Is jou hormone op hol? Hier’s hulp

0
25
hormone.jpg

Hormone beïnvloed jou hele liggaam. Ons kyk wat jy kan doen wanneer jou hormone “deurmekaar” raak.

Sukkel jy om gewig te verloor? Blameer dié hormoon

’n Muffinmaag kan jou selfbeeld knou, maar dit kan ’n nog ernstiger uitwerking op jou gesondheid hê. Volgens dr. Shawn Talbott, skrywer van The Cortisol Connection, is die hormoon kortisol verantwoordelik vir daardie ekstra band om jou middel. Dit is ook een van die redes waarom maagvet moeilik is om te verloor, selfs al oefen jy hard en eet jy reg. As jou stresvlak hoog is, gaan jy sukkel om dit af te skud.

“Wanneer jou kortisolvlak styg, dink jou liggaam hy is in gevaar en dat hy meer energie moet inneem. Jou eetlus neem dan toe. In die verlede was dit ’n effektiewe manier van oorlewing toe ons in stamoorloë teen vyande moes veg of vir roofdiere moes vlug. Vandag sukkel ons egter met bedreigings soos oortrokke rekeninge.” Om meer te eet gaan egter niks doen vir daardie negatiewe bankbalans nie.

Jou liggaam klou ook aan die ekstra energie vas omdat hy dink moeilike tye lê voor en dat daar moontlik nie genoeg kos gaan wees nie. Om sake te vererger, stoor hy ook die vet rondom jou maag en om jou organe, wat insulienweerstandigheid kan veroorsaak.

Kry jy skielik ’n baard? Pasop vir jou vrugbaarheid

As jy nooit gesukkel het met hare op jou gesig nie en skielik ’n baard of snor ontwikkel, maak ’n afspraak met jou dokter eerder as jou skoonheidsterapeut. Dit kan ’n simptoom van polisistiese ovariële sindroom wees, ’n hormonale afwyking wat jou vrugbaarheid in gedrang kan bring.

Dokters meen jy moet veral bedag wees wanneer die ekstra hare voel soos ’n man se harde baard. Die sagte snorretjie wat jy maandeliks laat bleik of waks, is gewoonlik nie ’n bron van kommer nie. Die “harde baard” is die resultaat van jou lyf wat ’n oormaat manlike hormone afskei. Dit word veroorsaak deur siste aan jou eierstokke. Die siste self is nie lewensgevaarlik nie, maar dit kan tot ’n wanbalans van die hormone lei.

Jou eierstokke skei gewoonlik ’n klein hoeveelheid manlike hormone af. In die geval van polisistiese sindroom produseer hulle meer van dié hormone, wat ovulasie in die wiele ry. Nog simptome sluit ’n skielike probleemvel en gewigstoename in. Moenie die hare verwyder voordat jy die dokter gaan spreek nie, want dit sal hom help om ’n meer akkurate diagnose te maak.

Uitgeput en vet? Jou skildklier is miskien die skuldige

“Wanneer een van my vriendinne sê dat sy heeltyd uitgeput voel, ten spyte van ’n gesonde leefstyl, is my raad dat sy haar skildklier moet laat toets,” sê dr. Jacqueline Kung, ’n spesialis-endokrinoloog van New York. “Dit kan een van die simptome van ’n onderaktiewe skildklier wees. Ander simptome is depressie en onverklaarbare gewigstoename.”

’n Onderaktiewe skildklier is ’n toestand wat nie genees kan word nie. Met die regte medikasie en leefstyl kan dit egter onder beheer gebring word. Jy sal waarskynlik vir die res van jou lewe medisyne moet drink om te vergoed vir die hormone wat jou skildklier nie produseer nie.

Die voedingkundige Marcia Middlestead, skrywer van Your Thyroid, beveel ook aan dat mense met ’n onderaktiewe skildklier kos eet wat baie jodium bevat, soos seegras, jogurt en kabeljou.

Val jou hare uit al stres jy nie?

Het jy onlangs opgehou om jou voorbehoedpil te drink? Baie vroue ervaar hierdie probleem drie maande nadat hulle die Pil gestaak het. Vroue wat deur peri-menopouse of menopouse gaan, kan ook opmerk dat hulle hare yler word.

“Die rede vir dié haarverlies is ’n vermindering in estrogeen,” verduidelik Elise Brett, ’n endokrinoloog. ’n Gesonde estrogeenvlak en ’n welige bos hare loop hand aan hand; te veel of te min estrogeen kan veroorsaak dat jy jou hare verloor.

Alhoewel die probleem kosmeties is, kan dit vir vroue steeds erg wees as hulle bles kolle op hulle kop ontdek. “As die oorsaak hormonaal is, kan jy estrogeenaanvullings neem, maar dit kan sommige vroue se risiko om bloedklonte op te doen verhoog.”

’n Meer natuurlike behandeling is vitamien B7- of biotienaanvullings, wat haargroei stimuleer. Kyk uit vir Vitaforce Biotin (sowat R85), beskikbaar by apteke en gesondheidswinkels.

Terneergedruk? Gee só jou voelgoed-hormone ’n hupstoot

Wanneer jy weer iesegrimmig voel, gaan maak gerus ’n draai by jou plaaslike jogastudio. Navorsers by die Universiteit van Boston se mediese fakulteit het ’n studie gedoen oor die uitwerking wat joga op jou brein het. Die resultate toon dat ’n sessie joga ’n positiewe invloed het op die hoeveelheid gamma-aminobottersuur (GABA) in jou brein. GABA is ’n hormoon wat sekere dele van jou brein stimuleer en voorkom dat jy angstig en terneergedruk voel.

Die studie voer aan dat joga as ’n alternatiewe behandeling vir depressie en angs oorweeg kan word, toestande wat verband hou met ’n lae GABA-vlak. “Die resultate toon duidelik dat die GABA-vlak in die brein gestyg het na ’n sessie saam met ’n ervare joga-instrukteur,” sê prof. Chris Streeter, ’n psigiater en neuroloog aan die Universiteit van Boston, wat deel van die studie was.

Die navorsers meen dat joga ’n effektiewe behandeling is in die stryd teen gemoedsiektes, soos depressie en angstigheid. “Dit is geredelik beskikbaar, goedkoop en dit het geen newe-effekte nie,” sê dr. Perry Renshaw van die Harvard Universiteit.

Aanvullende bronne: Science Daily, WebMD, www.cortisolconnection.com, Elise M Brett, endokrinoloog by die Mount Sinai mediese skool.