Ja, jou man dink nog jy’s sexy!

0
29
Naas en Karen Botha

Naas Botha dink sy vrou, Karen, lyk nog net so mooi soos jare terug, maar sy verskil vurig van hom.

Naas Botha dink sy vrou, Karen, lyk nog net so mooi soos jare terug, maar sy verskil vurig van hom.

Naas Botha was Suid-Afrika se goue seun met sy akkurate skopskoen. Deesdae kan jy hom as rugbykommentator op TV sien waar hy sy mening vurig lig oor alles wat op die veld gebeur. Hy is ook getroud met een van die bekendste Springbok-verspringatlete. Maar na ’n paar jaar verander ’n vrou se lyf en ons wil weet of Karen nog net so mooi vir hom is soos op hulle troudag.

Wysheid met die grysheid

Ek het ’n teorie hieroor, maar dit laat my eintlik net in groter moeilikheid kom. Jy weet, ons mans kan net nie wen nie. Maar voor ek jou te kwaad maak om verder lees, bêre ek my teorie vir later.

So, kom ons begin by die feite. Ja, almal word ouer. En soos jy ouer word, is daar sekere dinge wat onafwendbaar gaan verander. Een daarvan is dat jy elke jaar wyser is as die vorige jaar. As daar nou een ding is waaroor ek bly is, is dat stupid met die ouderdom saam verdwyn. Ongelukkig ook saam met die sixpack! En die dik bos hare. (Vroue sal seker hier “gladde vel” en ’n paar ander dinge ook wil insluit – doen dit gerus!)

Maar snaaks genoeg, het Karen nog nooit verwys na die plooie op my gesig nie, en ek het beslis meer as sy. Nog minder noem sy dat my sixpack al effens agtertoe geskuif het (ek het genadiglik darem nog nie ’n boepens nie!). Daarom neem ek aan dat die dinge wat aan my lyf verander, haar nie pla nie. So, ek gaan haar nie daaroor vra nie!

Sy slaan steeds my asem weg

Sy, aan die ander kant, is vreeslik gepla. Met die grys hare, plooie, swaartekrageffek, rimpels, duike en dinge wat dril. Wáár dit is, weet net sy. Want ek kyk en kyk en kyk … En Karen slaan steeds my asem weg!

Die probleem is net, as ek dit vir haar sê, dink sy ek lieg. As ek stilbly, dink sy ek stem saam. As ek die onderwerp verander, dink sy ek probeer haar gevoelens spaar. En as ek vir haar gaan sê sy is beslis die sexyste tannie wat ek ken, gaan sy my dalk deur die gesig klap!

As daar ’n man op hierdie planeet is wat weet hoe om hierdie strikvrae te antwoord sonder om in die moeilikheid te beland, moet jy beslis ’n boek skryf. Jy kan ’n topverkoper beethê en sommer kitsmiljoenêr word! Want ek, en al die ander mans wat ek ken, sal betaal om die regte woorde te memoriseer.

’n Man se teorie oor vroue

Is julle nou al reg vir my teorie? Gelukkig is ek te ver dat enigiets my hard sal kan tref!

Ek dink vroue ’n het selektiewe gehoor.

Daar, ek het dit gesê. In gewone Afrikaans beteken dit julle hoor net wat julle wil. En ek suig dit nie uit my duim nie, ek het dit vir jare in my eie huis nagevors.

As ek vir Karen sê sy lyk goed, gaan sy op ’n eetstaking, want sy voel vet. As sy my opinie oor twee pare skoene vra, weet ek sy sal die ander paar kies as die een wat ek uitwys. En as ek sê haar rok is mooi, sal sy dadelik ’n ander een gaan aantrek.

So, ek gaan nie eers probeer om vir haar te sê sy lyk vir my nog net so mooi soos op ons troudag nie. Netnou dink sy dat ek op my verlange na haar vergange jeug skimp.

Maar as jy moet weet, julle is en bly vir ons pragtig!

Hoe kan ’n vrou weer sexy voel?

Maurice Chevalier, ’n Franse akteur uit die 18de eeu, het dit raak opgesom toe hy gesê het oudword hoef nie koudword te wees nie. Daar is geen rede hoekom jy nie vandag net so sexy kan voel soos toe jy die dag getroud is nie. Om sexy te wees, is immers meer ’n kop-ding as ’n lyf-ding. Hier’s ’n paar maniere om daardie gevoel terug te kry:
• Koop vir jou ’n stel fyn nagklere met ’n bypassende satyn-kamerjas. In deesdae se gejaagde wêreld sien ons ons mans byna net voor slapenstyd en wie wil nou in ’n verrekte T-hemp en slaapbroek vaskyk?
• Versorg jou lyf en jou siel. Bederf jouself gereeld met ’n lekker skuimbad en smeer jou lyf in met ’n lekkerruik-bevogtiger. Daar is niks soos die geur van laventel om jou kalm en sensueel te laat voel nie.
• Kry ’n stokperdjie. Entoesiasme is aansteeklik en jou man sal waarskynlik aan jou lippe hang as jy vol opwinding vertel van die mooi goed wat jy gemaak of die nuwe boek wat jy gelees het.
• Maak tyd vir die dinge wat jou laat glimlag. Daardie stout plesiertjies is net wat jy nodig het om jou goed oor die lewe en oor jouself te laat voel. Koop daardie skindertydskrif of eet daai stuk wortelkoek. Solank jy matigheid voor oë hou, is daar plek vir alle goeie dinge in die lewe.

Die geheim is om nie die heeltyd te wroeg oor dit wat jy oor die jare verloor het nie. Fokus eerder op wat jy bygekry het – wysheid, ervaring en ’n hele rits stories om jou kleinkinders mee te vermaak.