Is Vergifnis moontlik?

0
180
vergewe.jpg

Met al die moord, geweld en misdaad wat elke gesin tref – is die vraag op almal se lippe: Kan ʼn mens die misdadigers vergewe vir wat hulle ons aandoen?

Diep in ʼn mens se hart wéét jy dis jou Christelike plig om te vergewe, maar is dit menslik moontlik?

Watter antwoorde gee die Bybel op al dié vrae?

Omdat God vergewe

Die eerste antwoord is verrassend, al gaan dit soms teen ons grein: Dit is moontlik om skuldenaars – alle sondaars, ook dié wat jou skade aangedoen het – te vergewe. Ons kan vergewe omdat God hulle wil vergewe! Nêrens word gesê dat vergifnis maklik is nie. Die Bybel leer ons dat God se liefde so groot is en dat sy genade so omvangryk is, dat elke sondaar, ook die mees skrikwekkende misdadiger, aan die voet van die kruis van Golgota kan gaan staan. Die liefde van die Here wat my verlos het, wat my sy kind gemaak het toe ek dit ook nie verdien het nie, is so wyd dat dit ook vir alle mense – ook die boewe op aarde – geld. Hulle verdien nie om vergewe te word nie. Ek en jy ook nie. En tog vergewe die Here ons!

Ons moet vergewe

Ons kan nie net vergewe nie, ons moet vergewe, leer die Bybel verder. In die Onse Vader-gebed het die Here Jesus sy dissipels – ook óns vandag – leer bid: “Vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt. 6:12). Omdat die Here geweet het hoe moeilik dit is, het Hy net nadat Hy die modelgebed voltooi het, die vermaning bygevoeg: “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie” (Matt. 6:14). In die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser, het Jesus dit nog ʼn keer onderstreep: ons het ʼn dure plig om ons naaste te vergewe – en ook nie net een keer nie, maar so veel keer as wat dit nodig is, selfs “sewentig maal sewe” (Matt. 18: 23-35).

Ons het dit nodig om te kan vergewe

Dis nie alleen ter wille van die een wat ons kwaad aangedoen het, dat ons moet vergewe nie. Ons het dit self nodig. Aartsbiskop Desmond Tutu vertel in sy boek No Future Without Forgiveness van drie Amerikaanse oorlogsveterane wat voor die Viëtnamese Oorlogsmonument in Washington staan. Hulle was al drie oud-krygsgevangenes wat erg onder die Viët-Kong deurgeloop het. Die eerste een vra: “Het julle dié wat julle gevange gehou het, al vergewe?” “Ek sal hulle nooit vergewe nie!” het die tweede soldaat uitgeroep. Toe sê die derde een: “Maar dan lyk dit vir my asof hulle jou nog steeds in die tronk het, nie waar nie?” Slagoffers, ook in ons land, kan daarvan getuig: dié dag toe hulle deur die genade van die Here sover gekom het om hulle oortreders te vergewe, het ʼn berg van hul skouers afgerol. Om te kan vergewe, maak jou vry.

Vergewe en vergeet?

Kan ʼn mens vergewe en vergeet? Baie keer word dit as dié Christelike lewenshouding voorgehou. Jy mag nie eers weer aan die kwaad wat jou aangedoen is, dink nie. Jy moet totaal en al daarvan vergeet. Dis egter nie korrek nie. Sekere dinge wat met jou en jou geliefdes gebeur het, kan jy nie vergeet nie en jy mag dit ook nie vergeet nie. Hoe kan jy vergeet wat met jou man en seun in die oprit na jou huis gebeur het? Hoe kan ʼn vrou vergeet dat sy verkrag is? Hoe kan ʼn hele gemeenskap die lyding van die verlede vergeet?

Een ding is duidelik: vergifnis en versoening kan nie op amnesie (geheueverlies) gebou word nie. Ons kan nie maar net “die boeke toemaak” nie. Die proses van vergewing begin juis waar mense eerlik teenoor mekaar te staan kom, mekaar in die oë kyk en die waarheid met mekaar praat – al is dit ʼn pynlike, verskriklike waarheid. Maar die waarheid maak ’n mens uiteindelik vry. Vergeet kan jy nie, maar jou herinneringe en die pyn van die verlede, kan wel genees en gehéél word. Jy kan leer hoe om deur die smart en pyn te werk, sodat jy aan die ander kant sterker, as oorwinnaar, uitkom.