Janine Appelgryn: verloor 8,3 kg

0
45
janine.jpg

Doel met kanker

In 2010 is borskanker by Janine gediagnoseer. Na verskillende behandelings is sy genees. Maar operasies en chemo- en kortisoonbehandeling het hulle tol geëis. Stelselmatig het haar gewig geklim van 55 kg na amper 69 kg. Nadat sy genees is, was kos ’n troos en ’n bederf. Gesellighede en etes vir groepe mense was aan die orde van die dag – om die lewe te vier! Sy het gevoel asof tien jaar van haar lewe gesteel is omdat die hormoonbehandeling haar in vroeë menopouse laat ingaan het. “Ek het oornag van 40 na 50 kg beweeg.” Janine het besef dat dit nie so kon aangaan nie. Sy was vasberade om te wys dat sy fisies, geestelik en emosioneel van kanker kon herstel sodat sy die doel wat die Here met haar siekte het, kon uitleef. Die program was presies wat sy nodig gehad het om weer haar lyf ten volle te herstel.  

Uitkyk op die lewe

“’n Mens se gesindheid, gedagtes en persepsies van die wêreld bepaal wie en wat jy is,” glo sy. “En wat jy glo, reflekteer in hoe jy lyk.” Baie mense gaan deur emosionele en geestelike groei na fisieke trauma, maar die innerlike groei is baie moeiliker om aan die uiterlike te sien. Die boek Conversations with God sê dat God op verskillende maniere met jou praat. Hy laat Hom nie beperk deur die woordeskat van ’n taal nie. “Ek glo om deel te wees van hierdie program was ’n bevestiging van Sy ondersteuning en troos in die proses van my herstel. Dit is ook om vir ander borskankerpasiënte te wys dat ’n mens geseënd is om kanker te kry. Nie net is daar ongelooflike geestelike en emosionele persoonlike groei moontlik nie, maar fisieke herstel is heeltemal moontlik – as jy net in jouself glo.”  

Uitdagings

Die Appelgryns is sosiaal en mal oor heerlike kos en ’n glasie wyn! Voordat Janine siek geword het, het sy nie gesukkel met haar gewig nie – sy het immers graag bergfiets gery en staptoere gedoen. Maar met 13 kg ekstra om die lyf was hierdie sosiale leefwyse en oefening ’n uitdaging. Om steeds by ’n dieet te hou terwyl manlief en die kinders aan wegneemkos smul, is die toppunt van versoeking! Deur die winter was verkoues ook vir Janine ’n hekkie om oor te kom. Sy is dankbaar vir Nativa se uitstekende aanvulling: “Die Immune Booster van Nativa werk regtig. Ek het nou al twee keer verkoue vrygespring deur twee hiervan drie maal per dag te drink as ek begin siek voel.” Met gereelde oefening en gesonder eetgewoontes het sy weer haar fikse, slanke lyf terug. Nou stap sy met opgewondenheid in die winkels wanneer sy besef dat haar ou nommer nou te groot is vir haar. “Dit is baie lekker as iemand sê dat ek soos die sussie in plaas van die ma lyk.”

Nuwe wyn

“Die program het ’n punt aan die einde van my sin van genesing gesit na ’n leeftyd se selftwyfel. Ek is ’n getuie van hoop.” Janine glo die kanker was waarlik ’n bestiering wat insig, lewenswysheid en ’n verbintenis aan God meegebring het en dat dit deel is van hoe Hy haar nuut maak. “Dit is ’n feit wat die Bybel sê: Nuwe wyn word nie in ou wynsakke geberg nie,” haal Janine aan. En hierna is haar wynsak behoorlik nuut. Haar doel is om vir ander kankerlyers te wys jou lewe kan aangaan na kanker. En dis alles net deur die genade van God. Janine voel sy het nou die beste van albei wêrelde: “Ek het die gemoed van ’n 21-jarige en die gemoedsrus en lewenservaring van wie en wat ek vandag is!”

DEEL
Vorige artikelons het 95 kg verloor!
Volgende artikelwerkende ma
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.