Is voetsorg jou achilleshiel?

308

Die gemiddelde persoon stap elke dag ongeveer 7 500 treë. Dit verklaar waarom ons arme voete soms ’n bietjie verwaarloos lyk.

Mooi voete verg gereelde, liefdevolle sorg. ’n Professionele pedikuur is die ideaal, maar daar is heelwat wat jy self kan doen om skurwe of gebarste hakke, eelte en droë vel te voorkom.

Die beste tyd vir ’n pamperlang is na ’n warm bad of stort as die vel sag is. Jy kan ook ’n voetspa gebruik met ’n paar druppels omega 3-olie, badsout of essensiële olie in die water gemeng. Week jou voete vir ongeveer 15 minute.

’n Goeie voetskrop raak van dooie velletjies ontslae. Droog jou voete eers af sodat die skrop meer effektief kan werk en vryf daarmee oor die voetsole. Vir die harder vel aan jou hakskene en op die bal van jou voete kan jy ’n voetvyl gebruik.

Wees versigtig om dit nie te oordoen nie anders gaan die vel baie sensitief en rooi wees. Al wat jy wil doen, is om die dooie selletjies af te skrop.

Gebarste hakke is die gevolg van te min vog in die vel, lang ure se staan en gereeld kaalvoet loop. Oophakskoene dra ook by om die droë vel tot barstens toe te dryf.

Vryf jou voete, en veral die hakke, daagliks in met ’n ryk room of olie. Klapperolie is baie voedsaam vir jou vel en terselfdertyd ook ’n anti-inflammatoriese en antimikrobiese middel.

Aangesien die olie baie dik is, kan jy dit in die aand aansmeer en dan sokkies aantrek voordat jy in die bed klim. In die oggend kan jy ’n ligte room of hakbalsem gebruik om jou vel deur die dag elasties en vogtig te hou.

Dra goeie skoene wat jou hakke toehou sodat hulle nie verder uitdroog nie.
 

Janine Janse van Rensburg, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Janine.