Ja, jy mag maar nee sê!

Is jy een van die oorlaaide dienende Martha’s wat nie weet hoe om nee te sê nie? Of is jy dalk ‘n vredeliewende Rita wat probeer om nee te sê, maar sukkel om grense te stel teenoor meer aggressiewe mense?

Vir die dienendes en die vredeliewendes, dis ok. Jy mag nee sê. Jy hoef nie alles te doen nie. Die skool/kerk/werk sal nie ten gronde gaan as jy eenkeer nie die tee maak, die projek bestuur of die hele aksie organiseer nie! Al manier hoe jy regtig ‘n verskil kan maak is wanneer jy genoegsaam na jouself kyk. Gee eerder 100% van jou aandag en energie aan een projek as om te veel goed aan te vat en dan alles af te skeep. Onthou ook jy mag nee sê sonder om enige verduidelikings of verskonings aan te bied. Jou lewe. Jou tyd. Jou grense.

Die saak het ook ‘n ander kant. Daar is mense wat sukkel om nee vir ‘n antwoord te aanvaar en boonop op redes en verduidelikings aandring as iemand sê nee. Om ‘n goeie oorreder te wees is een van daardie noodsaaklike vaardighede wat elke leier moet hê, maar besef dat dit ook met ‘n geweldige verantwoordelikheid gepaard gaan. Onthou daar is ‘n baie dun lyn tussen leierskap en dominansie en tussen vra en beveel.

Ons leer ons kinders om nie ander te boelie nie, maar soms vergeet ons dat volwassenes ook boelies kan wees, net op meer subtiele maniere. Dink voordat jy op ‘n ja aandring as jy reeds ‘n nee het. Moenie subtiel op ander se gevoelens speel om hulle te laat sleg voel as hulle nie kan of wil doen wat jy wil hê nie. Gun elke een die vryheid om self keuses te maak, besluite te neem en met vrymoedigheid soms ook nee te kan sê.

Ongelukkig is daar ook die situasies in die lewe waar jy nie sal kan wegkom met ‘n volstrekte nee nie.  Wanneer ons in die werksplek in diens van ‘n werkgewer is, verwag hul dikwels van ons take waarvoor ons nie altyd kans sien of lus is nie, maar ons die gesag wat oor ons aangestel is moet respekteer. Ek onthou die jare wat ek ‘n werknemer was en dikwels dinge teen my grein moes doen. Ek moes my telkens doelbewus herinner aan Paulus se woorde in Romeine 13. In daardie gevalle wat ek onregverdig behandel gevoel het, het ek dit aan die Here oorgegee wat die regverdige regter is.

Daarom is dit belangrik dat ons ‘n balans moet vind tussen die dinge waarvoor ons nee mag sê en die dinge waarvoor ons nie sommer nee mag sê nie. Indien jy ʼn veeleisende werk het met ‘n dominerende werkgewer bly dit belangrik om jou beste te doen en versoeke na die beste van jou vermoë te voltooi.  Indien jou werkgewer Goddelike beginsels oortree is ek van mening dat dit beslis ‘n nee regverdig wat duidelik gekommunikeer moet word.

Sterkte met die balans!

Vorige artikel’n Ma en weghol dae…
Volgende artikelTOEGEE
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.