Is jou kind dalk die slagoffer van afknouery/”boeliery”?

Afknouery/”boeliery” is ’n wereldwye problem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie.

Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks op ’n globale skaal afgeknou. Navorsing toon dat boelies daarop uit is om sekere kinders te treiter en af te knou weens verskeie redes, soos verskillende etniese en kultuurgroepe, soos bv. om ’n Afrikaanse kind in die buiteland te wees, liggaamlike voorkoms, of seksuele of geslagsoriëntasie.

Afknouery/”boeliery” is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller. Die Noorse navorser Olweus identifiseer die volgende drie kenmerke van afknouery:

  • Aggressiewe aksies met die bedoeling om ander kinders seer te maak;
  • ’n Herhaling van hierdie aksies ooor ’n tydperk; en
  • ’n Wanbalans van mag wat die slagoffer hulpeloos laat sodat hy homself nie doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.

Vyf tekens wat kan aandui dat jou kind ’n slagoffer van afknouery/”boeliery” is:

  1. Ongewillig om skool toe te gaan: As jou kind dit normaalweg geniet om skool toe te gaan en ewe skielik nie meer wil gaan nie, kan dit daarop dui dat hy by die skool afgeknou word. Moenie gefrustreerd raak deur sy ongewilligheid om daaroor te praat nie, maar gesels eerder met jou kind oor die redes waarom hy nie meer wil skool toe gaan nie. Ouers moet geduldig wees as kinders aanvanklik bietjie senuweeagtig is om hulle te vertel wat aangaan.
  2. Veranderinge in slaappatrone: Studies toon dat 36% van kinders wat slagoffers van afknouery is, slaapprobleme het. Kinders wat afgeknou word, kan soms parasomnia of nagmerries ervaar. Afknouery kan ook tot depressie by kinders lei, wat dan kan veroorsaak dat kinders sukkel om te slaap of dat hulle te veel slaap.
  3. Verandering in geaardheid: As ’n ouer moet jy jouself afvra of jou kind se geaardheid verander het en of hy buierig is terwyl hy voorheen gelukkig of toeganklik was. So ’n verandering kan die gevolg wees van hormonale veranderinge, veral by tieners, maar dit kan ook ’n teken wees dat iets of iemand jou kind seermaak. Ouers ken hul kinders die beste, en daarom is dit juis belangrik dat hulle oplet na hulle kinders se houdings en buie.
  4. Vriendverskuiwings: Hou jou kind se vriendegroep dop, want so kan jy agterkom wie hy ignoreer. Jou kind kan homself van ’n vorige vriendegroep distansieer.
  5. Punte wat daal: Akademiese prestasies of punte wat daal, kan die gevolg wees van kinders wat bang is om skool toe te gaan, juis omdat hulle afgeknou word. Die skool word ’n omgewing van vrees en angstigheid, eerder as ’n omgewing waar daar geleer en genot ervaar word. Dit kan negatiewe gevolge vir kinders inhou omdat hulle hulle belangstelling in hulle skoolwerk verloor. Ouers moet hulle kinders se akademiese punte moniteer en as daar ’n groot daling is, moet hulle die moontlikheid oorweeg dat groter probleme die oorsaak daarvan kan wees.

Ander waarskuwingstekens van afknouery sluit die volgende in:

  • Onverklaarbare beserings soos kneusplekke, snye en krapmerke;
  • Vrees om skool toe te gaan, om skool toe te ry met die skoolbus, of om skool toe of huis toe te loop;
  • Verskonings oor hoekom hulle nie skool toe kan gaan nie;
  • Verlies aan eetlus of verandering in eetgewoontes;
  • Vernielde of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle; of
  • Gereelde klagtes oor maagpyn, hoofpyn, naarheid of dat hy siek voel.

Vir meer inligiting laai gerus AfriForum se Teenboeliegids as ’n Pdf. Dokument af deur op die skakel te klik: https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/Teenboeliegids_Digital.pdf of stuur gerus ’n e-pos na Leandie Bräsler by leandie.brasler@afriforum.co.za.