Is skoonheid net veldiep?

410

Plastiese chirurgie is lankal nie meer eksklusief beskikbaar vir ’n uitgesoekte handjievol persone nie. Vandag is Botox so algemeen soos ’n facial.

Jy het seker al na ’n makeover-program gekyk waar ’n vrou binne ’n paar weke ’n totale transformasie ondergaan. Haar hare word gekleur en gestileer, haar tande gebleik en haar grimering word onder hande geneem.

Die begeerte om mooier en jonger te lyk is normaal. Miskien het jy self al ’n ontrimpelingsbehandeling of ’n meer drastiese operasie oorweeg. Maar is chirurgie die oplossing?

Estetiese medisyne fokus op kosmetiese voorkomsverbetering deur die behandeling van toestande soos littekens, velverslapping, plooie, moesies, lewervlekke, oortollige vet, selluliet, ongewenste hare, verkleuring van die vel en spinnekopare.

Daar is verskeie behandelingsopsies beskikbaar. Dit wissel van ligterapie, wat liggebaseerde laserbehandeling of haarverwydering behels, en inspuitbare stowwe, soos Botox of kollageen, tot mediese gewigsverliesprogramme en velvernuwingsterapie, wat chemiese afskilfering en mikrodermabrasie insluit.

Botox is goedkoper as ’n gesigontrimpeling en is ’n niepermanente, minder ingrypende oplossing om byvoorbeeld van fyn plooitjies rondom die oë, fronsplooie en voorkopplooie ontslae te raak. Borsvergroting is chirurgie om die borste te vergroot. Dit behels implantate onder die borsweefsel of -spiere en is ’n meer drastiese ingryping.

Voordat jy enige chirurgie oorweeg, neem jouself in oënskou en besluit hoekom jy reken dat jy daarby sal baat, wat jou waardes is en wat jy kan bekostig.

Indien jy steeds van mening is dat jy beter sal voel in jou nuwe bikini as jy byvoorbeeld jou borste laat lig, bespreek die opsies en die voor- en nadele met jou dokter.
 

Ellenore Meyer, mediese dokter

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Ellenore.