Ja, jy kán jou drome waar maak

2070

Daar is vroue wat berge uitklim, lande regeer en miljoene rande se begrotings hanteer. Dan is daar die res van ons. Maar jy kan sukses behaal!

Jy wens jy was so maer soos jou vriendin. Of so ’n goeie spreker soos jou kollega. Dink mooi: Is dit ’n verhouding wat jou terughou of dalk ’n gebrek aan selfvertroue? Miskien kort jy ’n bietjie geld om iets aan die gang te kry of moontlik is jy ’n uitsteller.

Eers as jy weet wat regtig verhoed dat jy jou drome verwesenlik, sal jy die oplossings kan vind. Nadat jy jou probleme geïdentifiseer het, moet jy dan fokus om hierdie hindernisse uit te skakel.

Hou op uitstel en vat die kans!

Loop jy nooit in die reën nie omdat jy verkoue gaan kry? Begin met kleiner, berekende risiko’s, soos om te kyk of jou staatmakerresep regtig gaan flop as jy ’n bietjie aan die bestanddele verander. Die kanse is goed dat jy aangenaam verras sal word.

Wil jy nog voor jy oud is ’n boek skryf? Of na die blomme in Namakwaland gaan kyk? Moenie wag en jare lank droom as jy dit nou kan doen nie. As geld die probleem is, begin spaar. As jou tyd min is, beplan beter. Al daardie clichés is waar: As jy wil, kan jy, en daar is geen beter tyd as nou nie!

Dieselfde geld vir jou loopbaan. As daar ’n taak is wat gedoen moet word, sê vir jouself dat dit gedoen móét word. Jy is die een wat dit moet en kan doen, en jy sál dit klaarmaak! Onthou: Doeners word raakgesien, gerespekteer en beloon, nie praters nie.

Vergeet gister en raak ’n slag kompeterend

Is jou selfvertroue maar min omdat jy juis net verlede week so ’n groot gek van jouself gemaak het? Vergeet van gister se mislukkings en probleme. Wat gister misluk het, kan dalk net vandag lekker werk en môre vir jou wêreldroem besorg.

Daar is baie ware stories oor bekendes en beroemdes wat tientalle kere misluk het voor hulle suksesvol was.

Stel jou voor jy is by die Comrades-wegspringplek. As jy toelaat dat almal jou agtertoe druk, gaan jy uiteindelik heel laaste wegspring. Bog met die vloermatmentaliteit! Daar is niks fout met gesonde kompetisie nie.

Onthou, jy is net so talentvol, slim en interessant as wat jy jouself toelaat om te wees. As jy terughou om nie ’n bedreiging vir ’n kollega, vriendin, suster of huweliksmaat te wees nie, gaan jy nooit jou volle potensiaal bereik nie.

Elke daad is ’n nuwe kans om jou talent en waarde aan jouself en die wêreld te bewys. Takel daardie verslag wat dalk net kan veroorsaak dat jou kollegas van jou kennis neem. Hou op terugstaan vir nuwe geleenthede omdat jy bang is vir kompetisie.

Nou is dit tyd vir fokus – en aksie!

Die verkragtingslagoffer, Allison, het die aand van haar grusame ervaring besef as sy nie asemhaal nie, gaan sy sterf. Sy het net daarop gefokus. Haar storie het nie net ’n gelukkige einde gehad nie, maar ook duisende vroue geïnspireer.

So, jy het nou die gaping in die mark gesien of jou kollega se swak plek geïdentifiseer. Of jy het gesnap dat dit wat daagliks by jou mond inglip, direk verband hou met dit wat om jou heupe saampak.

Nou bly daar nog net een ding oor en dit is aksie. Jy moet aan die werk spring om jou planne deur te voer. Dis hoe jy jou lot in die lewe sal bepaal en daardie sukses sal behaal waarvan jy nog altyd net gedroom het.

Moet egter nie net halsoorkop instorm nie. Skryf duidelik neer wat jou mikpunt teen wanneer is en werk dan ’n plan uit hoe jy daar gaan kom. En onthou, wilskrag is die enigste verskil tussen ’n suksesvolle poging en ’n klaaglike mislukking! Jou wil om deur te druk met jou aksie gaan jou van die res onderskei.