Je-Ani Swiegelaar: Wat ek geleer het…

362

NEGATIEWE MENSE SPOOR ONS…
juis aan om meer positief te wees. ’n Vriend het gekla oor sy kwaai ouma. Sy woorde sal my altyd bybly: “Juis oor haar gaan ek eendag die gelukkigste oumens wees wat daar is.”

DIE LEWE VERWAG VAN JOU…
om goed te wees vir jouself en goed te wees vir ander. Dis al. Waardes soos integriteit, lojaliteit, eerlikheid en respek is natuurlike uitvloeisels as jy op hierdie twee dinge fokus.

MAAK VREDE MET HOE DINGE…
nóú is. Omhels jou huidige omstandighede en kyk dieper. Daar is iets om daaruit te leer wat jou sterker en wyser gaan maak vir wat kom.

OMRING JOU MET MENSE…
wat jou dit gun om gelukkig te wees. Party mense gooi ons suksesse in ons gesig. “O, ek sien jou deesdae net op TV, ons kuier nie meer nie.” Dan wil ek vra: “So, wanneer nooi jy my vir koffie?”

VRIENDSKAPPE IS SOMS SOOS…
kledingstukke wat in ’n kas hang. Dié wat nie meer lekker pas nie, gaan beter pas by iemand anders. Om iets te hou wat nie meer goed is vir jou nie, maak net jou klerekas vol.

BENADER ELKE DAG…
met een doel voor oë: om in alles wat jy vandag aanpak, jou heel beste te gee. As ’n mens in die aand in jou bed kan lê en dit kan beaam, was dit ’n goeie dag.

DIE GROOT LIEFDE…
waarvoor jy dalk nog wag, sal kom. Om nie te weet hoe of wanneer dit gaan gebeur nie maar wel te weet dat dit op pad is, maak die lewe opwindend.

DIS GOED OM TE WEET…
dat die Here tevrede is met hoe Hy jou gemaak het. Ons het al die toerusting gekry wat nodig is om ons lewens voluit te leef. Gebruik dit.

Kyk ook: [VIDEO] Je-ani Swiegelaar: “Dit maak my bang”