Is jy ook Kletterverskrik…?

In my soeke na eenvoud en vrede dop die woord ‘clutter’ heeltyd uit.

Dit raak ‘n elke dag se, heeltyd se woord wat my help om koers te vind en my eie lewe te ‘an-clutter’.

Alhoewel ek baie van my werk in engels doen is my hart se taal Afrikaans. En ek begin die Afrikaanse weergawe van ‘clutter’ soek. Daar kom allerlei maar nie een vind sy pad in my hart in nie. En net soos die Lewe werk, kom die woord toe ek dit die minste verwag! Die perskop webbouer skryf ‘n boodskap en seg; “Ek is kletterverskrik,  het heeltemal te veel om te doen!”

Ek juig so oor die woord dat ek amper nie simpatiek is oor haar verskriktheid nie! Die mooie woord storm dwarsdeur my tot binne-in my hart en ek skree, daar!! Dis hy, die woord is gebore!

Plesier seg sy, ek het hom ook persent gekry van die Lewe, hys joune!

Ek het nou eers met hom suinig in my hart rondgeloop vir ‘n rukkie, oor en oor gefluister en binnetoe geglimlag oor hom. Maar nou kan ek dit nie meer hou nie, ek wil hom nou gebruik en vertel van die lawaai van kletter.

Kletter is soos geraas, dis al die goete in mens se lewe wat jou besig hou met niks dat jy nie by Dat uitkom nie. Dis die goete wat jou later kletterverskrik laat storm van niks tot niks. Stokflou staan jy aan die einde van die dag en wonder wat het jy nou eintlik vandag bygevoeg tot die Lewe. Stokflou maar jy het nog niks gedoen wat jou laat glimlag nie!

Kletter kan woorde wees wat onnodig gepraat worre. Of dalk te veel klere wat oorloop uit die kas, en op jou skree as jy die kas oopmaak.

Of dis mense, daardie siel wat te veel praat, te veel vra, te min gee, nie meer jou skirt opwaai nie. Dalk is dit al die boeke op jou rak wat jou gereeld verwytend aankyk oorlat jy hulle nie lees nie. Daai tydskrif wat jy gekoop het en nog nie geblaai het en die volgende weergawe is al op die rak!

Stop ‘n rukkie… en kyk om jou rond, luister na die lawaai van al die gekletter. Watter van hulle kan jy an-kletter?

Watter het jy lanklaas gebruik, gaan jy nooit weer gebruik?

Gee weg!

Maak die geKletter stil en sit sagte musiek aan, dans ligvoet verder en sug van verligting!

DEEL
Vorige artikelOok maar mens…
Volgende artikelOnderwysers en leerders
Blogger - Annali Swiegers
Ek is 56, woon in die Weskaap op ‘n beeldskone plaas. Lang storie...’n bottermaak storie! Baie van wat ek blog/storie gaan oor die laaste 5 jaar se Lewensdans hier op Deo Volente. My skrywery het jare gelede begin as sommer outydse dagboek houery, journal klink soveel mooier. Ek het altyd groot strikke gebind om my skryfboeke want dit was vir eie oë, eie sanity! Later het ek dapper muiserig dit vir hier en daar ‘n mens begin wys en so het ek agtergekom mense lees lekker daaraan. En soos enigiets wat mens met lekkerkry doen, het die skrywery gegroei tot waar ek dapper muis skoene aangetrek het en ‘n blog begin het!