Is jy nie meer lus vir seks nie?

0
23
seks.png

Seks is nie juis hoog op jou dag se doenlysie nie, tog is dit ’n belangrike deel van julle verhouding.

Jy beleef pret tussen die lakens la-a-ankal nie meer as pret nie. Of jy dink dalk nog altyd dis iets wat los van julle verhouding staan. Dis net nog een van die pligte waarby jy moet uitkom al is jy ook hóé moeg. Jy is in elk geval so selfbewus oor jou lyf dat jy dit nie geniet om kaal voor jou man te wees nie.

Die feit dat ons almal ingeboude seksuele behoeftes het, is nie ’n fout nie. Ons seksuele behoeftes is ’n geskenk – eerstens sodat ons die voorreg van kinders kan hê en tweedens omdat dit daardeur vir ons moontlik is om na aan iemand anders te wees.

Seks is onder meer vir ons gegee om in sommige van ons emosionele behoeftes te voorsien. Ons is gemaak met behoeftes en party daarvan kan slegs deur iemand anders vervul word.

Seks is dus deels ’n fisiese behoefte, maar ook deels ’n emosionele behoefte. God wil hê dat ons gelukkig moet wees; daarom het Hy ons nie gemaak om alleen te wees nie en sal ons ons ouers verlaat en ons aan iemand anders verbind. ’n Verhouding en seks moenie ’n las of ’n straf wees nie – dit moet ’n positiewe ervaring wees.

Seks bevredig jou en gee terselfdertyd energie. Navorsing het ook getoon dat ’n orgasme lei tot die vrystelling van endorfiene en ander chemikalieë wat jou laat goed voel. Daardie gevoel dat die hele wêreld reg is ná ’n heerlike rondte seks, is gedeeltelik as gevolg van hierdie chemikalieë.

In ons besige en veeleisende lewens is moegheid ’n realiteit, maar dit hoef nie te veroorsaak dat seks die laaste item op jou lysie word waarby jy nooit uitkom nie. Gebruik dit eerder as ’n teenmiddel teen uitputting. Iets wat jou kan herinner aan die goeie dinge in die lewe en die heerlikheid van oorgawe aan jou maat.

Julle seksualiteit is deel van wie julle twee is. Net so is die seksuele ’n integrale deel van julle verhouding. Dit behoort vanselfsprekend te wees, so natuurlik soos om vir mekaar in die oggend “môre” te sê.

Probeer dus om met gemak daaroor te praat. Vat baie aan mekaar en ontspan by mekaar, ook wanneer julle nie klere aanhet nie.

Een van die grootste behoeftes wat ’n mens het, is om te weet jy maak jou maat gelukkig en tevrede. As jy weet dat die ander een seks met jou geniet en graag by jou wil wees, voel jy sommer goed oor jouself. Dis lekker om te weet dat jy jou maat se behoeftes bevredig.

Die vraag is egter hoe om jou malende gedagtes te laat gaan en jou oor te gee aan die ervaring en kommunikering van sensasies. Hou op dink aan alles wat jy môre moet doen en geniet die oomblik – niks is méér eroties nie!

Vir die meeste mense klink dit kunsmatig om seks te beplan, maar in ons snelratlewens gebeur dit maklik dat hierdie deel agterweë bly. Dan kan dit help as jy spesifieke tye opsy sit net vir julle twee.

Gevaartye in julle verhouding is wanneer julle kinders klein is of daar ’n finansiële krisis of groot verandering in julle lewe is. Gedurende sulke tye moet julle juis harder aan julle seksuele verhouding werk.

Dit is selde dat twee mense op dieselfde tyd dieselfde behoefte aan seks het. Die meeste vroue neem langer om seksueel opgewek te raak; sorg dus dat jy betyds begin om boodskappe uit te stuur vir vanaand!

Verliese of vernederings op sekere terreine van jou lewe kan jou so onbevoeg laat voel dat dit jou sekslewe ’n knou gee. As jy en jou maat gedurig vassit, kan dit ook moeilik wees om intiem tot mekaar aangetrokke te voel.

Om ’n positiewe en genotvolle seksuele verhouding met jou maat te hê, moet jy bewus wees van jou emosionele bagasie en dit probeer hanteer. Daar is nie ’n ander manier nie.

Dis die moeite werd om aan jou seksuele verhouding te werk. As jy gemaklik en vry kan voel om heeltemal te ontspan, sal jy ook minder selfbewus wees. Dan kan jy jou maat geniet en hom toelaat om jou te geniet. Seks is ’n lekker geskenk, spesiaal van die Skepper af!

Elke vrou se klein boekie oor seks deur Lorette Dye is beskikbaar by aanlyn by voelgoedwinkel.co.za.

Hierdie boekie gee antwoorde op al die vrae wat jy nog altyd te bang was om te vra. Dit sal jou help om jou (en jou man) se lyf lief te kry en om hom beter te verstaan. Jy sal leer dat intimiteit ’n hemelse gawe is wat baie opwindend kan wees!