Is romanse uit die mode?

0
15
romans.jpg

Navorsing wys dat mans ook ’n begeerte vir die romantiese het.

Romanse is iets wat in elke huweliksverhouding ’n rol speel. Tog is dit interessant om te sien hoe mans en vroue se persepsie daarvan – en soms behoefte daarna – verskil.

In Shanti Feldhahn se boek, For Women Only, het sy met ’n 1000 mans van al die sektore van die samelewing onderhoude gevoer. Die navorsingsresultate het bevind dat 84% van mans graag ’n begeerte vir maanskyn en rose in ’n verhouding het. Die antwoorde was vir jonk en oud, getroud of ongetroud, almal dieselfde.

As mans dan ’n begeerte vir romanse het, wat verhoed hulle om die eerste stap te neem?

Waarom is mans bang?

1.   “Ek sal dit nie goed genoeg kan doen nie”
“Die meeste mans is bang vir mislukking en doen dan eerder niks,” sê een van Feldhahn se respondente. Mislukking lei tot vernedering, wat die meeste mans ten alle koste wil vermy.

2.   Slegte ervarings
’n Negatiewe ervaring in die verlede verhoed dat mans weer ’n risiko op die romantiese vlak sal neem. Spot en kritiek vererger egter hierdie situasie. Een man het tereg gesê: “Jy spot my dat ek nie die kersligete heeltemal regkry nie, nou sal jy vir vyf jaar moet wag voor ek weer probeer …”

3.   Heeltyd speeltyd
Hoewel die meeste vroue die bos blomme en sagte agtergrondmusiek as romanties beskou, het die meeste mans aangedui dat hulle dit as romanties beskou om saam met hulle vroue te “speel”.

“Om saam met my vrou te gaan gholf speel, ski, in die berg te stap en te gaan duik in die diepsee, is vir my baie romanties,” vertel een man. “Dit gee my ’n ware gevoel van nabyheid en intimiteit met my vrou.”

Laat die liefdesvonke spat

Stap 1: Moedig hom aan

Al is ’n vrou se aanmoediging en aanvaarding altyd belangrik vir haar man, is dit veral belangrik by romanse. Wanneer hy ’n poging aanwend is dit jou werk – en jou vreugde – om aan hom te bewys dat jy dit waardeer.

Stap 2: Verlei jou man

Hou die verhouding interessant. Verlei jou man en gee vir hom iets om voor te werk. Dit sal sorg dat daar altyd opwinding in julle verhouding bestaan.

Stap 3: Subtiele wenke

Mans kla dikwels dat hulle nie vroue se gedagtes kan lees nie. Vertel hom op ’n subtiele manier wat jy nodig het en romantiseer jou man op sy manier. Voor jy jou oë kan uitvee, sal hy jou ook op jou manier romantiseer!

Wat is vir mans romanties? Hier is ’n paar manne se idees.

Pieter, 33
Ek beskou enigiets wat buite die ritme, roetine, geraas van die alledaagse gedoen word, as romanties.

Die probleem is dat om iets spesiaals te doen soms ’n groot projek word en mens duisende verskonings uitdink oor hoekom dit nie nou kan gebeur nie. Ek erken dat ek hopeloos te selde romanties is! My vrou verdien ’n daaglikse, weeklikse, maandelikse, jaarlikse … ontvoering van oorrompelende liefde!

Ek wil ’n St. Joseph-lelie vir haar op ’n versteekte plekkie in die berge gaan plant, hom gereeld besoek en vertroetel en oor haar karakter skryf. Wanneer hy blom, neem ek haar saam, pluk vir haar die blom en lees vir haar wat ek oor haar geskryf het.

Hennie, 31
My vinnige antwoord oor romanse: “Dit is dít waarna my vrou verlang en ek soms oor wonder …” Die meeste mans voel half ongemaklik as dit by romantiese idees kom, want hulle dink dis iets vir die kunssinniges, maar eintlik gaan dit oor liefde, verliefdheid, die verbeelding en selfs avontuurlike optrede.

Net soos die huwelik ’n commitment op finansiële en fisiese vlak vra, moet ons nie van die sielkundige, emosionele en romantiese vlakke vergeet nie.

So manne, koop maar daai rose, kry ’n lekker wyn en koop ’n aandete, reël dat julle vir ’n slag alleen by die huis is en steek tog ’n paar kerse aan terwyl jy ’n ‘diep’ CD opsit. Of wat van jy ontvoer haar vir ’n slag en vat haar veld toe vir ’n piekniek?

Eintlik weet ons hoe, ons kort net soms ’n bietjie hulp.

MC, 29
Wat ek as romanties beskou, moet buitekant die normale of algemene cliché wees. Ek wil pret hê saam met my vrou. Om saam te speel is vir my heerlik. Om saam met my vrou wyn te drink of saam op die bank te lê en movie kyk is great fun.

Ons as mans word maklik afgeskrik van romanse omdat dit na te veel werk klink, maar dit is eintlik maklik. Ek dink ’n bietjie bederf is ongelooflik belangrik vir ’n huwelik. Te veel verhoudings funksioneer met ’n ‘werk’-paradigma, romanse herinner ons net daaraan dat ons kan speel en kan fun !