Is jy verslaaf aan besig wees?

0
22
te besig

Om besig te wees is meer as ’n statussimbool. Jy kan daaraan verslaaf raak! Sien die gevaartekens raak en bevry jou daarvan. Herstel dan Sondag as jou bedoelde rusdag.

Om besig te wees is meer as ’n statussimbool. Jy kan daaraan verslaaf raak! Sien die gevaartekens raak en bevry jou daarvan. Herstel dan Sondag as jou bedoelde rusdag.

“Next customer please,” sê die elektroniese stem by die kassiere waar ’n ry vroue wag om te betaal. Amour haat hierdie laatmiddagjaagtog deur haar gunstelingwinkel. Die klante se geduld en die winkel se voorraad kruideniersware is deurgaans laag.

Sy loer in die trollie of sy alles het vir aandete. Haar man en die drie seuns is gelukkig bereid om self kos te maak sodat sy Pilates toe kan gaan. Hulle ignoreer net altyd alle vorms van groente. Sy wil sorg dat daar iets met vesel en minerale gaar is voordat sy ry.

Terwyl sy betaal, bel die voorsitter van een van die gemeente-aksies. Jammer om te pla, maar weet sy van môre se dringende vergadering? Kan sy as die gemeentebestuurder dit asseblief bywoon?

Met een hand stuur Amour die trollie en met die ander een tik sy ’n nota op haar foon. Dankie tog vir slimfone wat dagboek, wekker en vriendin is!

Van fone gepraat: Sy moet nog haar skoonsus bel oor Sondag se saamkuier. Hulle moet fyn beplan, want die omgeegroep wil vroeër as gewoonlik bymekaarkom.

“Dankie,” sê sy vir die karwag en klim in haar motor. Netnou se Pilatesklas sal haar kans gee om die res van haar week te beplan.

Diagnoseer jouself: Is jy verslaaf aan besig wees?

Jy is deesdae niémand as jy nie iemand met ’n vol program is nie. Geen sosioloog hoef ’n navorsingsprojek aan te pak om dit te bewys nie. Luister maar wat antwoord die meeste mense as iemand hulle vra hoe dit gaan: “Besig, dankie.” Kan jy jou dit voorstel dat jy ooit sal antwoord: “Lekker aan die niksdoen, dankie”?

Hierdie “verpligte” besige program kan jou lewe oorneem. Dit word iets waarvan jy nie kan loskom nie. Iets waaraan jy jou waarde as mens meet. En dan word jy ’n slaaf daarvan.

Ds. Johan Geyser van Mosaiek Gemeente in Fairlands sê mense kan hulleself monitor of hulle geneig is tot besig-wees-verslawing. Enige “ja” op die volgende vrae is ’n waarskuwingslig:

• Is jou om-te-doenlysie meer as wat jy elke dag kan doen?
• Is dit vir jou moeilik om nee te sê vir groot geleenthede wat jou kant toe kom?
• Voel jy skuldig as jy ontspan? Is jy trots daarop om te sê: “Ek is altyd besig”?
• Sukkel jy om af te skakel as jy gaan slaap?
• Neem jy gereeld werk saam huis toe?
• Sê die mense om jou dat jy dit stadiger moet vat? Moet jy eers siek word om dit stadiger te vat?
• Kla jou gesin dat jy hulle emosioneel verwaarloos?
• Ervaar jy gaandeweg dat jy nie meer kontak het in jou verhoudings nie? Voel dit of jy ’n vreemdeling vir jou vriende is?
• Voel dit of jy ook nie meer ’n innige verhouding met God het nie?

Waar kom vandag se besig-wees-verslawing vandaan?

Die Bybel sê duidelik dat werk en fluks wees goeie dinge is. Oor hulle wat die Here dien, sê Psalm 128:2: Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees. Hierteenoor waarsku Spreuke 18:9: Een wat nalatig is met sy werk en een wat alles afbreek, is tweelingbroers.

Besig wees is nie sonde nie. Dis hoe jy die koninkryk van die hemel na mense toe neem. Jou geloof maak mos dat jy alles in jou lewe anders doen as die wêreld. So ook jou werk.

Wat die meeste van ons vergeet, is dat hierdie gawe van werk grense insluit. Of jy in ’n kantoor werk, jou eie besigheid het, in komitees dien of jou huishouding bestuur: Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie (Spreuke 23:4).

Jy weet jy is ’n gestuurde met ’n hemelse opdrag. Jy weet ook dat wie jy is, belangriker is as wat jy doen. Jy weet jy is vry. Hoekom sal jy jou dan soos ’n slaaf vasbind aan jou aktiwiteite? Hoekom meet jy jouself aan die wêreld se skeefgetrekte waardes? Jy hoef niemand se goedkeuring te verdien deur jou program so vol as moontlik te maak nie.

Nou moet jy dit net glo en in jou tydsbestuur toepas.

Bevry jouself en neem beheer oor jou program

Ds. Johan het vier voorstelle hoe jy jou van oormatige besig wees kan losmaak:

1. Vind jou waarde in Hom in Wie jy glo

In Matteus 6:23-26 vra Jesus vir sy dissipels of hulle weet wat hulle werd is. Hy verduidelik toe vir hulle: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie… Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”

Jesus wil nie hê sy volgelinge moet hulle waarde hoofsaaklik in dinge soek nie. Hy wil hê dat hulle hulle allereers vir die koninkryk en die wil van God moet beywer. Dan sal Hy hulle ook al die ander dinge gee wat hulle as belangrik vir die aardse lewe beskou.

2. Wees tevrede met wat jy het – meer nog: geniet dit!

Besig-wees-verslaafdes bestee die meeste van hulle tyd aan opgaar en presteer. Dan is daar nie tyd oor om te geniet wat hulle reeds bereik het nie. Hulle moet kennis neem van wat daar in 1 Timoteus 6:6-8 geskryf staan: Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.

Ons moet nie net tevrede wees met wat ons het nie, maar ons moet dit ook geniet. Prediker 3:12-13 beveel aan: Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ’n gawe van God.

Fokus op wat nou in jou lewe goed, reg en plesierig is. Dit trek outomaties jou aandag af van wat jy dink nie goed genoeg is nie. Dan hoef jy nie so baie ekstra te doen om jou gelukkiger of meer suksesvol te laat voel nie.

3. Beperk jou werk en aktiwiteite en beplan meer rus

Om op die sewende dag te rus is ’n opdrag van die Here. Ons moet gereeld rus omdat ons liggame rus nodig het. Ons is so gemaak.
Jesus self het dit nodig gevind om te rus wanneer Hy besig was. Sy besig wees het ingesluit om groot skares mense te leer en van hulle siektes te genees. Soms moes Hy baie mense met groot behoeftes agterlaat om ’n bietjie weg te kom, maar Hy het dit gedoen.

Die besig-wees-verslaafde voel altyd skuldig as sy nie besig is nie. Iets dryf haar gedurig om besig te bly. Jy verrig egter nie noodwendig altyd so baie terwyl jy net besig bly nie. Maak ’n punt daarvan om nie op Sondae te werk of take in te haal nie.

4. Vertrou dat God vir jou in totaliteit sal sorg

Iemand wat oormatig besig is en voel sy kan nie loskom nie, moet haar verstaan van vrede verander. Jy kan kies om te glo dat jy gejaagd deur die lewe moet gaan. Dat jy jou onsekerheid en vrese net kan verdryf deur jou soeke na rykdom, status en erkenning.

Of jy kan kies om te glo dat vrede en rustigheid vir jou gegee sal word. Jy kan kies om die belofte van Hebreërs 13:5-6 jou eie te maak: Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ Daarom kan ons met vertroue sê: Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?

Vandag se rusdag is heeltemal anders as die Sabbat

“Gelowiges kan nie die Ou-Testamentiese wette net so oordra na vandag nie. Mense wat uit die Nuwe Testament leef, is vry van wettiese voorskrifte. Daarom is iets soos sport op Sondag nie teen die ‘reëls’ nie.

“Onthou ook: Die eerste kerkmense het die hele week gewerk. Gelowiges moes maar tussen hulle werk deur byeenkomste hou. Dit het eers baie later gebeur dat een dag in die week vir alle mense ’n vakansiedag is. Trouens, dit kom uit ’n baie ongelukkige tyd toe die staat die kerk vir eie gewin gebruik het en andersom.

“Ons moet elke dag as die Here se dag verwelkom en voluit op daardie dag vir Hom leef. Om Sondag nie te werk nie en rustig na ’n erediens te gaan, is ’n voorreg.”

Die beste gebruik van die voorreg om nie te werk nie

Die skrywer van The Message, Eugene Peterson, glo in een “voorskrif” vir Sondae: Pray and play. Gebed en pret kan ’n goeie riglyn wees om jou rusdag te beplan.

Gebed dui op wat jy doen om in jou geloof te groei. Eredienste bywoon is die voor die hand liggende opsie. Maar jy mag ook iets anders doen – iets ekstra of vir afwisseling. Dink aan Bybelstudie met jou gesin in julle tuin. Of om kerk te luister oor die radio of op TV te kyk. Wat van saam met ’n groep vriende gaan stap of fietsry en dan saam in die natuur te bid? Of gaan waar jy alleen kan wees (soos afgespreek met jou gesin!) vir ordentlike stiltetyd.

Pret is die sambreelterm vir wat jy doen wat jou vars en uitgerus laat voel. ’n Middagslapie, om ’n lekker boek ononderbroke te lees, koekbak… Kuier met mense wat jou inspireer (nie vermoei nie!), speel outydse bordspeletjies met die kinders of jou ouma… Dink daaraan om alle elektroniese toestelle gedurende hierdie tyd af te skakel. Dis heerlik bevrydend!

Beyond 24/7 deur Nancy Sheen vertaal en verwerk deur Hanneke van Coller. Johan Geyser se insigte oor werkholisme aangehaal uit een van sy preke in Mosaïek Gemeente, Fairlands. Hennie Stander se siening van die Sabbat uit: Here, ek het ’n vraag (uitgegee deur Carpe Diem Media), p. 269-270