Hennie in ’n tassie kon pak en saam op toer vat, sou ek. Maar hy het ’n agt-tot-vyf werk en moet ons huis en hondekinders oppas. Gelukkig is dit vir hom ook lekker om te sien dat alles waaroor ons saam gedroom en voor gehoop het, besig is om te gebeur.

Wanneer die verlange erg raak, huil ek ’n bietjie, praat met die Here, gesels met my maatjies of bel my ma. Dit help ook om ’n slapie te vat, ’n groot lekkerte. Daarna lyk die hele wêreld sommer weer rooskleurig.

Die Here gee ook vir my vreugde. Hy is my dryfkrag. Ek bid baie – om dankie te sê vir die goeie dinge, maar om ook te praat oor my drome en oor die dinge wat ek nie verstaan nie. Daar is baie goed wat nie sin maak wanneer dit gebeur nie, maar later word die prentjie duideliker.

’n Groter plan is altyd aan die werk, het ek agtergekom. In die jaar wat verby is, is dit weereens op die harde manier by my tuisgebring. Uitdagings wil jou iets leer. Snap die les. In my geval moes ek leer om na my liggaam te luister. As jy moeg is, rus. As jy jou ooreis, stop.

Dis wanneer jy nie die les leer nie dat jy die gevolge dra. Soos die onlangse vergroeisels op my stembande, in so ’n mate dat ek nie meer kon sing nie. Op die regte tyd was die uitkoms ook daar. Toe Boer Soek ’n Vrou my kant toe kom, was dit nie net ’n wonderlike loopbaangeleentheid nie, maar ook ’n kans vir my stem om te rus. En om na die basiese dinge terug te keer. Terug na jou fondament toe. Na wie jy is, na wat jou laat tick en na die dinge waaraan jy moet werk.

Ek het geleer: Hou dit wat eg is, baie naby aan jou hart. Die glamour van my werk is maar net die buitenste lagie. Dit definieer my nie. Ek kan nie valsheid en oppervlakkigheid hanteer nie en sal liewer ’n braai saam met my mense hou as om leë geselsies te maak om op die “regte” plek en saam met die “regte” mense gesien te word. Diep gesprekke met vriende maak my sielsgelukkig: om regtig te weet wat in mekaar se lewens aangaan en om ons uitdagings en hartsbegeertes met mekaar te deel. Ek waardeer hierdie mense in my lewe, hulle omgee en integriteit. Dis ’n voorreg om reguit en eerlik met iemand te kan praat, om nie doekies hoef om te draai nie.

Vir my is die ware geheim van geluk om meer te doen van die dinge wat jou gelukkig maak, en minder van die dinge wat jou nie gelukkig maak nie. Party mense kies ongelukkigheid, hulle wil die drama behou. Dis nie die moeite werd nie. Laat gaan dit net.

En die belangrikste: Doen ’n ding om die regte redes, anders gaan jy nooit tevrede wees nie. As ek moes sing om famous te word, sou ek dit nie tot hier gemaak het nie. Geluk is ’n hartsding. Jou hart moet ten volle in iets wees, jy moet ’n passie daarvoor hê.

Dan kom die vreugde saam as ’n pasella.