Is jy te lief vir jouself?

1089

Selfies, Facebook, kerkwees – die eie ek speel ’n al hoe groter rol in ons verstaan van die wêreld vandag. Wat is ’n gesonde Bybelse siening hieroor?

Jy het dalk al jou vriendinne of kollegas hoor sê: “As ek na die nuus op TV kyk of die koerant lees, raak ek sommer negatief. Ek het dit nie nodig in my lewe nie”. Of: “Ek gaan nie meer op Facebook nie, want almal post net sulke negatiewe goed.”

Dis niks anders as selfliefde nie. Ék wil nie negatiewe goed hoor nie. Ék is nie lus om oor ons land te dink nie.

Na skool word baie jongmense oorsee of iewers heen gestuur om “hulleself te vind”. Hulle neem ’n brugjaar om agter te kom “wie ek is” en “wat my nou eintlik laat tick”. Kan jy sien? Ék moet myself vind. Ék staan sentraal in mý wêreld.

Ons leef in ’n wêreld van selfies, selfiestokke en die mooiste foto op jou Facebook- of WhatsApp-profiel. Navorsing wys dat Facebook-gebruikers ongeveer 21% van hulle tyd daaraan bestee om hulle profiele by te werk en in stand te hou. Kan jy glo soveel tyd word gebruik om seker te maak dat jou vriende net die beste kant van jou sien?

Mense is geneig om Facebook te gebruik om hulleself uit te druk. Daarom word die waarheid versier, en die onaangename aspekte of verleenthede van hulle lewens word weggesteek. Dit benadeel regtig ons persepsie van die werklikheid. As jy dink dat jy nie so ’n spoggerige lewe het soos ander vroue nie, sal jy maklik jaloers raak en voel jy is nie goed genoeg nie.

Ons is bang om onsself te wees. Ons sal eerder ’n digitale masker dra of ons identiteit probeer vind in hoeveel volgelinge of “vriende” ons het. Dis makliker om weg te skram van die realiteit en eerder ’n nuwe lewe en ’n nuwe storie te skep waarmee ek gemakliker is. ’n Storie waarin ek mooier en beter is as in die regte lewe.

Almal is deel van die verbruikersmentaliteit

Ons dink maklik dat die millenniërs, of generasie Y (gebore tussen 1982 en 1999), die groot dryfkrag is agter die individualistiese kultuur in die wêreld. Dan praat ons nog nie eers van die individualisme op steroïede van generasie Z (gebore tussen die laat 1990’s en 2012) nie!

Navorsing van die PEW Research Centre wys dat millenniërs die eerste moderne generasie is wat ekonomiese druk ervaar met hoë studentelenings en werkloosheid. Hulle het nie baie vertroue in mense nie. ’n Moontlike rede hiervoor is dat hulle voel dat hulle deur die ouer generasies in die steek gelaat word.

In sy TED-praatjie What makes a good life, ondersoek die psigiater Robert Waldinger die vraag oor wat ’n goeie lewe uitmaak.

Hy verwys na navorsing uit die Harvard Study of Adult Development, wat aandui dat millenniërs se grootste droom is om ryk te word (80% streef daarna), en om gewild en beroemd te wees (50% streef na hierdie doel). Hulle primêre doel en strewe is dus geluk, wat vir hulle beteken: rykdom en populariteit.

Ons kan mekaar baie vinnig en maklik op sosiale media opsom en iemand dan as ’n model opstel om na te streef. Iemand wat volgens wêreldse standaarde alles het.

Die dryfkrag agter individualisme is dat almal hulle eie droom moet volg. Dit wat van jou verwag word in die samelewing, moet jou nie verhoed om jou volle potensiaal te bereik nie.

Volgens die sielkundige dr. Jean Twenge het elke ouer generasie altyd die gevoel dat die jonger generasie selfsugtig en selfgesentreerd is. Dus is hierdie houding nie slegs van toepassing op generasie Y of generasie Z nie.

Ons kan mense nie sonder meer in generasieklasse plaas en almal saam groepeer nie. Ongeag ons ouderdom is ons almal produkte van hierdie kultuur. Ons word saggies in die rigting gedruk waar die individu op die voorgrond staan.

’n Verbruikersmentaliteit vat pos, wat die opheffing van die self aanmoedig om die hol verhoudings van die postmoderne kultuur te probeer vul. Dit het ’n sneeubaleffek, waar mense die oppervlakkige verhoudings probeer regmaak deur meer egosentries te raak.

Ons is gewoond om alles dadelik te kry

Die sielkundige Dan Gilbert gesels in sy TED-praatjie oor die effek wat oombliklike bevrediging het ten opsigte van die slegte keuses wat ons maak. Die strewe na onmiddellike bevrediging sal ons logiese denke en rasionalisering troef en veroorsaak dat ons verkeerd kies.

Paul Roberts sê ons leef in ’n verbruikerskultuur “almost too good at giving us what we want. I don’t just mean the way smartphones and search engines and Netflix and Amazon anticipate our preferences. I mean how the entire edifice of the consumer economy, digital and actual, has reoriented itself around our own agendas, self-images, and inner fantasies. With each transaction and upgrade, each choice and click, life moves closer to us, and the world becomes our world.”

Ons is gewoond om presies te kry wat ons wil hê – wanneer ons dit wil hê. Mense word vandag groot met die idee dat hulle hulle eie en unieke drome moet nastreef. Ons kan maar doen net wat ons wil, ons moet net onsself wees, want elkeen is spesiaal.

Dit mag dalk baie goed klink, maar dit behels dat ons onsself die hele tyd meet aan ander en of ons al ons groot droom bereik het. Ons dink ons kan slegs onsself wees indien ons uniek is, indien ons ’n buitengewone iéts geword het.

Daar sal altyd iemand wees wat ’n beter en meer unieke werk het as jy. Daar sal altyd iemand wees met meer Instagram-volgelinge. Daar sal altyd iemand wees wat bruingebrand is en met ’n sespak spog terwyl jy met jou love handles tevrede moet wees. As jy jouself met ander vergelyk, gaan jy vasgevang word in die afwaartse spiraal van depressie.

David McCullough, ’n Engels-onderwyser by Wellesley Hoërskool, het tydens die afskeidseremonie vir skoolverlaters vir hulle gesê hulle is nie spesiaal nie. As almal spesiaal is, is niemand mos spesiaal nie! Sy toespraak “You are not special” is al meer as tweemiljoen keer op YouTube gekyk. “Climb the mountain so you can see the world, not so the world can see you,” vertel McCullough die kinders.

Selfsug is oral, ook in die kerk

Mense stel net belang in community solank as wat dit een vraag reg beantwoord: “What’s in it for me?” As hulle geen voordeel uit hulle saamwees met ander kry nie, stel hulle nie meer belang nie.

Hierdie selfsug-virus het ook die kerk getref. Luister maar net hoe praat mense oor ’n kerk wat vir hulle werk: “Ek kry geestelike kos daar.” “Die leiers is vriendelik met my.” “Almal groet my en gee vir my om.” Goed en wel, maar dit is steeds geskoei op die vraag: “What’s in it for me?”

Min Christene sien regtig kans om selfloos te leef of om hulle lewe vir ander te gee. Ons het ons geloof ’n verbruiksartikel gemaak met gebed as die manier om alles wat ons van God wil hê in die hande te kry.

Ons geestelike behoeftes en begeertes, ons “wants and needs,” is eindeloos lank en op onsself gefokus. Geen wonder dat egte geloofsgemeenskap in kerke tweede kom nie.

Miskien moet ons eerder vra: Hoe leer ek myself deur en deur ken en hoe kan ek groei in ’n verhouding met myself?

Die Here het ’n baie groot deel van die antwoord gegee toe Hy vir Eva gemaak en Adam gesê het: Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem (Genesis 2:23).

Dis eintlik ’n poëtiese manier waarop Adam sê: “Deur jou leer ek myself ken”, “Daar is dele van myself wat ek net kan verstaan wanneer ek in verhouding staan met jou.”

Die ander persoon word dus die spieël waarin ek kyk en waardeur ek myself leer ken. Dit geld nie net vir ’n huwelik nie, maar ook vir menswees in die algemeen.

Die psigiater Robert Waldinger se navorsing het aangedui dat mense binne liefdevolle, gesonde verhoudings gesonder en gelukkiger is en beter breinfunksies het as persone in ongelukkige verhoudings. Goeie en gesonde verhoudings met mense waardeur jy jouself leer ken, is die geheim vir geluk, en nie geld of status nie.

Wees lief vir almal, nie net vir jouself nie

Tom Smith sê Hebreërs 10:23-25 kan ons help om te beweeg na egte verhoudings en gemeenskap. Gemeenskap, volgens vers 24, is wanneer ons vir mekaar sorg deur mekaar “aan te spoor tot liefde en goeie dade”.

Hoe doen ’n mens dit? Bloot deur die besluit te neem om nie ’n slaaf van hierdie “eie ek”-kultuur te wees nie. Om eerder doelbewus weg te kyk van jouself en aan jou verhoudings te werk.

Probeer om meer te luister sonder om altyd beter te weet. As ons dít op sosiale media kan regkry, sal die wêreld al klaar ’n beter plek wees. Wanneer iemand iets sê waarmee jy nie saamstem nie, moenie dadelik reageer nie. Dis baie wys om eers “daaroor te slaap” voordat jy antwoord. Dit gee jou emosies kans om te bedaar.

Dit moet jou doel wees om met aandag te luister sodat jy meer kan leer – van dié met wie jy dalk nie saamstem nie én van jouself. Vra Hom om jou te verander sodat jy ander meer in ag kan neem.

Dis nodig om in iemand se skoene in te klim en te probeer verstaan hoekom hulle so reageer of optree. Jy het dit al baie gehoor, maar dit bly belangrik. Wanneer jy meer vrae vra as antwoorde gee, help dit jou om ander mense beter te verstaan.

Maak hierdie week doelbewus tyd om vir ander mense te bid. Vra die Here om jou te help om die mense met wie jy in aanraking kom, regtig beter te leer ken en begrip vir hulle te hê. Wanneer jy so begin bid, leer dit jou om ’n slag weg te kyk van jouself.

Kry iemand met wie jy kan gesels oor hoe hy of sy God beleef. Fokus op hoe dit gebeur deur menslike interaksies. Besef jy dat jy Hom beter leer ken deur mense wat van jou verskil? Hoor sommer ook by hulle hoe hulle God beter leer ken deur jou!

Ons hoef nie deur die “eie ek”-kultuur meegesleur te word nie. As gelowiges behoort ons meer tyd te bestee aan ons verhoudings as aan ons Facebook-profiele.