Jo-Ann Strauss bly só ’n mooi ma

0
13
Jo_Ann_Strauss.jpg

Glanspersoonlikheid Jo-Ann Strauss mag dalk media-sku wees noudat sy pas ma geword het, maar sy deel tog haar skoonheidsroetine met ons.

Ek dra baie hoede. Aanbieder, seremoniemeester en model. Eggenoot, dogter en ma. Met ’n vol kalender by die werk en huis is spoed en doeltreffendheid vir my belangrik. Dit geld ook om my voorkoms in stand te hou. Hier is my dagbeplanning vir skoonheid – dalk werk dit ook vir jou.

Daagliks – hou dit eenvoudig

My skoonheidsroetine is eenvoudig. Ek gebruik oorwegend bekostigbare mooimaakgoed met die uitsondering van Avene, ’n seeplose Franse gesigreiniger. Ek koop dit in groot maat wanneer ek reis omdat dit nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie. Dit volg ek op met Pond’s of Oil of Olay – al jare lank my gunstelinge vir ’n dagroom met SBF. Wat my hare betref, ek het eintlik kurktrekkerlokke en ek dra dit so as ek nie voor die kameras is nie. Ek was dit elke tweede dag en los gewoonlik Sunsilk-opknapper daarin om my hare glansend te hou. Dit is nie nodig vir daardie spesiale opknappingsmiddels wat ’n mens nie hoef uit te spoel nie. ’n Gewone opknapper werk ewe goed as ’n haarbehandeling en stileerroom in een.

Weekliks – tyd vir instandhouding

Om my hande mooi te hou, doen ek meestal self ’n manikuur. Ek hou my naels mediumlengte. My naelbed is lank, so my naels vertoon langer as wat hulle is. Om dié rede hou ek van Sally Hansen-naelsorg. Ek vind die langer lengte van hulle naellak se kwaspunte is perfek wanneer jy ’n kleurlagie met net een haal wil aanverf. Ek wend elke tweede dag nog ’n laag deursigtige naellak aan sodat die kleur nie afdop nie. Verder moet jy so goed moontlik na die naelriempies rondom die naels kyk deur handeroom aan te smeer. Handeroom is veral belangrik omdat jou hande jou ouderdom verklap. Aan die einde van die week haal ek al die naellak af en gee my naels ’n ruskansie.

Wanneer benodig – voorkom letsels

My ma het die mooiste vel ooit en ek is so geseënd om haar dogter te wees. Sy het my geleer hoe belangrik sonskerm is, ek is feitlik fanaties daaroor. Selfs al het ek sonbeskerming in my vogroom, vul ek dit sommer aan met nog sonroom as ek buite gaan wees. My ma was ook nog altyd onwrikbaar in haar geloof in Bio-Oil. Ek kry ongelukkig maklik seerplekkies of blou kolle, so, ek volg beslis haar voorbeeld hier. Jy sal my gedurig vind olie aansmeer om littekens te verhoed. Ek dra ook permanent ’n botteltjie Arnica-olie in my handsak om blou kolle gouer te laat verdwyn.

Geskryf deur Ryno Mulder