Jennie Soden: verloor 18,3 kg

0
18
jennie.jpg

Mooiste bloeisel

Dit het alles begin toe haar man haar foto geneem het vir die inskrywings. “Verlepte ou vet blom. Met ’n bril ook nog,” het sy gedink en vinnig die stuur knoppie gedruk om die inskrywing te e-pos. Daar was ’n besef by Jennie dat dit tyd was om te verander, maar hoe sou sy dit regkry? Jennie het haar reis begin as ’n mismoedige en teruggetrokke vrou. Toe die uitdaging einde se kant toe begin staan, lyk Jennie amper tien jaar jonger en haar vel lyk jonk en versorg. Jennie is gaande oor Almay se fantastiese velsorgprodukte: “My vel lyk pragtig, al moet ek self so sê.” Iemand keer haar voor en vra of sy “’n mejuffrou of ’n mevrou” is. Sy antwoord: “Nee jong, ’n mevrou.” Dis tóé dat sy die motivering kry en dit waag om ’n nommer 10 te gaan aanpas. Sy kon haar oë nie glo toe dit regtig pas nie! 10 uit 10 vir Jennie. Sy lyk 10 jaar jonger en pas perfek in ’n nr. 10 – net betyds vir haar 10de huweliksherdenking. Die “ou vet blom” het eindelik plek gemaak vir ’n sprankelende bloeisel!  

Finesse-kapades

Met ’n sakeonderneming, twee klein kindertjies, ’n wederhelf wat baie weg werk en haar ’n nuwe jy verpligtinge, het dinge soms doller as dol gegaan. “Dit voel behoorlik of ek ’n afkophoender is wat rondhol op die trapmeul, in die strate en agter my kuikens aan.” Maar, dit was alles die moeite werd en sy het die vrugte gepluk. Sy het die reis gate uit geniet en verwys grappenderwys na die uitdagings as FINESSE-kapades. Jennie het altyd met hoofpyne gesukkel, maar Nativa se aanvullings het vinnig klaargespeel daarmee. “Ek drink die Hormonal Complex en dis ongelooflik. Ek is so kalm soos ’n konyn, al is dit daardie tyd van die maand. Ek het ook geen kopseer nie. Wow!” Sy dink terug aan die taai tye en hoe die deelnemers hulle lot op Facebook teenoor mekaar bekla het met stellings soos: “Ek is honger!” Ander kere het dit weer beter gegaan en die moedige dames het mekaar met woorde van geloof en hoop aangespoor.  

Kosswakhede

’n Koffieverslaafde – dis hoe sy haarself beskryf het. Die ou Jennie was bekommerd oor hoe sy sonder haar koffie sou oorleef. Gaan sy dan nie vreeslik afgeskeep voel nie? Nou besef sy hoe haalbaar dit eintlik was. Gelukkig kan sy steeds op haar Weigh-Less-eetprogram koffie drink. Die sleutel is net minder koppies per dag en sonder kafeïen, natuurlik. Ook versnaperings was vir haar ’n groot uitdaging omdat sy daaraan gewoond was om aanmekaar te kou – sommer aan enigiets. Jennie het bewys dat sy selfs dít kon oorkom en het besluit op ’n gesonde bederfie vir wanneer die hunkering na snoepkos haar oorval. Deesdae vat sy af en toe ’n teelepel grondboontjiebotter om stadig aan te eet. Dit bevredig haar knibbellus. ’n Waardevolle les wat sy geleer het, is dat jy nie die dinge wat jy geniet, heeltemal hoef prys te gee nie. Dit gaan bloot daaroor om beter keuses te maak en matigheid voor oë te hou.  

Nuutgemaak

Jennie onthou die wegspringpunt van hierdie wedloop en bieg dat dit tóé vir haar moeilik was om opreg te kon sê dat sy regtig gelukkig is. Nou borrel die dankbaarheid en blydskap uit haar binneste. Dis eers nóú dat sy besef dis nie ’n sonde om gelukkig te wees nie. “Dis ’n ongelooflike groot seën en ’n voorreg.” Hierdie program was ’n bestiering van Bo, sê Jennie. “Want God se tydsberekening is immers perfek.” Die proses het haar stoutste verwagtings oortref. “Min het ek toe geweet hoe hierdie reis my sou nuut maak. Van binne en buite sou heelmaak. Ek het geleer: God se liefde is genoeg vir my. Milanie Vosloo skryf: ‘God het jou nie lief omdat jy mooi is nie, jy is mooi omdat Hy jou liefhet’!”

DEEL
Vorige artikelons het 95 kg verloor!
Volgende artikelwerkende ma
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.