Jan Braai – “Ek kies om gelukkig te wees”

0
99
Jan Braai

Die mense dink die wêreld is my braaiplek, en ek ís baie tevrede dat ek waarde tot die samelewing kon toevoeg. Tog is dit vandag vir my die belangrikste om te kies om gelukkig te wees.

Die mense dink die wêreld is my braaiplek, en ek ís baie tevrede dat ek waarde tot die samelewing kon toevoeg. Tog is dit vandag vir my die belangrikste om te kies om gelukkig te wees.

So eenvoudig is dit. Wanneer ek by ’n keuse kom, vra ek vir myself: Wat gaan my gelukkiger maak? Jy kan dit natuurlik nie altyd net so toepas nie, jy moet die langtermynimplikasies ook in ag neem. Dan doen jy wat jou gelukkiger maak, want wat anders is die punt van die lewe?

Die ander ding wat ek my afvra, is wat gaan die lewe makliker maak. As jy kies tussen twee paar skoene: Die gemaklikste paar gaan jou lewe mos makliker maak. Nou die dag het ek skoene gekoop hoewel ek geweet het hulle gaan nie vir my werk nie. Toe swik ek twee keer my voete. Dit was so ’n paar groen skoene wat mooi by die Suid-Afrikaanse vlag sou pas. Dink net hoe mooi dit op foto’s en TV sal uitstaan. Maar toe verstuit ek my enkels, en dit net van stap op ’n plat pad!

Vertel van toe jy die Ystermankompetisie aangepak het.

Jan: Ek is nie eintlik ’n ou met ’n bucket list nie, maar dit het lekker gelyk om dit te doen. Die kompetisie sit jou nogal op ’n diep donker plek – veral tydens die maraton-gedeelte. Jou brein is mos nooit eintlik stil nie. Jy is altyd besig om te dink oor goed.

Maar dáár… daar is soos in géén plek in jou brein vir ander gedagtes nie. Dit is net van sit die een voet voor die ander. In daardie laaste 15 kilometer is daar niks anders wat in jou kop aangaan nie. Ek sal nogal graag nou daardie gevoel wil hê, want ’n mens kom baie selde op so ’n plek. Indien ooit. Jy weet, net in the moment.

Is daar soms minder lekker goed in jou kop?

Jan: Ja, maar nie meer so baie nie. Ek is nooit medies gediagnoseer as depressief nie, maar so ’n dekade gelede was ek meer gereeld hartseer en ongelukkig.

Depressie is vir my ’n area van die samelewing of van die brein se denkprosesse waar ek glad nie wil wees nie. Sover moontlik is dit ook jou eie verantwoordelikheid om besluite só te neem dat jy nooit eers by die afgrond uitkom nie. Bly net weg van dinge wat jou nie gelukkig maak nie!

Het iets spesifieks jou donker laat voel?

Jan: Ek kon nie eintlik die punt van my lewe sien nie. Daar is seker maar baie mense wat depressief voel omdat hulle wonder, nou ja, wat is die punt? Maar wanneer jy daar is, skep dit ook vir jou verskriklik baie geleenthede.

As jy in elk geval hartseer is met aspekte van jou lewe, dan kan jy mos doen wat jy wil. Jy het niks om te verloor nie. Want wil jy nou 80 jaar lank hartseer wees? Dan moet jy mos in elk geval weer van onder af begin bou, en dan kan jy mos enigiets doen. Soos, hoekom moet ek dan oudit? Dan kan ek mos netsowel bedank en my tyd bestee aan Braaidag waarin ek die punt sien en wat ek geniet!

Daar is seker party goed wat jou kwaad maak.

Jan: Mense wat onbeskof is met ander mense. Ek is seker ook soms onbeskof, maar dit is definitief nie aspris nie. My laaste kwaad oomblik was in Kampsbaai. Ons het gesit en koffie drink, pas fietsgery, so, ons was baie ontspanne. Soos, báie ontspanne!

Toe is daar ’n ou wat wag om agteruit by ’n parkeerplek in te ry, maar hy wag mooi ordentlik dat die ander karre kan verbykom. Daar kom toe ’n ander kar van agter af en ry by sy parkeerplek in! Ek was regtig kwaad. Toe die persoon uitklim en by my verbystap, het ek haar behoorlik uitgeskel. Dis mos verkeerd, man!

Enige ideale wat jy nog wil bereik?

Jan: Die lewe maak my gelukkig soos dit nou is. Behoorlike boerewors in elke supermark in die land sal egter help. Dit moet wees soos ’n blikkie Coke. Jy weet presies wat jy kry. Standaarde.

Dan sal ek graag binne die volgende vyf jaar die Bergrivier wil roei, want dit is deel van ons erfenis. Toe ons klein was, was dit altyd op die TV. Dan het Riaan Cruywagen gelees wie loop voor.

En jy weet mos daardie lande in die verre waar die son heeltyd skyn? Ek wil daar gaan salm vang en jag. Sommer twee of drie weke lank. Daardie plekke wat so in die middel van nêrens is.

Waarmee bly jy besig as jy nie braai nie?

Jan: Lees. Stories. Fiksie. As ek desperaat is vir lees en ek kom nie af op ’n lekker fiksieboek nie, lees ek iemand se outobiografie. Maar net uit desperaatheid. Dit is mos baie maklik om uit te vind watter biografie almal nou lees, maar dit is vir my ’n valskerm-opsie.

Fiksie waar daar iemand aan die begin van die boek doodgaan en dan los hulle die moord op, is vir my lekker. Dan, op pad na die oplos van die moord, gaan daar nog ’n paar mense dood, maar dit ontstel my nie te veel nie, want dis mos net ’n storie! En daar is gewoonlik ’n speurder met ’n drankprobleem en hy is gewoonlik geskei. Dis mos ’n resep, maar die resep is vir my nice. Dit laat my ontspan.

Vertel ons van die grootste prestasies in jou lewe.

Jan: Die heel grootste prestasie is dat Nasionale Braaidag in Koors van Deon Meyer genoem word! Om in ’n Deon Meyer-boek genoem te word is soos platinum. Dan Nasionale Braaidag is ’n leidraad op ’n 30 Seconds-kaartjie. Dit is vir my nét onder Deon Meyer.

Nommer 3, maar dit klink ’n bietjie arrogant, so, ek vertel dit net om ’n braaivleisvuur, is ek is ’n fotoleidraad in ’n Huisgenoot-blokraai! En dan, nou die dag op die braaitoer, het vyf verskillende mense vir hulle Braaidag-tatoes gekry. Dit maak jou amper soos ’n rock-ster. Mense kry tatoes oor jou brand!

En as jy eendag nie meer kan braai nie?

Jan: Op die oomblik is daar geen plan om van loopbaan te verander nie. As iets gebeur en ek braai nie meer nie, sal ek graag maatskappye wil koop en omkeer of herstruktureer.

Die nuts and bolts van ’n fabriek interesseer my egter nie. Ek stel nie daarin belang om een maatskappy te besit en skoene te maak nie. Eerder ’n groep maatskappye bestuur en hulle koop en verkoop.

Wie is Jan as Jan nie braai nie?

Jan: Eerlik. Ja. Fundamenteel is ek eerlik. Ek het al probeer om glad nie te jok nie, maar dit ontstel mense nogal. Jy kan nie glad nie jok nie. Dit het nie vir my uitgewerk nie.

’n Mens is geneig om te dínk jy is gaaf, maar ek kan heeltemal insien dat my persoonlikheid nie almal geval nie. Daar is sekerlik mense wat nie van my hou nie. In my huidige plek in die samelewing kry ek gelukkig nie gereeld met daardie mense te doen nie.

Kyk, buiten vanjaar het ek eintlik in 2007 laas op Braaidag by my plek saam met my vriende en familie gebraai. Daar was tot nou toe te veel mediagoed wat tydens Braaidag my aandag geverg het. Ek voel maar altyd ek beteken meer vir die projek as ek in ’n onderhoud in die nuus vir twee- of vyfmiljoen mense sê hulle moet lekker braai. Deesdae is dit meer effektief as ek lei deur voorbeeld, soos as ’n radiostasie my bel en vra: “Yes, Jan, wat doen jy vandag?” en ek sê ek doen wat 50 miljoen ander Suid-Afrikaners doen: Ek braai by die huis saam met my vriende en familie. Dit is ’n eenvoudige antwoord.

’n Mens moet net versigtig wees en sorg jy bly nie in ’n gekkeparadys omdat die lewe vir jou nou is waar dit lekker is nie. Daar is ’n algemene lewensfilosofie wat ek probeer toepas: As jy wonder of jou vuur groot genoeg is, is dit te klein!