Is lojaliteitsprogramme die moeite werd?

0
124
inkopies.jpg

Natuurlik wil jy elke sent spaar wat jy kan … maar doen jy regtig? Elke winkel het deesdae een of ander lojaliteitsprogram – laat dit jou regtig spaar?

Watter tipe programme is daar?

STEMPELS Hierdie is die eenvoudigste en bestaan al lank. Elke keer wat jy ʼn roomys by ʼn sekere stalletjie koop, word ʼn stempel op jou kaartjie gedruk. As jy tien gekoop het, kry jy een verniet.

KOEPONS Afslagbewyse is ook al so oud soos die berge – maar Checkers het dit ’n nuwe gesig gegee. Jy hoef nie meer ’n papiertjie uit te knip nie! Jy kry die koepons op jou selfoon, sleutel jou kode by die betaalpunt in en siedaar! Jy spaar R50 (of hoeveel ook al) … Dis eenvoudig om die program op jou foon af te laai en jy kry een kode vir al die koepons wat jy gebruik. Hulle noem dit EeziCoupons – ’n blink idee!

KOOPBEWYS Afhangende van hoeveel jy spandeer, kry jy ’n koopbewys vir jou volgende aankope. Clicks se ClubCard is seker die grootse wat koopbewyse betref. Die gesukkel is net dat hulle eers lank ná jou aankope vir jou die koopbewys stuur. The Focshini Group doen dit dadelik! Gemeet aan hoeveel jy spandeer, kry jy dadelik ’n koopbewys saam met jou betaalstrokie wat jy met jou volgende aankope kan gebruik.

AFSLAG Met Woolworths se WRewards kry jy onmiddellik afslag op sekere produkte. Daar is ook verskillende tipes WRewards kaarte – hoe meer jy spandeer, hoe groter is die afslag. Wrewards-lede kry ook ander voordele soos eerste opsie op uitverkopings.

PUNTE Winkels soos Pick ’n Pay en Dischem gee vir jou punte soos wat jy koop. Die gemiddeld is dat een punt een sent werd is. So ’n 100 punte is R10. Jy moet ook dikwels ’n sekere aantal punte hê voordat jy dit kan omsit in “kontant” wat jy weer by die spesifieke winkel kan spandeer. Die tipe produk en hoeveelheid geld wat jy spandeer, bepaal die punte wat jy kry.

Hoe kies jy ʼn lojaliteitsprogram?

Tensy jy met honderde kaarte in jou handsak wil rondloop, moet jy ’n paar programme kies van winkels waar jy regtig baie aankope maak. Kenners voorspel dat selfoon apps binnekort die klomp plastiekkaarte gaan vervang (ons kan nie wag nie!) maar tot dan, vra die volgende vrae:

– Gaan dit jou iets kos?
– Hoeveel is die vergoeding werd? Wat gaan jy terugkry?
– Hoe lank gaan dit neem voordat jy iets terugkry?
– Wat is die beperking op vergoeding wat jy gaan kry?
– Hoe maklik is dit om jou vergoeding te gebruik?
– Is daar ander voordele?

Meeste banke en mediese fondse soos Discovery het ook lojaliteitsprogramme – sommige is baie kompleks met verskillende lae van vergoeding. Die heel beste is om met iemand daaroor te praat sodat jy kan agterkom wat dit jou gaan baat – elke verbruiker se gewoontes verskil.

Behalwe vir die vergoeding en beloning wat jy kry, help jy eintlik ook die verskaffers om ’n beter diens te lewer. Vir die eerste keer kan hulle nou presies sien wie koop wat, wanneer en waar. Op hierdie manier kan hulle sorg dat die regte produkte, op die regte plek en op die regte tyd beskikbaar is.

So, doen maar ’n bietjie moeite en kies vir jou ’n paar programme – if you can’t beat them, join them! Maak dit maklik en kry vir jou ’n aparte houertjie vir al die kaarte, los dit dan sommer in jou motor of in jou handsak. Want ongelukkig kan jy meestal nie voordeel trek as jy nie jou kaart by jou het nie! Behalwe nou met EeziCoupons … ons is mal daaroor!!

DEEL
Vorige artikeln Wonderwerk
Volgende artikelorden jou binnewêreld
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.