Jenna Clifford deel haar kennis

0
245
jenna_clifford.jpg

Almal het al Jenna Clifford se besonderse ontwerpe gesien. Suid-Afrika se goue vrou van pragstuk-juweliersware deel ’n stukkie van haar hart, insig en kennis met ons.

Hierdie gunsteling-aanhaling motiveer my …

The more I practise, the luckier I get … Gary Player sê dit altyd. Ek was nie ’n akademiese reus op skool nie. Dit het my soms baie “klein” laat voel. Gelukkig het ek agtergekom dat ek wel in ander dinge goed is. Jy word egter nie ’n Springbok gebore nie, jy word ook nie een deur ’n uur per dag te oefen nie. Excellence is not born, it is developed.

Een van die dinge wat ek altyd sê, is …

Put mind over matter … Ons onderskat werklik die krag van positiewe denke. Die menslike brein is fenomenaal in dié sin dat dit ons optrede bepaal. Die persepsies wat ons oor die jare vorm, die dinge wat ons dink en glo, word mettertyd ons waarheid en realiteit. As jou kop reg is, word die onmoontlike vir jou moontlik. Dán kan jy enigiets bereik. Om gefokus te wees is belangrik

Om groot hoogtes te bereik, moet jy …

Jou oog op die bal hou. Hiermee bedoel ek jy moet visualiseer. Jy moet sién hoe jy jou doelwitte bereik en hoe jou planne realiseer. Om sukses te behaal moet jy meer tyd insit as ander om jou droom ’n werklikheid te maak. Jy moet jou droom elke dag eet, drink en slaap. Sukses is ook om jou eie ek opsy te skuif om sodoende ’n verskil in ander se lewens te maak.

Van wat ek bereik het, is ek die trotsste op …

Die afgelope twintig jaar se werk om vroue te bemagtig. Ek is bevoorreg dat ek die regering kon wys op die nadele van ’n monopolistiese patriargale sisteem. ’n Voël het twee vlerke nodig om te vlieg. Die wêreld sal eers sy volle potensiaal bereik wanneer vroue en mans gelyke geleenthede geniet. Margaret Thatcher het bewys vroue kan die wêreld met liefde en kennis regeer. En hou Angela Merkel dop, wat nou die oorlogsveld sonder ’n geweer betree.

Van die hardste lesse wat ek geleer het, is …

Om nie te gou te vertrou nie. Ek het dit vroeg in my lewe geleer. Stel eers ondersoek in. What you see is not always what you get. Omring jouself met mense wat dieselfde ideale as jy het. En as jy geld vir iemand leen, moet jy bereid wees om dit weg te gee of af te skryf. Moenie geld vir vriende leen as jy die vriendskap wil behou nie.

My advies aan jong vroue is …

Werk soos ’n besetene terwyl jy jonk is. Moenie te jonk trou of met ’n gesin begin nie. Met ouderdom kom wysheid – as ma het jy dit nodig. Lees, lees, lees! Kry vir jou ’n eksemplaar van Marianne Williamson se boek A return to love. Dit kom daarop neer dat ons almal kinders van God is, dat ons uniek geskep is, en verdien om met deernis en respek behandel te word.