Is tweekleur (lippe) ín?

238

Jy hoef nie meer tussen jou twee gunstelinglipkleure te kies nie; jy kan sommer albei gelyktydig aanwend.

Die woord ombré is deesdae op almal se lippe. Letterlik! Dit beteken “skadu” in Frans en verwys na die geleidelike oorskakeling van een kleurtoon na ’n ander.

Die tegniek begin gewoonlik met ’n donkerder skakering aan die buitekant van die lip, wat dan geleidelik na ’n ligter nuanse aan die binnekant versag.

Vermengings van pienk en oranjerooi, pers en ligpers, rooibruin en vleeskleur, wynrooi en perskepienk is net ’n paar voorbeelde van dié unieke variasies.

Vir jou eie ombré-skepping benodig jy twee lipstiffies (een in ’n sagter of teenoorgestelde skakering as die ander), ’n omlyner en ’n kwassie.

Maak seker dat jy ’n gladde oppervlak het om op te werk deur ’n gesigskropmiddel te gebruik om van dooie velletjies op jou lippe ontslae te raak.

Omlyn jou mond en vul die hoeke in met ’n donker potlood. Jy kan ’n plat grimeerborsel gebruik om ’n ligte lipstiffie aan die binnelyn aan te wend.

Wend nou die donker stiffie bo-oor die donker potlood en in die mondhoeke aan. Om ’n geleidelike kleurversagting te skep, gebruik ’n skoon kwassie en skakeer die donker tint effens na binne.

As jy sukkel om die kombinasies te laat saamsmelt, kan jy jou vinger gebruik of jou lippe op mekaar druk om dit te klad.

Wees kreatief, wissel kontrasterende effekte af, meng mat skakerings of glans. Wend blinkertjies aan vir ’n glinstervoorkoms.

KYK OOK: [VIDEO] Wenke vir ombré-lippe

Jolanda en Tanya, JB Makeup

Kliek hier vir meer videos en artikels deur JB Makeup.