Is positiewe denke altyd goed vir jou?

0
377
positiewe_gedagtes.jpg

Ons het dit al duisende kere gehoor … dink net positief! Tog wonder ons of positiewe denke noodwendig altyd goed is. Twee kenners deel hulle opinies.

“Dit is nooit goed om die waarheid met positiewe denke te ontken nie.”

Anton Smith is ’n pastoor en lewensberader

Positiewe denke is ’n modewoord wat mense gebruik om hulle eie verantwoordelikheid op ’n feel good-illusie af te skuif. Goeie en slegte dinge gebeur met almal, niemand spring dit vry nie. Ek sê altyd mense raak om twee redes wedergebore: omdat hulle bang is vir die duiwel of omdat hulle die Here aanneem. So is dit ook met jou denke: Jy misbruik dit omdat jy bang is vir die lewe óf jy sien dit as ’n manier waarop jy die lewe kan aanvaar.

As jy bang is vir die lewe, gaan jy heeltyd agterdogtig wees en oor jou skouer kyk. Sodra iets vir jou ‘sleg’ lyk, gaan jy dit probeer beter dink. Maar wanneer jy die lewe aanvaar net soos dit is, dink jy nie aan goed en sleg nie. Dis net hoe die lewe is. Sodra jy ophou om situasies as ‘sleg’ te klassifiseer, hoef jy nie positief te dink om dit beter te maak nie. Dit is bloot net wat dit is.

Dit kom daarop neer dat jy ‘regte’ gedagtes moet dink, nie positief of negatief nie. Wees realisties. Die oomblik wanneer jy met die waarheid begin lol, is dit nie goed vir jou nie. Niks wat jy dink, gaan jou realiteit makliker maak om te verduur nie. Die lewe, selfs al is dit moeilik, het nie kunsmatige versoeters nodig nie. Alles wat met jou gebeur, bou jou karakter. Hoe meer jy dit gaan ontken, hoe leër gaan jy word. En ongelukkig is dit dikwels hoe positiewe denke gebruik word – om te maak of dit wat gebeur, nie regtig is nie.

Daar word dikwels gesê: As die lewe vir jou suurlemoene gee, maak stroop daarvan. Regtig? En hoekom? Wat as daar waarde in die suurlemoene lê? Ek sê glad nie jy moet pessimisties wees nie, inteendeel. Maar wanneer iets slegs met jou gebeur, aanvaar dat dit nóú jou situasie is. Moenie dit beter of slegter probeer dink nie. Laat dit net wees, met die wete dat dit nie vir altyd so gaan bly nie. Wees real. Nagemaakte dinge werk nooit baie goed nie, of dit nou kos, klere of gedagtes is. ’n Leuen is nooit die moeite werd nie – jou houding teenoor die waarheid is wel.

Die teenpool van beide negatiewe en positiewe denke is gedagtes wat gaan oor dit wat wel moontlik is. Dit maak nie saak wat gebeur nie, fokus op wat moontlik is, want dit is wat jou eerlike hoop gee.

“Positiewe denke is manier van leef wat ʼn goeie invloed het.”

Igno van Niekerk is ’n motiveringspreker en deeltydse dosent

Jou denke beïnvloed die manier waarop jy die lewe aanpak. Die een stemmetjie waarvan jy nooit kan wegkom nie, is daardie een in jou kop wat kommentaar lewer oor alles wat om jou gebeur. As jy heeldag met iemand gesels, glo ek jy sou iemand verkies wat opgewonde is eerder as ’n foutsoekende klakous. Jy is heeldag in gesprek met jouself – kies dus jou geselskap goed.

Baie mense dink jy is nie realisties as jy positief dink nie. Hulle is al so in die groef van negatiewe denke dat hulle glo ons leef in ’n wêreld waar alles net verkeerd is. Om positief te dink beteken dat jy ’n keuse maak om in jouself, jou gemeenskap, jou land, die wêreld en jou God te glo. Dit beteken dat jy wonderwerke eerder as krake sien; dat jy jouself en ander respekteer.

Uiteindelik behels positiewe denke dat jy ’n bewustelike of selfs onbewustelike keuse maak om te fokus op dit wat saak maak. Ongelukkig is daar ’n verslawing aan negatiewe sensasie, slegte nuus en die vermoë om net slegte dinge raak te sien. Slegte nuus verkoop. Positiewe denke beteken om te weet wat aangaan, maar nie verslaaf te raak en op loop te gaan met alles wat sleg is nie.

Jy leef elke dag met jouself saam – dis nou die één persoon van wie jy nie kan wegvlug nie. Maak jouself ’n moeitewerd-mens. Positiewe denke maak jou dankbaar. Jy sien altyd die goeie in enige situasie raak. Dit help jou om jou verlede te geniet eerder as om dit te blameer, om uit te sien na die toekoms eerder as om op te sien daarteen. As Suid-Afrikaner weet ek ook van alles wat verkeerd is in ons land, maar daar is ook dinge wat reg is. Positiewe denke beteken nie dat jy al die antwoorde sal hê oor hoekom goed soms skeefloop en mense seerkry nie. Jy neem kennis van negatiewe realiteite, maar jy laat jou nie intrek in die spiraal van negatiewe denke en gesprekke nie. Jy let op hoe jy met jouself praat en kies om die goeie raak te sien.

Ek bestudeer en ervaar die impak van positiewe denke al jare. Ook die effek van negatiewe denke! Ons almal val maar êrens in ’n gat van negatiewe denke. Jy kan gerus onthou dat die eerste reël van so ’n gat is dat jy moet ophou grawe wanneer jy in een is!

Neem deel aan ons forum: Hoe lyk jou gedagtes? Positief, negatief of realisties?