Ja vir God…én die kerk

171

KOBUS KOK, skrywer van Ja vir God, nee vir die kerk? vertel van sy besluit om in die kerk te bly ten spyte van haar foute.

Dit het nie gehelp om die vuurtjie eers te probéér wegsteek nie. Ons is uitgevang. Op heterdaad betrap toe ek en my seuns daardie dag malvalekkers in ’n bos naby ons huis in België gebraai het. Mens kan ’n Afrikaner uit die bos haal, maar nooit die bos uit die Afrikaner nie. As ons ’n kans kry, dan braai ons – of dit nou toelaatbaar is of nie. Ter versagting, dit was darem met ’n gasstofie en nie die ware Jakob nie.

Nie dat dit vir die ou oom wat op ons afgekom het, saak gemaak het nie. Met tipies Vlaamse diplomasie het hy ons nie direk gekonfronteer nie, maar wel iets gemompel oor “vuur in het bos”.

Toe ek in my gebroke Afrovlaams probeer terugpraat, kon hy dadelik hoor ons is nie van hier nie. Ek het myself en die kinders voorgestel en vertel dat ek ’n professor in teologie aan die ETF is.

“Die ETF?” vra hy.

“Ja, die Evangelische Theologische Faculteit,” antwoord ek.

“Protestants?” wil hy weet met walging duidelik oor sy gesig geskryf.

Teen dié tyd is ek al gewoond aan hierdie soort reaksie wanneer Belge hoor dat ek deel is van ’n instansie wat Protestantse dominees en pastore oplei – dit lei gewoonlik tot ’n ongemaklike stilte of ’n hewige debat. In hierdie land waar die Katolieke Kerk vir jare die inwoners onderdruk het, is God en geloof onlogies en die Bybel ’n sprokie.

Die kerke is pragtige, leë geboue met enkele toeriste wat nog die argitektuur bewonder. Hier en daar sal jy by uitsondering nog ’n gryskopoom of -tannie op ’n Sondag in die kerk sien bid, maar vandag bestaan die Katolieke Kerk in België eintlik nie meer nie.

Die Christendom is dood en teologiese fakulteite oor Europa sluit een vir een hulle deure.

Die oom se vraag betrap my dus nie onkant nie. “Waarom het jy hierheen gekom?” wil hy weet. Teologie is ’n sterwende dissipline. Jy gaan gou sonder werk sit.”

“Ja, miskien,” is my antwoord, “maar dis juis waarom ek hiernatoe gekom het. Om as sendeling die evangelie terug te bring na Europa.”

En nét daar raak die oom se nek so styf dat party van sy plooie sommer heeltemal verdwyn! “Die tyd van die kerk is verby! Ek wil niks van hulle weet nie. Dis ’n siek spul. Kyk net hoe molesteer die blikskottels kinders,” vaar hy uit, sy stem gelaai met emosie. “Hulle het hulle kans gehad en met ’n ysterhand regeer. As mense eers eenkeer hulle rug gedraai het op die kerk, kry jy hulle nooit weer terug nie,” en daarmee verdwyn hy met sy ou knieë, stapstok en groen rubberbosstewels weer in die bos.

Ek wens ek kon die storie agter die oom se pyn te hore kom, maar dit was nie die regte tyd of plek nie. Hy is woedend. Die kans wat die kerk in sy lewe gehad het, is letterlik neusie verby.

Terwyl ons die gasstofie wegpak voor daar verdere moeilikheid kom, dink ek aan die oom en sy sinisme. Op ’n manier verstaan ek dit. Daar was ’n tyd dat ek ook deel was van ’n wêreld waar niks, behalwe om ’n Christen te wees, verkeerd was nie. En net soos die oom ’n storie agter sy optrede het, so het ek ook ’n storie agter die keuses wat ek gemaak het.

My kinderjare was gelukkig. Ek het grootgeword in die tyd toe Riaan Cruywagen nog die nuus gelees en ons Ballade vir ’n Enkeling voor slaaptyd gekyk het. Toe my pa besluit om teologie te gaan studeer, het ons finansieel swaarder getrek. As ’n sportiewe kind was dit vir my baie erg om met my pa se rugbystewels en houtrakette uit die sestigs rugby en tennis te speel.

Die lewe van ’n dominee was nie vir my nie, het ek besluit. Ek wou geld maak. Ná skool het ’n besering wat my ’n paar seisoene buite aksie gelaat het, veroorsaak dat ’n atletiekbeurs om by die Puk in die regte te gaan studeer, teruggetrek is. Vir ’n ruk het ek deeltyds model- en televisiewerk gedoen. Die geld was goed, maar dit was nie ’n goeie omgewing om in te wees nie. Ek is blootgestel aan dinge wat nie gesond was vir my nie.

In daardie tyd het ’n preek van prof. Jan van der Watt in my pa se kerk my lewe verander. Dit het oor Job gegaan en iets in sy woorde het my daardie dag geraak. Dit was my Damaskusoomblik.

Soos die paar sekondes wat jy het om nog kop uit te trek voor jy ’n reksprong van Bloukransbrug waag, het ek my oë toegeknyp en gespring – ná God en weg van die onvervuldheid wat in daardie tyd so deel van my lewe was.

Van daardie besluit af het die Here se guns my gevolg. ’n Sakeman het vir die eerste twee jaar my studies betaal, hierdie keer teologie aan Tukkies. In die volgende paar jaar kon ek deur akademiese beurse twee meesters- en twee doktorsgrade behaal.

Ook het ek die voorreg gehad om vir bykans tien jaar ’n predikant van die Hoogland-gemeente in Kempton Park en Universiteitsoord in Pretoria te wees.

Soos in my kinderjare het die kerk my lewe geword. Dit was ’n fantastiese voorreg om die hele tyd met die dinge van die Here besig te kon wees, maar dit het gevoel asof ek soos ’n vis in ’n visbak leef – gedurig onder die vergrootglas.

As ons gou inkopies gaan doen het, was daar altyd vriendelike lidmate wat “die dominee” gegroet het. Ek was altyd en oral “die dominee”. Gesprekke met en rondom my het dikwels in geestelike gesprekke verander. Soms het dit vir my gevoel of predikante op troontjies gesit word terwyl ons eintlik maar doodgewone mense is wat soms oor koeitjies en kalfies wil gesels. Mense het onmiddellik anders opgetree as “die dominee” naby was.

Hierdie aangeplakte status wat die samelewing vir predikante gegee het, was nie vir my nie. Daar was min ruimte om my eie menswees, vrese, swakhede, frustrasies en gebrokenheid te verwoord. Onbewustelik het ek aan die verwagtings voldoen van hoe dominees moes lyk en praat, maar in die proses het Kobus verlore gaan.

Ek het presies geweet watter probleme daar in die kerk is, maar het besluit om eerder deel van die oplossing te word. As ’n gerehabiliteerde dominee weet ek hoe te veel teologiese kennis ook ’n vloek kan wees wat in die pad van jou geloofservaring staan. Vir te lank het ek te veel in die kerk en teologiese opleidingsinstansies gesien, maar ek was een van die gelukkiges wat my pad na tweede naïwiteit kon vind, nie om soos ’n kind nie, maar om te glo mét verstaan.

En sedertdien het dit vir my ’n roeping geword om student deur daardie tyd te help wanneer hulle teologiese kennis die oorhand kry en hulle God nie meer op ’n emosionele, mistieke, spirituele manier kan beleef nie.

Die pos in België pas dus perfek in by hierdie roeping waar ons aan evangeliese predikante ’n stewige teologiese basis gee om hulle geloof te ondersteun. Daar is egter ’n groter visie agter hierdie skuif. In hierdie postmoderne samelewing waar enige Godsbegrip en -belewenis bespot word, wil ons graag mense aan ’n God voorstel wat apart staan van die onderdrukking van die kerk.

Hier in die vreemde het ons ’n ander perspektief op ons mens-, Afrikaner- en Christenwees ervaar.

Die Vlaminge is ’n baie geslote gemeenskap en laat nie maklik vreemdelinge in hulle binnekring toe nie. Al lyk ons soos hulle en al kan ons hulle taal verstaan en op ’n manier praat, moet ons steeds in die aliens-ry in die regeringskantore staan. Saam met hierdie isolasie het ’n tydperk van groot hartseer aangebreek toe my skoonpa kort na ons koms skielik oorlede is. Dat ons vir ’n paar maande in ’n leë huis moes kampeer terwyl ons skip met besittings op pad was, het nie gehelp om ons beter te laat voel nie.

Die Here het egter oorvloedig voorsien op maniere wat ons nie verwag het nie. “Toevallig” was die bure langs en oorkant ons Belgiese Christene wat die Here met oorgawe dien. ’n Kardioloog, Johan, en sy vrou, Marie, het ons deur hierdie tyd gedra soos ek my voorstel die eerste Christene mekaar ondersteun het. Met klein dingetjies het hulle die aanpassing makliker gemaak, soos om kos aan te dra en ’n fietsie vir een van ons seuntjies te gee. Rita en René van langsaan het mettertyd die rol van ’n Vlaamse ouma en oupa vir ons kinders ingeneem.

Met Paasfees sit hulle byvoorbeeld tonne sjokolades uit in hulle tuin, wat ons kinders dan moet gaan soek. Op Sint Nicholas-dag sit hulle die gebruiklike geskenkies saam met sjokolademunte uit, waarvolgens kinders beloon word vir goeie gedrag deur die jaar.

Hierdie mense is vir my voorbeelde van Christus se versoenende teenwoordigheid in ’n siniese samelewing. Sonder teologiese opleiding is Johan soos ’n pastor onder sy kollegas, vir sy pasiënte, vir sy bure en vir die gemeenskap.

Hier in die vreemde het ek ervaar wat “kerk” moet wees soos God dit bedoel het: om aan ander ’n belewenis van ’n safe space te gee waarin hulle God se liefde en omgee kan ervaar. Ja, die kerk het probleme en foute. Die kerk gaan moet verander, maar ek kan nie God as Vader hê as ek nie die kerk as my moeder het nie. Ek het die hitte van medegelowiges nodig om te groei, want ’n kooltjie gaan dood te ver van die vuur.

Hier het ek opnuut besluit om ja vir God, en ook vir die kerk, te sê.