Is my teikengewig realisties?

gewig

Ideale massa behels baie meer as net ’n eenvoudige formule wat jou lengte en gewig in ag neem.

Hoe voel jy oor jou gewig en hoeveel wil jy weeg? Sommige mense is tevrede met net gesonde kilogramme en steur hulle nie juis aan ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) nie.

’n LMI van minder as 18,5 klassifiseer as ondergewig, tussen 18,5 en 25 as normaal en bo 25 as oorgewig. Alhoewel navorsing wys dat mense met ’n gesonde indeks ’n lae risiko vir leefstylverwante siektes het, is dit nie die alfa en omega vir ’n gesonde liggaamsbou nie.

Hoe bepaal jy jou ideale massa?

Verskeie faktore, soos jou beenstruktuur of liggaamsbou, asook jou huidige vet- en spiermassa moet in ag geneem word. Leefstyl, ouderdom en aktiwiteitsvlak speel ook ’n rol.

Om te bepaal of jou ideaal realisties is, antwoord die volgende vrae:

Wat het jou op dié syfer laat besluit?
Is dit hoeveel jy voorheen geweeg het?
Hoe goed het jy toe gevoel?

[VIDEO] Is my teikengewig realisties?

Wanneer jy weet wat jou doelwit is, is die volgende oorweging: Wat moet ek doen om daarby uit te kom en dit dan daar te hou? Sal ek dit kan doen deur net gesonder te eet en matig te oefen?

Of sal dit gepaard moet gaan met mediese behandeling, stimulante, vetverbranders en ure se oefen?

Dit is belangrik dat jou teikengewig volhoubaar moet wees. Dit moet min of meer konstant bly en nie heeltyd wipplank ry nie.

Jy moet goed voel, genoeg energie hê en gemaklik wees in jou klere. Jy moet die lewe kan geniet en nie heeltyd bang wees om iets te eet wat jy werklik geniet nie.

Carina Fourie Carina Fourie, dieetkundige
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Carina.