Isak Burger: Jou laaste woorde

0
427
isak_burger.jpg

Die laaste oomblikke van gelowiges is een van die grootste bewyse van die krag en die liefde van God.

Die laaste oomblikke van gelowiges is een van die grootste bewyse van die krag en die liefde van God.

Jesus en sy volgelinge

Daar was nog nooit só ’n dag in die geskiedenis nie, nog nooit so ’n laaste vyf minute nie! Die vorige agtien uur was onbeskryflik smartlik. Vandat Hy die vorige aand in Getsémané oorkant die Kedronspruit gevange geneem is, moes Hy soveel ontbering en marteling verduur – vuishoue, katshoue, ’n doringkroon. Toe, na al die uitmergeling, die kruis wat Hy tot hier by Golgota moes dra. En dan die kruisiging self, die wreedheid, die pyn. Tussendeur die hoon en spot.

Hy hang nou al hier van vanoggend nege-uur af, feitlik naak, want hulle het Sy klere gevat. Hy is so dors; Sy Vader so ver:
“Eli, Eli, lama sabagtáni?” (Matt. 27:46).

Van twaalfuur af, op die helderste van die dag, was daar meteens ’n sonsverduistering – vir drie ure. Dan, net toe die paaslam op die altaar voor die tempel geslag word vir die sondes van die volk, wéét Hy, weet Hy meteens, Sy offer is aanvaar, die prys vir alle mense se sonde is volledig betaal, geregtigheid het geskied, die toorn en wraak van God oor die sonde van die mensdom het Hý gedra – “Dit is volbring! Vader, ontvang My gees!”

Sy laaste vyf minute. Dalk die belangrikste vyf minute in die ganse menslike geskiedenis. Vyf minute wat die loop van die wêreld verander het. Vyf minute waarin Sy offer volkome geblyk te wees het; vyf minute waarin Sy bloed, ál Sy bloed gestort is en ál ons sondes en ál ons ongeregtigheid weggeneem is. Vyf minute waarin die hemel vir jou en my oopgesluit is. Weens dáárdie vyf minute is daar vir jou en my hoop wanneer ons die skadu’s aan die einde van ons lewens binnegaan.

Genade ter elfde uur

Dit is die evangelis Lukas wat ons van die besondere oomblikke en gesprek van die rower aan die kruis vertel. Nie net van Jesus se laaste oomblikke nie, maar ook dié van die twee kriminele wat saam met Hom gekruisig was. Wat presies hulle misdade was, weet ons nie – hulle word “rowers” en “kwaaddoeners” genoem. Die woord wat deur Lukas in die grondtaal gebruik is, word hoofsaaklik vir ernstige en halsmisdadigers gebruik, mense wat met die dood gestraf is. Dit is dus logies om af te lei dat hierdie twee manne, anders as Jesus, geswore misdadigers was.

Kort voor die einde het Heinrich Heine nog geskryf: “The old lyre has been smashed to pieces on the Rock which is called Christ. The lyre which clamoured for revolt, which sang forth doubt, mockery, and unfaithfulness to God. O Lord. O Lord, I bow myself down and beg: forgive, forgive me for my songs.”

Ook hulle laaste minute op aarde het aangebreek. Hulle reaksies in die ekstreme omstandighede aan die kruis, was uiteenlopend:
En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: “As U die Christus is, verlos Uself en ons.” Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? – ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie” (Luk. 23:39-41). Op die een of ander manier het hierdie kwaaddoener tot die besef gekom dat hierdie man wat hier langs hom hang, nie maar net nog ’n veroordeelde misdadiger is nie. Het hy dit uit Jesus se woorde en reaksies vóór en tydens die kruisiging afgelei? Was dit herinneringe uit sy kinderjare en opvoeding wat nou weer iets in hom wakker gemaak het? Was dit die Heilige Gees wat ’n hart gevind het wat ontvanklik en broos is? Hoekom het die ander rower nie tot dieselfde oortuiging gekom nie?

Nog nie te laat nie

Die hartseer ironie is dat al twee hierdie kwaaddoeners ewe naby aan Jesus was – hulle was immers weerskante van Hom gekruisig. Al twee was ewe naby aan die hel, ewe naby aan die Deur na die Paradys. Albei kon met Jesus praat; albei kon bid en vra. Jesus kon albei red.

Tog is dit net die een wat hartstogtelik roep:
“Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom” (Luk. 23:42).
En hy hoor die mooiste woorde wat enige mens ooit kan hoor – veral ’n paar minute voor jou dood:
“Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met my in die Paradys wees” (v. 43).
Dit was dalk sy laaste woorde op aarde, maar dit was die belangrikste woorde wat hy ooit geuiter het. En die laaste ding wat Jesus gedoen het voordat Hy gesterf het, was om ’n slegte mens, ’n kwaaddoener, ’n verlore sondaar, ’n soekende, berouvolle mens, soos ’n brandhout uit die vuur te ruk.

Luister na enkele voorbeelde van die laaste woorde van ’n paar terdoodveroordeeldes:

“I am going to be face to face with Jesus now … I love you all very much. I will see you all when you get there … I will wait for you.”
~ Karla Faye Tucker Brown, d. February 3, 1998. Executed by injection, Texas.

“Thank you for the change in my life you have given me, the love and closeness of my family and my beautiful daughter. Thank you for using me…”
~ John Cockrum, d. September 30, 1997. Executed by injection, Texas.

“I’m going home, babe.”
~ James Allen Red Dog, d. March 3, 1993. Executed by injection, Delaware.

“You can be a king or a street sweeper, but everyone dances with the Grim Reaper.”
~ Robert Alton Harris, d. April 21, 1992. Executed in California’s gas chamber.

Hoop tot op die einde

Daar is hoop vir elke mens – selfs minute vóór die dood. Daar ís iets soos ’n laaste-minuut-bekering, ’n sterfbed-bekering. Dit is egter een van die grootste dwaashede van die lewe om uit te stel en op ’n laaste-minuut-bekering peil te trek. Géén mens kan daarop reken nie. Niemand weet hoedanig sy/haar laaste vyf minute gaan wees nie. Gaan jy by jou positiewe wees? Gaan jou verstand benewel wees deur medikasie, pyn, koors of doodsangs? Gaan jy in ’n koma wees? Hoe is dit om die dood in die oë te kyk? Kan ’n mens dit waag om die belangrikste besluit van jou lewe uit te stel tot die laaste vyf minute wanneer die onseker, mistige newels van die dood jou oorval?

Tereg het Augustinus, die groot kerkvader van die einde van die vierde eeu, opgemerk dat die Bybel vir ons genadiglik van hierdie rower aan die kruis, van hierdie “sterfbed-bekering” vertel sodat ons nie moedeloos moet word nie – maar net die één, sodat ons nie ’n kans moet waag nie!

Jy lees nou hierdie woorde. Jy wéét waar jy met God staan. As jy een is wat tot nog toe uitgestel het om die grootste besluit van jou lewe te maak en jouself in die verlede gesus het met die moontlikheid van ’n “noodbekering” as dit die dag sou lyk asof die einde daar is, is dit nóú die tyd om jou saak met jou Maker reg te maak.