Isabel van As – verloor 14,4 kg

0
8
isabel.jpg

Goed vir ander

In Junie 2011 skryf Isabel in haar dagboek: “Ek wil nie so doelloos hier op aarde ronddwaal nie. Ek glo ek is vir groter dinge bestem. Ek wil ander help – met finansies en gewig. Ek weet ek kan, maar hoe?” Daar was ’n Groter Plan en in 2012 word sy as deelnemer gekies. ’n Droomreis begin op ’n wankelrige noot. Tydens die eerste ontmoeting sit ’n moedelose Isabel met oë vol trane: “Ek wil so graag van myself hou. Ek wil selfvertroue hê.” Sy het gevoel dat sy nog nooit tevore iets kon klaarmaak nie en was bekommerd oor die uitdaging. Vandag spog sy met 14 kg minder om die lyf en inspirerende stories oor haar drome wat werklikheid geword het. “Vir die mense rondom my het ek maer geword. Maar die groot verandering van emosioneel gesond word is vir my die belangrikste.” Sy is tevrede met haarself en wil nét Isabel wees.  

’n Nuwe doel

Die dood was altyd vir haar ’n angswekkende gedagte omdat sy gevoel het dat as sy nóú moes doodgaan, haar lewe verkwis sou wees. Daar was dan geen wows om te wys nie. Aanvanklik het die gedagte om ander met hulle gewig te help haar koud gelaat. Gelukkig het sy besef dat sy eers sélf die pad moes loop voordat sy ander kon help. Die program het haar “gedwing” om te begin gesond word. “Al wou ek vir so lank ek kan onthou my droom leef, het ek net nie geweet hoe nie.” Sy kon eenvoudig nie laat los en alles in Sy hande sit nie. Dinge het verander! “Vir 37½ jaar oorleef ek nog net. Nou lééf ek. Ek is dankbaar, want daar was ’n plan met my vetjies. Ek gaan ander help.” Sy is trots op haar nuutgevonde loopbane as finansiële adviseur en Weigh-Less-groepleier. “My droom om ander te help, het waar geword.”  

Aanhouer

Isabel, wat aan die begin van die reis verklaar het dat sy aan chroniese eetsiekte lei, het dit verruil vir “chroniese geluk”. Kos is nie meer haar baas nie en dis alles te danke aan Weigh-Less. “Ek is mal oor die Weigh-Lessprogram,” sê Isabel. “Die kleiner happies deur die dag sorg dat ek nooit honger word nie en ons kan amper enigiets eet. Die belangrikste is dat ek die korrekte porsiegroottes geleer het. Dit bly maar moeilik om nee te sê vir die lekker eetgoedjies, maar ek besef dat een happie dieselfde tevredenheid gee as ’n hele bak vol.” Al was sy nie altyd lus vir oefen nie, moes sy leer om die eerste tree te gee. Van daar af was dit maklik. Haar hoogtepunt was toe sy na slegs agt weke op die program 10 kilometer in 1 uur en 23 minute gestap-draf het. “Ek het deursettingsvermoë – ek moet net nie bang wees om dit te gebruik nie.”  

Hy weet die beste

“Ek het nog nooit so gebid nie en nog nooit het God so met my gepraat nie,” vertel Isabel. Vir die eerste keer is sy regtig Geesvervuld. Vantevore het sy gedink mense wat altyd gelukkig is, is nie eg nie. Nou verstaan sy waar dit vandaan kom. Om nie op mense te vertrou nie en te besef dat dit nét die Liewe Vader is wat kan help en met alles ’n groter plan het – dis die grootste les wat sy moes leer. Gewoonlik sou sy dinge wat haar pla net ignoreer, maar sy het geleer dat dit nie ’n oplossing is nie. Dit help ook nie om oor die verlede te tob of daaraan vas te klou nie. Ja, jy moet eienaarskap van jou lewe neem en deur kwessies werk, maar jy moet dit vir Hom gee. “Ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir my grootmens-verlede. Dinge het met my gebeur – baie uit vrye wil, baie as gevolg van ’n swak selfbeeld en baie omdat Hy besig was om my te vorm. Dit was alles Sy plan.”

DEEL
Vorige artikelons het 95 kg verloor!
Volgende artikelwerkende ma
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.