Is ’n pak slae goed of sleg?

0
314
pak_slae.jpg

Meeste van ons het grootgeword met ʼn ordentlike pak slae wanneer dit nodig was. Vandag word dit afgekeur. Wat sê twee kenners?

“Nee, ’n pak slae kan kinders keer om ooit iets te waag.”

Jana van Jaarsveld is ’n opvoedkundige sielkundige.

jana_van_jaarsveld.jpgLyfstraf as ’n manier om te dissiplineer kan jou kind se emosionele ontwikkeling ernstig knou. Dit stel die voorbeeld dat fisieke geweld ’n aanvaarbare manier is om konflik op te los en gedrag te verander. ’n Kind ontwikkel dan maklik emosies soos wantroue, angs en intense magteloosheid. Dit kan veroorsaak dat hy later as tiener rebels raak en teen alle reëls in opstand kom. Hierdie opgekropte aggressie staan ook in die pad van ’n hegte vertrouensverhouding tussen jou en jou kind.

Dit mag dalk lyk asof ’n pak slae jou hardkoppige kind in ’n japtrap soet en gehoorsaam maak, maar hy verander bloot sy gedrag omdat hy bang is, nie omdat hy verstaan wat jy hom probeer leer nie.

Ek kry baie te doen met veral pa’s wat sukkel om verhoudings met hulle eie kinders op te bou omdat hulle self as kind geslaan is. En, ontdek hulle nou, ’n pak slae werk nie. Hoekom nie?

Omdat jy steeds nie verstaan wat jou kind probeer kommunikeer nie. Byvoorbeeld: ’n Tiener wat by die huis kom, sy tas neersmyt, niemand groet nie en ’n kamerdeur toeklap, probeer iets kommunikeer. ’n Pak slae gaan dan niks help nie. Sê eerder: “Ek kan sien iets het jou omgekrap.” Punt. Moenie verder karring nie. Maak bloot die deur vir kommunikasie oop. Hy sien jy weet wat aangaan, so, hy hoef nie weer ’n tas neer te gooi nie. Hy sal self later met jou kom praat as hy wil, maar ’n pak slae blokkeer enige moontlike kommunikasie.

Effektiewe kommunikasie gaan juis daaroor om die onderliggende boodskap en emosie in jou kind se gedrag raak te sien. Kinders kommunikeer nieverbaal. ’n Kleintjie wat aan iets wil vat, is nie stout nie en verdien nie ’n pak slae nie. Sy is bloot besig om haar plek in die ruimte uit te werk en sensories te ontwikkel. Wanneer jy haar heeltyd probeer leer dat alles wat sy ontdek of ervaar, stout is, gaan sy nooit iets waag of haar grense verskuif nie.

Dissipline behoort iets te wees waaroor die hele gesin saamstem. Almal moet weet wat aanvaarbaar en wat onaanvaarbaar is, en ook wat die gevolge van onaanvaarbare gedrag is. En dissipline moet nooit ’n kind die idee gee dat hulle nie emosies mag ervaar en wys nie.

“Ja, ’n pak slae op die regte tyd leer kinders dat daar gesag is.”

Dr. Elize Groenewald is ’n kliniese maatskaplike werker

elize_groenewald.jpg’n Pak slae kan ’n goeie manier wees om kinders te dissiplineer. Dit kan jou kind leer dat verkeerde gedrag sekere gevolge het. Sommige kinders is ook meer feitelik as emosioneel ingestel. Dit wys dan duidelik vir so ’n kind waar die grense is en wat reg en verkeerd is. Dit is gewoonlik dié tipe kind wat ook oor en oor jou gesag sal uitdaag en toets. Mooipraat gaan nie noodwendig die gewenste reaksie by so ’n kind hê nie, net soos ’n pak slae ’n stil, dromerige kind kan breek. Maar kinders wat nie ’n saak het met ander se emosies nie, het van tyd tot tyd ’n pak nodig.
Interessant genoeg is daar sommige kinders wat letterlik vir lyfstraf vra. Dit het al gebeur dat ’n kind vir my sê sy moes pak gekry het, want sy weet sy het verkeerd opgetree. Sy verwag dan ’n pak omdat sy reeds self besef het sy was verkeerd. Maar ’n pak uit die bloute, sonder waarskuwing en sonder dat jou kind verstaan hoekom dit gebeur, gaan nie werk nie.

As jy byvoorbeeld elke aand na ete vra dat jou kind sy vuil bord in die opwasbak moet gaan sit, maar dit gebeur nie, word jy moedeloos. Tot jy een aand so magteloos voel dat jy hom ’n pak gee. Die probleem hiermee is dat daar nooit voorheen enige gevolge op sy verkeerde gedrag was nie. Jy het net gevra, geen reaksie gekry nie, en toe op ’n dag pak gegee. Jou optrede en manier van dissiplineer moet altyd konsekwent wees. Die beter manier is om vooraf vir jou kind te verduidelik dat jy net een keer gaan vra en daarna gaan hy pak kry. As hy dan weer ongehoorsaam is, moet jy dit deurvoer.

Wanneer jy jou kind pak gee, moet jy kalm wees en nie jou eie negatiewe emosies op hom uithaal nie. As jy jou kind uit frustrasie slaan, steek jy ’n grens oor. Lyfstraf is nie ’n uitlaatklep vir jóú nie, dis ’n riglyn vir jou kind. Mishandeling is nooit aanvaarbaar nie. ’n Hou met jou hand op jou kind se boud is die enigste soort pak slae wat aanvaarbaar is.

’n Pak op die regte tyd en vir die regte kind kan dus ’n goeie ding wees. Die meeste ouers weet intuïtief wanneer daardie “tyd” aangebreek het.

FORUM:
Gee jy jou kinders pak slae? Gesels saam op ons forum.