Is jy regtig tot enigiets in staat?

75

As jy fyn luister en jou talente in ooreenstemming met Sy wil gebruik, sal jy suksesvol wees, weet Danilo Viljoen nou. Sy tydsberekening is perfek!

Met die aantrek van die spykerskoene vang my oog die woorde “Filippense 4:13”, wat ek daarop geskryf het. Ek ís tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Later het dit duidelik geword hóé waar hierdie woorde was.

Ongeveer ’n jaar tevore het ek die beste tyd tot dusver in Suid-Afrika gehardloop. Die toekoms het gewink. My grootste droom was om ’n goue medalje by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe te wen.

Maar daardie droom is aan flarde geruk toe ek by ’n skoolbyeenkoms ’n ernstige skeur in my bobeen opgedoen het, net ’n paar weke voor die SA’s. My atletiekseisoen het net daar tot ’n einde gekom.

Die been het stadigaan herstel en later daardie jaar het ek weer kliphard geoefen om die doel te bereik.

In graad 12, met die derde byeenkoms en net voor die wedloop, was my gebed dat Hy asseblief moes help. Die sterkste opposisie van die jaar tot dusver sou teen my hardloop. Ons was nog besig om op te warm toe die stem duidelik kom: “Wat ook al vandag gebeur, dit gaan die res van jou seisoen bepaal.”

Dit het voor die wedloop gereën en die baan was redelik nat. Met ’n kortkop voor seil ek oor die sewende hekkie… en dis toe dat ek gly as gevolg van die nat gras. My knie haak uit en ek slaan soos ’n os neer.

Die wedloop en val het soos ’n fliek oor en oor in my kop afgespeel. Waarom vir ’n tweede keer, na al die harde werk en ure se oefen?

Die fisioterapeut het voorgestel dat ek die been stil hou en glad nie eers strekoefeninge doen nie. Een aand, op die naat van my rug op die bed, was daar weer ’n duidelike stem, maar dié keer was dit ’n ander stem. “Danilo, dit was nie Ek wat daardie dag met jou gepraat het nie. Jou seisoen is nog lank nie klaar nie.”

Hoop en opgewondenheid begin stadig maar seker in my hart groei. Sjoe! Dat Hy met my sou praat! Kan dit regtig waar wees?

Met die volgende sportbyeenkoms was ek ’n ondersteuner en nie ’n deelnemer nie. ’n Vriend, Louwtjie, ons 100 m-kampioen, het die program kom wys. Die rekord van die item waaraan ek dié dag sou deelgeneem het, was stadiger as enige tyd wat ek tot dusver daardie jaar gehardloop het!

Ek het my kop in frustrasie laat sak en ’n entjie gaan stap. By die opwarmingsarea was die versoeking groot om net stadig te begin draf en my been te toets. En toe kom die besef: Ek kan vandag deelneem! As die Bybel sê ons is tot alles in staat, dan moet dit mos so wees!

My hart klop in my keel toe ons almal by die wegspringpunt aanmeld. Merke… gereed… en daar gaan ons! Ek was van die begin af voor. Net na die wenstreep het ’n klomp vriende my ingewag en gelukgewens. Ek het die rekord met meer as ’n halfsekonde verbeter!

Hierdie gebeure het opnuut bewys hoe groot Sy genade is. Elke mens moet elke dag al die eer aan Hom gee vir alles wat Hy vir ons doen. Al kry ons nie altyd wat ons wil hê presies wanneer ons dit wil hê nie, is Hy altyd daar vir ons. Dis belangrik om fyn te luister na Sy stem, en in pas daarmee met jou talente te woeker.