Is julle verhouding vir altyd?

141
Nathanya van Zyl Chapman

Het jy gemoedsrus oor die verhouding waarin jy jou bevind en die rigting waarin julle op pad is?

Baie van ons is dikwels onwillig om eerlik met onsself te wees as dit by verhoudings kom. Het jy jou byvoorbeeld al afgevra hoekom jy in ’n verhouding is en wat dit is wat jy van dié verbintenis verwag?

Doen jy dit vir jouself, of is dit net om ’n relationship status te kan wys? Pas julle regtig by mekaar en maak julle mekaar gelukkig? Of is jy net in die verhouding omdat jy bang is dat jy dalk nie iemand anders sal kan kry nie en alleen gaan oud word?

Net jy kan dié vrae beantwoord. Maar jy het ’n groot verantwoordelikheid om die regte persoon te kies saam met wie jy die roete wat vir jou beplan is, wil stap. Wees eerlik met jouself. Wees realisties. Wat jy wil hê en wat jy werklik nodig het, is dikwels twee verskillende dinge.

Jy en jou lewensmaat moet mekaar kan help om die mense te wees wat julle geroep is om te wees. As julle mekaar nie hierin kan ondersteun en onvoorwaardelik kan liefhê nie, moet julle versigtig nadink en openlik oor die toekoms gesels.

Moenie mekaar se tyd mors deur die onvermydelike uit te stel nie. Die lewe gaan nie net oor trou en kinders kry nie. Beide van julle het ’n belangrike, unieke roeping om te vervul. Respekteer dit. Die res kom vanself, op die regte tyd en plek.

– Nathanya van Zyl Chapman, Muisneste

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Nathanya.