Jipppeeee! Uiteindelik ʼn Blaaskans

0
91
amore_bekker.jpg

Amore Bekker: Jy hoef my regtig nie twee keer na ʼn retreat te nooi nie… wie sal daarvoor kan nee sê?

Vier dae in ʼn retreat by Hartebeesportdam… hemels, dink ek op pad daarheen. Ek gaan so stil as moontlik moet wees. Sjjjjjtttt.

Gedurende gebed praat jy met God en wanneer jy stil word, praat God met jou. Die doel van stil word, is om in die oomblik te leef, want die verlede bestaan nie meer nie, en die toekoms is nog nie daar nie, so al wat jy het, is nou. En as jy stil word, hoor jy wonderbaarlike goed.

Eerste oggend is ons vroeg op en sit ʼn halfuur lekker gemaklik toe oë toe. Dan moet ons rustig en stadig begin asemhaal. In. Uit. Die geheim is dat jy aan niks moet dink nie en net op jou asemhaling moet konsentreer. Dit is nag. Al waaraan ek kan dink is my rekeninge wat ek nog moet betaal en ʼn boete wat iewers in ʼn laai lê. Hoekom ek nou juis daaraan dink, weet ek nie…

Ek raak verskriklik honger, en dit net van stilsit. En ek konsentreer so hard daarop om aan niks te dink nie, dat ek aan alles dink! So gaan ons deur die hele dag, niks praat, niks dink, niks drink… darem ietsie eet, maar dit ook in stilte.

Na afloop van die eerste dag voel ek toe so rein en skoon dat ek dadelik dorp toe is om vir my ʼn skindertydskrif en twee Lotto-kaartjies te koop! Goed wat ek gewoonlik nie koop nie, maar ek wou net weer eensklaps deel wees van die samelewing. Die stil word was net te skielik!

Terug retreat toe, sluit my op, verorber die tydskrif, voel beter en gaan terug om rustig asem te haal. In. Uit.

Om van die kriewelrigheid in my ontslae te raak, loop betaal ek op die derde dag my rekeninge vroegoggend elektronies by ʼn internetkafee. Hol gou in by die naaste apteek en kry rescue remedy om my rustiger te maak.

Weer aan’t stil word met rekeninge betaal en kruiedruppels op die tong, kom dit toe! ’n Brander van trane en nogmaals trane, dis ʼn geween en ʼn gekners van tande! Ek besluit toe hier is my kans, wat uit moet uit, ek kan hoeka nie sonder ʼn gehoor tjank nie.

Stilword werk blykbaar soos stilstaande water, as water beweeg is dit troebel dan kan jy nie veel onder die oppervlak sien nie, maar as dit stil is, is dit helder, dan kan jy sien. So kom onverwerkte pyn na die oppervlak. Jy kan maar net huil, jy hoef nie noodwendig te weet hoekom nie. Die liggaam het sy eie manier om jou te heel.

Die Rooi Indiane in Noord-Amerika glo dat ʼn kind wat nie kan stilsit nie, ’n halwe kind is. Wel, daai boot het ek gemis, maar ek wil nie ’n halwe grootmens ook wees nie!

Ek het toe nooit die stilword-tegniek onder die knie gekry nie, maar ek glo tog sulke dinge neem tyd, en dat jy nie iets moet forseer nie. Ek het ʼn boek begin lees van Tich Nhat Hanh getiteld You are here en daarin noem hy dat jy soggens as jy wakker word, vir vyf minute lank net moet stil word voordat jy opstaan. Lê op jou rug, asem in en sê: “Ek asem nou in.” Asem dan uit en sê: “Ek asem nou uit.” Dit lei tot mindfulness – “indagtigheid” – wat jou help om in die oomblik te leef.

Dit klink vir my meer haalbaar, vyf minute op ʼn keer, en hopelik help dit my om my lewe net ʼn minuut op ʼn slag te absorbeer, niks meer nie

NS: Ek het toe nooit die lotto gewen nie.