Ja vir God, nee vir die kerk?

1849

Al hoe meer lidmate verlaat die hoofstroomkerke. Hierdie mense is nog lief vir die Here, maar voel nie meer tuis in die sisteem nie. Wat nou?

Kobus Kok was pastoriekind en NG predikant, en is tans professor en hoof van die departement Nuwe Testament aan die Evangelische Teologische Faculteit Leuven in België.

As party mense die woord “kerk” of “dominee” hoor, raak hulle so koud soos die winter in Sutherland. Baie sê: “Ek glo nog in die Here en ek het ’n verhouding met Hom, maar ek is nie meer lus vir die kerk nie.”

Volgens die Barna-groep, wat navorsing in Amerika doen, verlaat 6 uit 10 jongmense die kerk nadat hulle uit die huis is of belydenis van geloof afgelê het. Suid-Afrika is nie ver agter nie. As ons nie wakker skrik nie, loop ons dieselfde paadjie.

Dié wat die kerk verlaat, ervaar dit as koud, genadeloos, styf, verouderd, met ’n klomp vals mense wat voorgee om heilig te wees. Hulle skryf nie vir God af nie. Hulle is bloot klaar met ’n instelling wat nie meer bydra tot hulle geestelike groei nie, en dalk selfs hulle geloofsreis belemmer.

Mense voel dat dominees nie regtig probeer om die Bybel vir hulle oop te breek nie. Hulle leef in ’n borrel en is nie in voeling met wat in die wêreld gebeur nie. Hulle kom nie by die diep vrae en issues van lidmate uit nie.

Dit laat ’n mens baie dink aan die film Finding Nemo. Die seevissie, Nemo, word op ’n dag deur iemand gevang en in ’n akwarium gesit. Al die ander visse vlug van hom af weg, uit vrees vir die siektes wat hy saamdra. Daarom stuur hulle onmiddellik vir Pierre, die garnaal, om hom skoon te skrop.

As kerke kunsmatige ruimtes soos vistenks is, kan dit maklik gebeur dat hulle geslote sisteme word met geen ware kontak met die buitewêreld nie. Mense wat van buite af kom, word dan beskou as individue wat “virusse” in die “vistenk” inbring.

Die manier waarop ons oor kerk dink, het baie te doen met die “boetiekkultuur” waarin ons leef. Ons kry ’n custom-made produk met die druk van ’n knoppie of die kliek van ’n muis. Kry ons nie presies waarna ons soek nie, surf ons doodeenvoudig verder.

Party mense gaan elke Sondag kerk toe en “koop” ’n stukkie geloofservaring. Al hoe meer doen “church shopping” en stel vereistes aan ’n kerk, amper soos wanneer hulle ’n nuwe motor koop. Is jy nie tevrede met een aspek nie, gaan soek jy ’n ander een wat beter by jou behoeftes pas.

Geloof gaan egter nie oor ’n verbruikersmentaliteit nie – dit gaan nie oor watter stukkie geloofskos ek kan koop nie, maar oor wat ek kan uitdeel.

’n Mens voel dikwels dat jy in die boksie ingedwing word, en dat die taal en kultuur van jou kerk jou gedrag en identiteit bepaal en beperk.

Ons moet egter mooi dink oor die implikasie van ’n lewe buite die kaggel. ’n Kooltjie wat te lank op sy eie langs die warm kole lê, word gouer koud. As gelowiges het ons mekaar nodig om warm te bly vir die Here.

Die kerk is in ’n krisistyd, dis waar. Maar dit kan ook ’n goeie ding wees. ’n Gemeenskaplike krisis kan ons as gelowiges laat saamstaan. Krisistye laat ’n mens gewoonlik die meeste groei.

Ja, die kerk is ook die plek van pyn en seer en het foute en beperkings soos enige sisteem, persoon of groep. Die kerk kan nie alles vir almal wees nie. Tog behoort daar ’n plek vir die kerk te wees, want dit doen die afgelope 2000 jaar ongelooflike goeie werk.

Miskien moet ons net aanvaar dat die dood van ’n sekere vorm van kerk nodig is sodat ’n ander (nuwe) vorm van kerk kan herleef. Elkeen wat bekommerd is oor die toekoms van die kerk, moet saam na maniere soek om dit anders te doen.

Dis belangrik om te weet wat Jesus gedoen het

Die Jode het geglo dat omdat hulle ’n heilige God aanbid, hulle self ook heilig moes wees. Heiligheid beteken afsondering en daarom was hulle sosiale wêreld in duidelike kaarte opgedeel van mense, plekke, tye en persone.

Elke Jood het presies geweet watter plekke heilig was en watter onheilig. Enige kontak met mense of dinge wat “uit plek” was, sou hulle onrein maak.

’n Jood en ’n “onheilige” Samaritaan mag daarom niks met mekaar te doen gehad het nie. Jode mag nie eers aan iets geraak het waaraan ’n Samaritaan gevat het nie, omdat hulle geglo het dit sou hulle kontamineer.

Maar dan ontmoet ons ’n man wat die Jode se manier van sin maak van die lewe radikaal kom omkeer. Jesus praat met ’n Samaritaanse vrou en raak selfs aan iets waaraan sy geraak het. Laat dit jou ook aan Finding Nemo dink?

Die mense in haar dorp het hierdie vrou sonder twyfel afgeskryf as iemand wat nie sou kon verander nie. Sy was te sondig. Tog red Jesus haar en help haar om los te breek van haar verlede, van die ou patroon van ’n lewe sonder toekomsmoontlikhede.

Skielik verander alles vir hierdie vrou, omdat sy nou die reg het om ’n kind van God genoem te word en deel van sy familie te wees. In ’n wêreld waar vroue hulle plek moes ken en moes stilbly in die openbaar, word sy ’n sendeling, nog voor die dissipels dit kon wees! Haar getuienis kry die hele dorp se mense aan die beweeg.

Elke Christen se identiteit moet gekoppel wees aan wie Christus is. Ons moet só leef dat mense kan sien dat ons Sy volgelinge is, omdat ons leefstyl op sekere waardes en beginsels gebou is.

Om daarby uit te kom, moet ons by die wortel begin en onsself en die organisasies waarvan ons deel is, rondom die werk en lewe van Jesus organiseer. Ons moet soos Hy optree teenoor alle mense.

Dis maklik om te dink die toekoms van die kerk raak jou nie. Maar sê nou net jy is die een wat nie moet verbystap nie, die “barmhartige Samaritaan” van die verhaal? Dalk het jy ’n konsep of ’n plan wat ’n groot verskil kan maak.

Die vroeë Christene is destyds “die mense van die Weg” genoem. Dit is nodig dat ons ook sal gaan waarheen Jesus ons stuur. Die pad lê oop voor ons!

Daar is baie maniere waarop ons grense kan oorbrug

Partykeer is Sy mense oral behalwe waar hulle regtig moet wees. Gelukkig is daar ook baie inisiatiewe wat vir ons wys dat die kerk dalk leegloop, maar dat daar buite die kerk geweldig positiewe energie is. Mense se harte word heeltemal verander deur geloof.

Petrus Grové van die MD Foundation in die Ficksburg-omgewing vertel ’n inspirerende storie. ’n Handvol families het ongeveer twee jaar gelede bymekaargekom en van hulle grond beskikbaar gestel vir die hele gemeenskap.

Waar baie boere ter wille van oorlewing grense trek en vol vrees na die binnekamers van hulle harte immigreer, maak hierdie mense hulle harte oop. Dit is so inspirerend en wys groot moed en sterk karakter in een van die moeilikste tye in die geskiedenis.

In Tasmanië is daar ’n beweging waar “lidmate” in “third places” ontmoet – plekke soos koffiewinkels, waarheen mense gaan om te ontspan. Hulle kies doelbewus om bymekaar te kom in publieke plekke, en is dus die hele tyd op “missional alertness”.

Hierdie geloofsgemeenskap is kultureel sensitief. Hulle prikkel mense se belangstelling en trek hulle so nader. Dit is dus ’n “gekontekstualiseerde” bediening. Hulle het uit die veilige ruimte van die kerk beweeg en gaan nou na waar die mense is. Hulle wag nie dat mense na die kerk toe kom nie.

Neil Cole van Church Multiplication Associates, wat betrokke was by ’n beweging wat tot meer as 500 kerke in ’n paar jaar gegroei het, sê die sleutel tot hulle sukses is absolute commitment ten opsigte van dissipelskap.

Hulle het ’n baie eenvoudige sisteem ontwikkel. Hierdie program bestaan uit gesamentlike Bybelstudie, die deel van getuienisse, persoonlike aanspreeklikheid en gebed. In hierdie kerk is dié program op ’n volgehoue basis ’n voorvereiste vir lidmaatskap. Hulle is basies ’n dissipelmakende beweging.

Hoe moet so ’n beweging lyk? Dit het te doen met ’n paar V’s: Word by die groot Vuur aangesteek – word deur die Heilige Gees verander. Word aan ander verbind – kry samehorigheid of ’n gesamentlike doelwit. Kweek goeie verhoudings – aansteeklike verhoudings sal soos ’n virus versprei. Vermenigvuldig die boodskap – vestig apostoliese leierskap wat uitreikpogings kan koördineer en suksesvol kan uitvoer.

Dit is ons verantwoordelikheid om lewende, organiese spiritualiteit in ’n nuwe wêreld te soek en te beoefen. Dit beteken dat ons die moed sal moet hê om grense oor te steek. Ons moet deur ons goeie gesindheid ’n verskil maak in ons land en versoening tussen mense en God, en mense onder mekaar bewerkstellig.

Kerke kan nie meer funksioneer soos in die verlede nie

Jesus se laaste woorde voor Hy opgevaar het, was volgens Matteus 28:19: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels.” Ons is geroep om vissers van mense te wees.

Tog is dit asof die kerk eerder soos ’n groot vissersboot geword het met ’n bordjie waarop daar geskryf staan: Visse welkom. Spring gerus in! So asof almal nou skielik van heinde en verre kerk toe gaan stroom.

Ons moet eerder op ’n praktiese, aktuele manier uitreik na ander. Dit moet ’n “oop” sisteem wees wat kan aanpas en verander, volgens die omgewing.

Dit beteken nie dat die kerk se unieke aard of DNS moet verander nie. Die manier hoe die kerk funksioneer, moet wel aanpas by omstandighede.

Dit lyk asof tradisionele kerkwees nie saamgaan met die postmoderne kultuur van die dag nie. As gelowiges en as kerk is ons briljant daarmee om die Bybel uit te lê, maar ons is ongelukkig nie so goed daarmee om die “wêreldse tekste” uit te lê nie.

Ons slaag nie daarin om die wêreld van vandag, die kuns en die musiek, te verstaan nie. Die gevolg is dat die kerk en kerkmense wêreldvreemd en ongeloofwaardig lyk.

Verbeel jou vir ’n oomblik die passievolle Britse sendeling uit die Victoriaanse eeu met sy fyn kleertjies en krulhaarpruik wat sendingwerk in China gaan doen. Hy kan tog nie verwag dat die Chinese, wanneer hulle Christene word, sy kleredrag en gewoontes moet oorneem nie!

Net so min kan ons verwag dat die wêreld die kerk se “kulturele baadjie” moet aantrek. Dit beteken nie dat ons ons waardes by die wêreld s’n moet aanpas nie – glad nie!

Die vraag is of ons nie dalk sekere Westerse gebruike gelykgestel het aan die Christendom nie. Die waarheid is dat baie dinge wat ons as vreeslik “Christelik” beskou, eintlik vreeslik Westers is, soos die orrel en toga.

Die kerk moet “soeker-sensitief” wees. Dit beteken dat die kerk die evangelie binne die leefwêreld van die soeker in konteks moet plaas, volgens Geyser. Om dit te kan doen, moet die kerk die leefwêreld van lidmate verstaan deur eers uit die veilige ruimte te beweeg en die lidmaat se wêreld te gaan verken.

Ons moet ons bes doen om herlewing in (en buite) die kerk te bring, en die kerk moet sy bes doen om ook oop te wees vir die nuwe uitdrukking van geloof en spiritualiteit, al is dit aanvanklik vreemd.                                                  

Wees jy die verandering wat die wêreld nodig het

Dié wat in die Bybelse tyd as “sendelinge” geroep is, was gewoonlik nie slim en geleerde mense nie. Dit was die onrein Samaritaanse vrou of die twyfelende visserman-dissipels.

Dit is interessant dat Jesus net twee jaar saam met die dissipels geleef het en hulle toe “bemagtig” het om die evangelie verder uit te dra. Party van ons sit al vir 20 jaar in die kerk en ons is nog steeds nie dissipels nie. Dit kan die kerk doodmaak!

Kerke wat vashou aan mag en beheer, vol lewelose, onbemagtigde lidmate, sny die lewensaar van die evangelie af. Dis nie net die dominee se werk om die boodskap uit te dra nie. Eintlik moet ’n dominee se werk wees om homself “uit werk uit te werk”.

Die herlewing wat in ons land plaasvind, is goed, maar gaan waarskynlik nie vir altyd lyk soos dit nou lyk nie. Die geskiedenis het ons geleer dat massa-attraksie, soos dié wat ons by oom Angus en sy beweging sien, nie vir altyd so voortleef nie.

Daar gaan ’n tyd kom dat dié wat deur God op hierdie nuwe manier geroep is, self voor sal moet stap. Hierdie manne en vroue sal die volgende generasie geestelike leiers moet word.

Groot sisteme verander natuurlik nie so maklik nie. Hulle is soos groot skepe wat baie stadig draai. Ons mag egter nie hande gevou sit en wag vir ’n wonderwerk nie.

Ons moet soos ontdekkingsreisigers kan soek en eksperimenteer. Ons het tog die hele wêreld in die palm van ons hand, danksy digitale media en die internet. Dié wat passievol is oor geloof kan byvoorbeeld hulle eie netwerke stig en oor die hele wêreld virtueel aan geloofsgemeenskappe verbind word waar hulle veilig voel.

Elke gelowige moet weet hy of sy is geroep om self ’n gestuurde te wees (kyk Johannes 20:21). Elke gemeente is geroep om ’n gestuurde gemeente te wees. Elke tiener is geroep om ’n gestuurde tiener te wees, ’n “geestelike leier” wat deur musiek, kuns of sport wys wie die Koning is.

Dink net wat kan gebeur as gewone lidmate hulleself by die werk sien as “marketplace ministers”. Ons moet die evangelie bedien by die werk en by die universiteit, by die huis en by die gym.

Dan kan almal sien dat kerkmense nie regtig liefdeloos en hoogheilig is nie. So kan ons hulle nadertrek en deur ons manier van leef motiveer om saam met ons in die “boot” te klim.

“Kerk” gebeur nie net in ’n gebou op Sondag nie

Die gevaarlikste ding vir die toekoms van die kerk is om “Christenheid” te leef. Dis wanneer jy “Sondag-spiritualiteit” beoefen. In die openbaar en by die kerk is jy ’n engel, maar by die huis is jy ’n boef!

Onthou, kinders is nie dom nie. Hulle weet baie goed of Pa en Ma ’n opregte verhouding met die Here het en of Hy ’n prominente rol in hulle lewe speel. Jongmense glo nie meer net omdat dit die regte ding is om te doen nie. Hulle het doodeenvoudig te veel opsies. Hulle glo net as hulle sien iets werk en maak ’n verskil in ’n mens se lewe.

Die uitdaging is om te besef dat alles spiritueel is en dat jy nie die twee van mekaar kan skei nie. Tuinmaak is spiritueel, oefen in die gym is spiritueel, selfs werk is spiritueel.

Die hele wêreld is Syne en daarom behoort daar nie ’n onderskeid tussen die “kerkwêreld” en die

“gewone wêreld” te wees nie. Enige ruimte is ’n heilige ruimte en ons is geroep om oral ’n verskil te maak.

Daar is vandag al hoe meer bekendes, rugbyspelers, televisiesterre en musieksterre wat luidkeels verklaar dat dit wat hulle doen, terselfdertyd hulle bediening is. Hulle werk, hulle passie en hulle talente word so gebruik dat dit ’n seën is vir die mense om hulle en in dié proses dien hulle ook vir God. Mense is nie meer skaam om dit te sê nie.

Die punt is, as geloof nie vir jou lewend is nie – as dit jou nie opgewonde maak nie – kan dit niemand anders opgewonde maak nie.

Ons kan nie meer verwag dat die kerk en die skool ons oor geloof moet leer nie. Uiteindelik kan die kerk nie jou spirituele ontdekkingsreis vir jou stap nie: If you want to walk on water, you’ve got to get out of the boat, soos John Ortberg se groot trefferboek lui. Dit bly jou eie verantwoordelikheid om geestelik te groei.

As dit vir jou na baie werk klink, dan moet jy miskien vra: “Waar is my hart dan regtig? Het ek enigsins ’n passie vir Jesus en vir lewende spiritualiteit? Of is ek maar net ’n passiewe verbruiker van ander se (onvoldoende) spirituele dienste?”

As jy nie ’n warm kerk-kaggel vind wat by jou pas nie, gaan dan en steek jou eie kaggel aan die brand – solank jy by ’n vuur is.

Ja vir God, nee vir die Kerk

“Kopskuiwer en hartroerder! Kobus se boek vat my vorentoe. Godwaarts én kerkwaarts
.” –STEPHAN JOUBERT

Jy kry ook 12 eksklusiewe video-insetsels (MP4-formaat) waarna jy op jou rekenaar, tablet of slimfoon kan kyk. Dié video’s verwoord Kobus Kok se diep persoonlike reis, waarom hy die boek móés skryf en wat die uitdagings vir die kerk in moderne tye is.

Voelgoedboeke.co.za