Is vitamien D belangrik?

382

Vitamien D is een van die voedingstowwe waarvan ons maklik vergeet aangesien ons in sonnige Suid-Afrika bly.

Vir jare het ons aangeneem dat ons nie ’n tekort aan die sonskynvitamien sal hê nie. Dit was derhalwe ’n ontnugtering toe navorsers begin om Suid-Afrikaners te toets. Hulle bevinding was dat minstens die helfte van die bevolking, ten spyte van genoeg sonlig, die risiko loop vir ’n tekort.

Vitamien D speel ’n baie belangrike rol in talle liggaamsprosesse en werk amper soos ’n hormoon. Elke sel in jou liggaam het ’n reseptor vir vitamien D, wat deur cholesterol vervaardig word sodra jou vel aan sonlig blootgestel word.

’n Studie wat in ’n Amerikaanse joernaal vir voeding gepubliseer is, het getoon dat vroue wat oefen en gesond eet en ’n vitamien D-aanvulling neem, beter gewig verloor het as diegene wat op dieselfde dieet en oefenprogram was maar geen aanvulling gekry het nie.

Dié vitamien is ook noodsaaklik vir beengesondheid. Daarsonder kan jou liggaam nie kalsium absorbeer nie. Neem ’n kalsiumaanvulling wat ook vitamien D bevat of gebruik die twee saam in afsonderlike produkte.

Daar is ook bewys dat ’n gebrek aan vitamien D moontlik ’n rol speel in depressie, insulienproduksie, vetverbranding, verhoogde bloeddruk, asma by kinders en kanker, om net ’n paar te noem. Voldoende vlakke kan infeksies soos verkoue en griep voorkom.

Laat jou bloed toets indien jy erge moegheid, spierpyne, herhaaldelike infeksies, been- of rugpyn of haarverlies ondervind. Indien die uitslag toon dat jou vlak laag is, word ’n vitamien D3- aanvulling aanbeveel vir daaglikse gebruik.

Hou in gedagte dat te veel vitamien D skadelik kan wees en ander gesondheidsprobleme kan veroorsaak. Alle aanvullings word ook nie ewe effektief geabsorbeer nie.
 

Carina Fourie, dieetkundige

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Carina.