Jenna-Leigh Bilong

0
852
  1. Wat is die belangrikste les wat die lewe jou geleer het?

Beslis dat ek nie vordering in die lewe maak afhangend van hoe wonderlik ek is of hoe baie ek kan doen nie, maar hoe meer ek myself aan my roeping en God se plan vir my lewe onderwerp hoe hoër vlieg ek. Ek het besef dat ek minder spartel en beter vorder, hoe meer ek by Sy voete sit.

  1. Hoe sal jy graag onthou wil word?

As die vrou wat onbeskaamd ʼn Koningskind was en haar identiteit in Christus bo alles uitgeleef het. Die pastoorsvrou, aanbiddingsleier, televisie nuusanker, radio-omroeper en skrywer moet beslis na dít kom! Ek wil nie onthou word as iemand wat haarself as “perfek” voorgehou het nie, maar iemand wat absoluut bewus was van hoe nodig sy God gehad het.

  1. Is daar ’n spesifieke Bybelvers waarvolgens jy leef? Wat is dit?

Johannes 10:35-36: “God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus “gode”, en wat daar geskrywe staan kan nie verander word nie. Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afsonderlik en na die wêreld toe gestuur is: “Jy praat godlasterlik”, omdat Ek gesê het: “Ek is die Seun van God”.

  1. Hoe het jy die struikelblokke in jou pad oorkom?

Geloof, gebed en geestelik leiding. Dit is die grootste sleutel tot hoe ek stééds struikelblokke oorkom. Daar is nog baie struikelblokke! Die ander belangrike aspek vir my is om ʼn goeie ondersteuningsnetwerk te hê. Dit help natuurlik dat ek ʼn man het wat baie wys en kalm is.

  1. Watter drie sleutelwoorde sal jy gebruik om jouself te beskryf?

Selfversekerd. Familie-georiënteerd. Passievol.

  1. Wat was die grootste uitdaging waarvoor jy nog te staan gekom het?

Die feit dat sommige mense, veral in die werkplek, glo dat die feit dat jy ʼn Christen is, jy nie jou stem mag lig oor rasisme, boelie-gedrag of enige onbevoegdheid of onregverdigheid nie. Dit bly vir my ʼn voortdurende uitdaging om te weet wanneer om iets verby te laat gaan of op te staan.

  1. Wie wil jy graag inspireer?

Mense vir wie iemand of hul omstandighede ʼn prentjie van hulself en hul toekoms probeer skep het wat sê dat hulle nie genoeg of bevoeg is nie. Ek hoop dat my getuienis vir ander van die sleutels tot hul eie persoonlike sukses sal gee.

  1. Hoe sal jy ’n wonderlike dag by die werk beskryf?

Dit is ʼn dag wanneer daar baie nuuswaardige gebeure is. Niks kan vergelyk met die adrenalien van regstreekse televisie nie. Veral wanneer ons reeds begin uitsaai het en die stories steeds ontvou. Dis mos nou nuus!

  1. Wat doen jy as jy nie met werk besig is nie?

Ek verstaan die belangrikheid en rol van rus in die proses van produktiwiteit al te goed. Ek skroom dus nie om vir myself ʼn dag in te ruim waar ek letterlik niks doen nie. Ek hou van slaap, so ek slaap gewoonlik baie laat op my rus-dag en ek en manlief kyk graag TV of hy tokkel op die kitaar en ons skryf liedjies saam.

  1. Watter dinge wil jy nog doen voor jy doodgaan?

Ek wil graag ʼn Gospel CD en DVD opneem.